{ARGIEF}

In die woorde van Willem van Schalkwyk,  “I need to learn honesty.  I need to speak truthfully.  I need to back up my words with actions so that they will not become lies.  I need to stop interpreting the truth until it has lost any resemblance it has of its former self.  I need to act without fear of discovery and speak without fear of correction, because what I say and do is honest.  I need to be honest so that we can trust each other.” Wanneer wat julle sê en wat julle doen in lyn is en julle met eerlikheid en integriteit optree, maak julle dit vir ons makliker om julle te vertrou om ook met integriteit op te tree.  Ons weet wanneer onderwysers se praat en doen nie in lyn is nie, so as julle dit nie leef nie, moet asseblief nie Maandae tydens saalopening vir ons ‘n morele lessie gee nie. Ons kyk verby die mooi woorde na wie julle is en wat julle in die skool doen en weet wanneer julle soos baie ander leiers,   een ding preek en die teenoorgestelde leef.  Dit maak ons net sinies en kwaad.

Moet ons nie leer om te kroek in die skrum om die wedstryd te wen nie, dit maak dit net soveel makliker om ook oneerlik te wees in ‘n toets en dit is nie hoe mens die groot wedstryde in die lewe wen nie.  Me die minister,  tree hard op teen korrupte amptenare van ‘n Onderwysdepartement wat vir hulself ongemagtigde bonuses van 25 miljoen Rand laat uitbetaal en daar dan nie geld is vir busse om leerders te vervoer nie. Dit is moeilik om in ‘n korrupte sisteem eerlikheid en integriteit as waarde te vestig!

Selfdissipline /werksetiek/uitmuntendheid :  Ons beleef nie meer die slaagverseistes as ‘n uitdaging nie en dit maak dat baie van ons net die minimum doen, omdat ons weet dat ons tog sal slaag.  Dit maak ‘n grap van ons matrieksertifikaat asook van werksetiek,  verantwoordelikheid en selfdissipine.   Ons is die toekomstige dokters, ingenieurs en vliegtuigwerktuigkundiges en as ons wegkom met middelmatigheid gaan brue eendag inmekaarval, pasiënte dalk nie wakker word na operasies nie en vliegtuie dalk nie in die lug bly nie! Moet  nie leerders wat glad nie aan die slaagvereistes voldoen, eenvoudig aanskuif na die volgende graad, omdat hulle nie meer as een keer in ‘n fase mag druip nie.  En waarom is daar so min goed opgeleide onderwysers in skole wat leerders met leerprobleme kan help, want ‘n leerprobleem wat nie gou reggestel word nie, word ‘n gedragsprobleem.  Mens moet mos darem ander se aandag aflei van die feit dat jy sukkel om te lees of te reken!

In 5 Minds of the Future skryf Gardner: “Those who do not have a discipline as well as a sense of discipline, either will be without work or will work for someone who does have a discipline.”  Ons wil nie graag eendag sonder werk sit nie, so  help ons deur kwaliteit onderrig om in die skool te begin om ‘n dissipline suksesvol te bemeester en skep ‘n kultuur van uitmuntendheid in ons skole, sodat die  dissipline  van ‘n gesonde werksetiek deel sal word van ons. Ons wil nie Minnie muis onderrig kry en dan nie kan kompeteer met studente van ander lande nie.  Sonder selfdissipline en harde werk kan ons nie ons potensiaal realiseer nie en ons het julle nodig om ons uit te daag, aan te moedig en te ondersteun.

Respek is ‘n kernwaarde van enige morele samelewing en die basis van goeie maniere en vreedsame saambestaan. Dit behels agting vir die inherente waarde van jouself, ander mense en alle vorme van lewe en is nie net teenwoordig by alledaagse hoflikheid  nie, maar is ook een van die onderliggende waardes van ‘n demokrasie.  Ongelukkig is daar ‘n spiraal van disrespek in ons land en in ons skole wat dit vir julle moeilik maak om te onderrig en vir ons moeilik maak om te leer.   Respek is die kern van die Goue reel: Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil he, en word vasgele wanneer mense met selfrespek mekaar konsekwent respekvol  behandel.

