{ARGIEF}

‘n Kollega vertel hoe hy sukkel om effektief af te vat. Dis nie ‘n nuwe storie nie. Dis alle geestelike leiers se storie.

Maar daar is ‘n verskil tussen ‘n dag of tydjie af hê waarin jy net rus, en hoe om jouself te verruim met nuwe energie en drome en passie.

As jy net die dinge doen wat jou help om jou moegheid te oorwin, is dit nog nie genoeg nie. Jy begin net weer waar jy gister was, en die week voor dit… Kort voor lank kruip daar ‘n anderste moegheid in jou wat jy nie oorwin kry met afvat nie. Dis die moegheid wat in jou siel en gees kom lê. By sommige wys dit die eerste in geïrriteerdheid, by ander in uitstel, by nog ander in minder liefde en gevoel en ‘n taakgerigtheid.

Om vervullend en verruim te leef, moet jy hierdie jaar vir jou tye inbou waarin jy jou pas, jou plek, jou posisie, jou plan en jou passie verander. Doen wat jóú gaan laat voel soos ‘n nuwe mens. Verander jou pas deur iets heel anders te beleef. Verander jou roetine sodat jy op ‘n ander manier leef. Verander jou plek deur op ‘n ander plek stiltetyd te hou en in jou joernaal te skryf. Verander jou posisie deur te kies om vanjaar sekere verwagtings nie te doen nie.  Sê jy sal dit in die volgende fase weer doen, maar vanjaar gaan jy dit of dat doen. Hou op om sekere dinge te doen.Trek jou grense ‘n slag duidelik. En as jy iemand teleurstel? Soos Bill Hybels eendag sê: Daar is so ‘n lang ry mense wat hy deur die jare teleurgestel het, dié persoon moet maar agter inval. Verander jou plan deur op die Here te wag en te luister… en in Jesus tree vir tree op die water te loop.

Verander jou passie. Ons het nie net een passie nie. Ons het ‘n portfolio van die goed. Dis vanjaar ‘n ander passie se beurt. Doen wat jy nog altyd wou doen, maar net bly uitstel vir eendag as die tyd ryp is. Vra jouself: En wat volgende? Doen dan net daardie een ding. Wat van Stephen Covey se “Begin with the end in mind”? Die “end in mind” is om weer passie vir Jesus op te vlam. Doen wat ook al jou passie sal nuut maak – woon VBO by, gaan bly vir ‘n week tussen armes, vas vir ‘n week, bid elke nag tussen 3 en 4…

Die punt is: veg vir jouself! Selfleierskap was nog altyd die kern van leierskap. Daarom het Jesus gereeld uit die skares onttrek om te bid.