{ARGIEF}

Die feit dat Suid-Afrikaners ’n sportnasie is, is weer bevestig met die oproep van Danny Jordaan aan alle Suid Afrikaners om geel te as simbool vir ons ondersteuning van Bafana Bafana se deelname aan die Wêreldbeker-sokekrtoernooi volgende jaar. Ek stem. Dit is ’n goeie idee vir spanbou en geesbou. Ek dink dit kan ook die bou van gemeenskap en gemeenskaplikheid en selfs nasiebou tot gevolg hê.

Die bou van gemeenskap (koinonia), met ander woorde die sorgdra van gesonde onderlinge verhoudinge, die uitleef van waardes soos eerlikheid, toewyding en respek, die nastreef van hulpverlening, trou, menswaardige behandeling en nasietrots, en dan ook om positief, humoristies en nederig te wees, is wat ons nodig het. Dit spel vir my ja gemeenskapsbou. Dit spel vir my geel. Dit spel vir my saamspeel en saamleef.  Dit alles  is op die spel gedurende die groot wêreldbeker- sokkertoernooi. Maar dit is ook waaroor ons lewe as Suid Afrikaners gaan. Dit is waaroor ons lewe-in-gemeenskap gaan.

Om te leef veronderstel gemeenskap, en gemeenskap impliseer die bestaan van ander, die leef met ander. Uit ons geskiedenis het ons jammerlik geleer hoe om gemeenskap te vermy en veral hoe gemeenskap nie behoort te lyk nie. Hopelik weet ons nou ’n bietjie meer hoe gemeenskap werklik lyk en hoe om hierdie gebrek aan gemeenskap te herstel en in te kleur. In die konteks van verhoudinge en gemeenskap verwys geel gewoonlik na jaloesie (meer negatief). Heg ons aan geel egter ’n positiewe konnotasie en sê ons met die dra van geel dat ons jaloers waak oor ons onderlinge verhoudinge, jaloers waak oor die waardes wat gemeenskap verryk en gemeenskaplikheid bevorder, jaloers waak oor die behoud van ons saamleef-en-saamspeel, dan kry Jordaan se oproep vir die dra van geel ’n besliste ja. Dan staan geel vir meer as net ons ondersteuning van ons nasionale sokkerspan. Geel het dan die betekenis van saambou en saamleef, die betekenis van goeddoen en saam laste dra. Op ’n persoonlike vlak sê ons ons wil met die ander wees, verkoop ons die filosofie van ek-wil-by-jou-staan en openbaar ons ons begeerte vir eensgesindheid, vir nasie-wees en saamstaan.

Soos ’n seegloed van geel ons spelers kan inspireer, so kan geel as gemene kleur bydra tot die skep van gemeenskap en nasiebou. Die inkoop in die dra van geel het die potensiaal om die gees, gesindheid en ingesteldheid van Suid-Afrikaners ’n hupstoot in die rigting van menslikheid, versoening, eenheid en samehorigheid te gee. Dit kan ’n kragtige middel en selfs manier wees om mense aan te moedig om om te gee en sorgsaamheid aan die dag te lê. Amper soos die Emmausgangers (Luk.24:13 – 35), toe Jesus gemaak het asof Hy verder wou gaan, by Hom daarop aangedring  het om by hulle te bly, aangesien dit amper aand was. Hier toon hulle hul verlange om gemeenskap met Jesus te hê, besorgdheid en omgee, die begeerte om saam te wees. Die dra van geel, dink ek, kan dit vir ons doen, of ten minste kan ons met die dra van ons geel, vir mekaar en die wêreld sê: Ek is ondersteunend, toegewy, menslik en hulpvaardig. Met die dra van my geel wil ek sê ek steun Bafana Bafana, maar ook die reg op lewe, nasiebou, nasietrots en gemeenskap.

Dr. Donald Katts