Die Tafel

Written by Manus Olivier on . Posted in Begelei mekaar, Blogs-Communitas

Die Tafel,
Dis nie sommer enige tafel nie, dis ʼn kombuistafel. Die tafel staan ook nie op enige plek nie, maar in ouma se kombuis op Theunissen. Dis so ʼn groen geverfde kombuis, met blink emalje, soos die oumense se kombuise gewoonlik geverf was. In die hoek staan die groen koolstoof, en net langsaan, so asof hulle hande vat, maar tog ver genoeg in jare verwyderd van mekaar, die nuwe blinke Defy elektriese stoof.

Ouma kook op altwee van vroegoggend, sommer vir lank, want die pap moet ten minste twee en ‘n half ure kook, en die boontjies? Dié sommer van voor ses tot kort duskant aandete. In die koolstoof is ouma se bekende brood besig om stadig, al rysende te bak en die geur daarvan oortref enige ander geur, maar veral die hongerpyn van iemand wat hol tot by sy tone is. Die snye lê sommer ʼn hele bord vol. Met ouma se konfyt by, bobaas lekker.

Na ontbyt, dan word die tafel omskep in ʼn plek waar ouma haar koekiedeeg uitrol, en saam probeer ons ouma help terwyl sy met grootse geduld en liefde ons reghelp. Middagtyd is die brood darem al reg, maar as dit nog warm is, vergeet daarvan, want dit gaan jou maagpyn gee, sê ouma. Dan eet ons maar nog aan die vorige dag se baksel, terwyl die lus amper op die grond hang, aangesien die vars brood net oorkant op die kas onder die plaasbotter kreun van lekkerte en so aanloklik lyk.

Dan kom die beste deel, wanneer ouma vir ons plek maak om die tafel te gebruik vir die tafeltennis, waar ons net vanoggend sommer so twee spane en ʼn net met twee balletjies by die plaaslike Portugese algemene handelaar gekoop het. Terwyl aandete nog rustig voortprut, nou net op die koolstoof, speel ons kleinkinders tafeltennis en oupa en ouma loop maar draaie om ons om vir ons ruimte te maak. Dan as jy te ver terug staan, brand ouma se pot jou sommer wanneer jy net dink dis nou die wenhou, maar o weë, die pot brand jou so dat jou hou die balletjie doer oor oupa se kop laat trek.

As ons weer sien is die middag verby, dan moet ons tafel dek, want sien, oupa eet net na vyf, so was die gewoonte al die jare. Om die tafel kom ons almal byeen, hoe weet ek nie, want sien ek het daai ou tafel nou in my besit, en ek alleen pas skaars om die tafel. Tog, die herinnering, van nie net daar eet nie, maar ʼn tafel wat elke keer wanneer ek dit sien my herinner aan liefde, omgee, deernis, riglyne vir die lewe en ook voeding, nie net vir die maag nie, maar ook vir die siel met aandgodsdiens.

Sien, die tafel het nie net ons as kleinkinders rigting en liefde in die lewe gegee nie, maar dit was die tafel wat ook ses ander kinders grootgemaak het, om standvastig ook vir hulle kinders (vir ons, die kleinkinders) te sorg, liggaamlik en ook geestelik.

Omgee van een geslag na die volgende. Alles begin by ʼn tafel, ʼn kombuistafel en ons, ons as gemeente wil die kombuistafel weer in sy ereplek herstel, waar gekuier word – die hart gebaar word, raad gegee word, maar bo alles waar daar geluister word, en omgee en liefde, vanweë God se genade, gratis deur liefdevolle omgee ouers uitgegee word.

Dit alles word altyd begin deur ʼn ander tafel, dié Genadetafel wat God vir ons laat dek het deur Sy Seun se liggaam aan die kruis!

Dis dié Nagmaalstafel.

Trackback from your site.

Manus Olivier

My passie is om mense te help om te ontdek wie God hulle gemaak het om te wees.

Leave a comment