Ons selfrespek word gekneus wanneer onderwysers ons voor ander leerders of selfs voor die hele skool afkraak.  Min mense weet hoe dikwels ons deur medeleerders geboelie word en hoe portuurgroepwreedheid ons seermaak, waar niemand dit kan sien nie.    Respek kan as vertrekpunt vir skoolreels geneem word,  soos bv. dat geen vorm van boelie of portuurgroepwreedheid toegelaat word nie,  dat niemand mishandel, verneder of gemanipuleer mag word nie en dat alle geboue, meubels en apparaat met respek behandel moet word.  Maar reels beteken niks as daar nie konsekwensies is vir die verbreking van die reels nie.  As respek as kernwaarde in skole gevestig kan word sal rassisme, seksisme en  ander vorme van diskriminasie verminder en sal geweld in skole en die samelewing afneem, sodat minder prefekte en polisie nodig sal wees. Skole sal dan vir ons en vir julle aangenamer plekke wees.

Ons moet leer om self verantwoordelikheid vir ons eie studies te aanvaar, want dit is tog ons wat matriek moet slaag en dan die verantwoordelikheid van ‘n werk of verdere studie moet kan dra.  Volgens navorsing onder werkgewers  is verantwoordelikheid ongelukkig een van die karaktereienskappe wat by baie skoolverlaters afwesig is.  Ons moet leer om self “antwoord te gee,” om betroubaar te wees, want sonder verantwoordelikheid kan ons nie werklik volwasse word nie. “The only way a person learns accountability is to hold them accountable for their actions.” (Faye Kabili-Kagwa.)  So moet nie ons flou verskonings vir power werk aanvaar nie, hou by spertye vir take en maak ons mede-verantwoordelik vir die goeie funksionereing van ons skool.  Ons is sterk op ons regte, maar nie altyd so sterk met die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan nie.

“Hoe kry mens kinders om by die skool en die huis die waardes te leef?  Een ding wat jy kan doen is om dit lekker te maak vir die kinders om dit te doen.” (Arin Barry).  Waardes word nie gevestig deur vaal, vervelige, vierkantige onderwysers vir ons preek en nie belangstel om ons te ken en nie vir ons omgee, of respekteer nie, nie verantwoordelikheid van ons verwag en ons nie ondersteun en uitdaag om ons beste te gee nie.  Gelukkig is sulke onderwysers in die minderheid en aan die ander wil ons graag sê:  Baie dankie, dat julle van die belangrikste mense is wat kernwaardes in ons lewens inbou. Ons salueer julle!

Groete en sterkte vir die jaar

Leerders

Die brief is ‘n opsomming van die kerngedagtes uit 167  waardesopstelle deur leerders wat deelgeneem het aan van die kompetisie van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die Universiteit van Stellenbosch in 2009 vir graad sewe en twaalf leerders.  Die graad sewes se opdrag was: Jy is die prinsipaal van jou skool.  Skryf ‘n opstel oor hoe jy positiewe  waardes by die leerders van die skool sal vestig.   Die graad twaalf leerders moes die vyf belangrikste waardes kies wat jong mense deel van hul lewens behoort te maak en verduidelik hoe ouers, onderwysers en die regering hulle daarmee kan help.  Die insette van die vyftig jeugleiers wat in 2008 die Burger se vyftigste Jeugleierskonferensie bygewoon het, asook die  sewentig jeugleiers wat in 2009 die SAOU se jeugleierskursus in Natal bygewoon het,  is ook hier verwerk.

Bronne:

5 Minds of the Future Howard Gardner

Wenopstelle oor waardes/ Best Essays on values Samestellers:  Jeanette de Klerk-Luttig en Chris Jones