{ARGIEF}

Sondag Aktueel ~ RSG

 1(A): Waar, wanneer en deur wie word morele waardes gevestig?

Die aanleer van persoonlike waardes werk die beste wanneer ouers van so vroeg as moontlik, en natuurlik voortdurend, hulle kinders met waardes help, hulle daaroor inlig, en goeie voorbeelde hieroor vir hulle stel.

 As ouers dit nie doen nie, word kinders groot met die oortuiging dat waardes nie belangrik is nie. Kinders gaan waarskynlik, soos wat hulle groter word, hulle eie stel waardes ontwikkel. Maar hulle gáán waardes ontwikkel, want hulle ouers het vir hulle gewys dat dit ‘n belangrike deel van enige mens se mondering is.

 Jy vra waar waardes aangeleer moet word? Die aankweek van waardes móét binne die mure van die ouerhuis begin – nie in die skool of kerk nie. Ouers het in elk geval ‘n goeie ses jaar voorsprong bo die skool.

Ongelukkig tree sommige ouers, wat waardes betref, soos hoofkontrakteurs op wat ‘n klomp werk aan subkontrakteurs uitgee. Ouers verwag van subkontrakteurs soos die skool, die kerk, die geestelike leier en die sportafrigter om hul kind se waardesisteem te bou. Maar dít werk gewoonlik nie baie goed nie. Natuurlik kan hierdie subkontrakteurs ‘n belangrike ondersteunende bydrae lewer, maar waardes word primêr deur jou as ouer vasgelê.

Ons “voorbeeld” is baie belangrik. Nie net wat ouers betref nie, maar ook breër beskou. Ons soek rolmodelle in ons samelewing. Mense wat waardes modelleer of beliggaam. Jy weet, ons kan eintlik nie waardes afdwing op mense nie. Ons beskik dus nie oor afdwingende mag nie. Ons mag lê egter in ons voorbeeld.

Ralph Waldo Emerson sê dit so mooi: “Wie julle ís, moet so hard praat dat dit nie nodig is om te hoor wat julle sê nie!”

(1b): Hoe lyk gesonde waardes?

 Gesonde waardes is voordelig vir die persoon wat dit beoefen sowel as vir die persoon teenoor wie dit beoefen word. Dit verbeter die welstand van ander of dit voorkom leed – of doen beide. Gesonde waardes het die vermoë om te vermenigvuldig, selfs al word dit weggegee. Hoe hulpvaardiger kinders bv is, hoe meer komplimente ontvang hulle en hoe makliker gaan hulle daarmee voort. Dit ontwikkel en neem toe soos wat dit beoefen word. Die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar.

Só baie in die wêreld vandag het te doen met die vraag, Wat kan ek hieruit kry? Gesonde waardes, daarteenoor, gaan oor wie jy is en wat jy gee. Dit is wie ons is en wat ons gee, eerder as wat ons besit – waarmee ons ry, waar ons bly en wat ons kry – wat ons diepste karakter bepaal.

Vraag 2: Hoekom is waardes so belangrik? Is daar ‘n voorbeeld uit die geskiedenis waar dit regtig ‘n gemeenskap verander het?

Waardes genees! Verder sê Richard en Linda Eyre in ‘n boek van hulle dat waardes, veral kinders, se geluk verseker. Dit gee sin en betekenis. Dit maak mense suksesvol, sê Rick Warren. Maar die heel belangrikste – dit genees!

Jy vra na ‘n voorbeeld uit die geskiedenis. Daar is ‘n fantastiese verhaal. En in Suid-Afrika kan ons baie hieruit leer!  

Dit handel oor die Ierse gemeenskap in die vroeë 19de eeu in New York.  

Tienduisende Ierse immigrante het as ‘n verlore gemeenskap in hierdie Amerikaanse stad gebly. Arm en ongeletterd. En verder het hulle hulself vernietig met hul drinkgewoontes – hulle het by onwettige bedrywighede betrokke geraak. Misdaad, veral geweldsmisdaad, het baie van hulle se lewe gekenmerk.  

Tog, binne één generasie, het die seuns van kriminele, goeie polisiemanne geword, en die dogters van ongeletterde vroue het hulle as onderwyseresse bekwaam.  

William Stern skryf dat dít nié teweeggebring is deur werkskepping en maatskaplike strukture en stelsels nie – alhoewel die belangrikheid hiervan vir ons eie konteks nie ontken kan word nie – maar deur ‘n revolusie in waardes!  

Die held van hierdie verhaal was John Joseph Hughes – die eerste Katolieke aartsbiskop van New York. Hy het Katolieke skole begin waar kinders nie net geleer is om te lees, te skryf en somme te maak nie, maar waar ‘n geloofsgebaseerde waardesisteem, wat respek vir onderwysers en mede-studente bevorder, ingestel is. Ouers moes vergaderings met onderwysers bywoon, met herstelwerk in die skole help en selfs skole help opruim wanneer dit nodig was.   

Daar is erg op hierdie Ierse gemeenskap neergesien. Hulle was geëtiketteer as dom. ‘n Klomp mense het in een huis gewoon. Daar was baie siektes en sterftes as gevolg van die swak omstandighede waaronder hulle geleef het.  

Tienduisende Ierse vroue was vasgevang in prostitusie in 1850 in New York. Duisende kinders het op straat rondgeloop – in bendes. Ongeveer die helfte van die mense wat in die 1840’s en 1850’s in hegtenis geneem is, was Iere. 

Hughes het wel die skuld geplaas op die Britse onderdrukking in Ierland, maar het nie daarby vasgesteek nie. Hy het aanbeweeg deur gemeentes te stig met priesters wat die Evangeliese waarhede na hierdie Iere geneem het.  

Hy het ‘n waardesisteem gevestig wat die klem op persoonlike verantwoordelikheid laat val het. Ook is reinheid en respek baie sterk gepropageer.  

Hughes was gekant teen “hand-outs” wat nie ook op morele herstel gefokus het nie. Die resultaat? Teen 1880, kom ons sê een generasie later, het geweldsmisdaad onder die Iere met 50% gedaal. Driekwart van die stad se polisiemag het uit Iere bestaan.  

Amper twee-derdes van alle Ierse vroue en omtrent ‘n derde van die mans, het geen alkohol meer gebruik nie. In 1890 was ongeveer 30% onderwysers Ierse vroue en die geletterdheid onder hierdie mense het opgeskiet tot 90%.  

Morele waardes is ‘n kragtige instrument in die transformasie van die mens se siel! Van sy lewenskwaliteit.  

Jack Bloom skryf soos volg hieroor in ‘n rubriek van hom: “Die ontwikkeling van die interne polisieman van die gewete, is baie meer effektief as om die polisiemag te verdubbel of te verdriedubbel”.

Chris Jones