{ARGIEF}

Uitstekende leiers het daardie ekstra “iets”. Hulle gee die vlam wat
die kreatiewe vure laat opvlam, die passie witwarm maak, die energie
laat borrel. Hulle steek hulle kollegas, vriende, mense vir wie hulle
verantwoordelik is, sommer die hele samelewing aan die brand vir ‘n
betekenisvolle saak.

Fotograaf: Wayne
Fotograaf: Wayne

Ek
het die afgelope week weer die krag van die Suidoos gemeng met ‘n vlam
ervaar. Terwyl ek teen die berg in Gordonsbaai met ‘n tuinslang probeer
om die vlammetsunami te help keer, was ek tegelyk beangs en beïndruk.
Bang dat ek verswelg gaan word soos die fynbos in die meedoënlose pad
van die wegholbrand. Beïndruk met die indrukwekkende krag en energie
van vuur. Ek het bitter klein gevoel. En passievol gesmeek dat die Here
hier iets moet doen wat ons dorp sal red.

Daar is nogal ‘n verskil tussen die brandende bos wat Moses se
aandag getrek het, en hierdie vuurmassa. Of is daar? Drie huise
afgebrand en baie skade aan ander asook aan die berg en veld, kan ‘n
mens nogal dink die twee is nie verwant nie. Tog het beide leierskap na
vore gebring wat ‘n gemeenskap moes help red. Gewone mense het leiding
geneem en ander gehelp om huise te ontruim, om vlamme te smoor, om te
bid. Hierdie vuur het ‘n hele gemeenskap en wyer se aandag getrek. En
dit in ‘n gemeente wat ‘n maand gelede besluit het ons wil die vlak van
geestelike verdieping een graad lig – tot kookpunt. Die strategie vir
2009:

Vat Vlam!

In een moment is ‘n hele gemeenskap saamgesnoer. Ek kan net bid dat
vuur van ‘n ontmoeting met die Gees ook in die leierskap van ons dorp
en land sal vlamvat. Ja, dis ongemaklik, soms pynlik, en dikwels bly
strukture en sisteme in die slag. Maar dit het daardie “iets” wat ons
dringend kort!