{ARGIEF}

Ons immorele landskap laatmens baie  dink oor hoe en waar ons moet begin regmaak, veral oor wat gedoen kan word. Die Noord Amerikaanse etikus, Stanley Hauerwas stel voor dat ons stories vertel. Hy meen ons het stories nodig om te verstaan wie ons is, waartoe ons geroep word, juis omdat stories volgens hom koherensie aan ons lewe gee, dit die plan van ons lewe organiseer. Hy is oortuig dat stories die potensiaal het om ons te transformeer. En die storie waarvan Hauerwas praat, is die storie van die Bybel. MAW – die storie van God se handeling met Israel, in Jesus en met die Kerk.

Hy meen ons karakter as Christene word daardeur gevorm. Daarom is dit nie eers snaaks dat Jesus se preekstyl soms die van storievertel was nie. Ek dink maar net aan die preek/of storie van die Barmhartige Samaritaan – Hier word die leser blootgestel aan storievertel:

–          ’n Storie wat gaan oor geloofsverskille – oor geweld – naastediens, oor barmhartigheid, gasvryheid en morele verantwoordelikheid – Lukas Hstk. 10:30 -37 verhaal die storie  – ’n man was vanaf Jerusalem opppad na Jerigo. Hy word deur rowers oorval en half dood gelaat. ’n Priester en ’n Leviet wat daar langs moes gaan, het, toe hulle die man sien, ver langs verby gegaan.

–          ‘n Derde man, ’n reisiger, ‘n Samaritaan het, toe hy die beseerde man sien, hom innig jammer gekry, sy wonde verbind, hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg geneem. Hy het die onkoste betaal en was bereid om enige verdere onkostes te dra.

Hartroerend, maar ook hartonstellend, bewonderingswaardig, maar ook teleurstellend. So word die leser se eie emosies losgewikkel, sy eie waardestelsel beoordeel, sy eie morele ingesteldheid ondersoek. En dit is hoe stories meewerk in die opbou van ons moraliteit wat noual vir baie lank onder verdenking is.

Stories help om ons karakter te vorm, ons moreel te oriënteer. Stories beweeg en transformeer ons om te word soos die storie. Jesus beveel die wetgeleerde om heen te gaan en NET SO TE GAAN DOEN. Maar Jesus daag ook vir ons uit – gaan en doen jy net so.

Hauerwas herinner ons nie net aan die transformerende krag van stories nie, maar help ons onthou dat die Christen-geloofsgemeenskap eintlik ’n storie-gemeenskap is – ons die opdrag en verantwoordelikheid het om die storie  – die storie dat God, Jesus na die wêreld gestuur het om te red, en te verlos – dat ons die storie deur ons geloofs-en-morele lewe oor en oor moet vertel – so oor-vertel, dat ander ook die storie sal liefkry en daarvolgens sal leef.

Gebed: Here vorm ons deur U storie van liefde, genade en vergifnis. Amen.

Donald Katts