Vryheid en grense: gelowig nagedink oor morele vorming

Written by Admin on . Posted in Verantwoordelikheid

Hierdie gedagtes verskyn reeds by die preekstudies blog (maandelikse fokus), maar dalk het jy dit nie raakgesien nie…

 “…Liefde het grense. Dit kies nooit kant vir dinge wat verkeerd is nie. Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het…” (gedeelte uit 1 Kor 13, Die Boodskap).

Die mens is deur God bedoel om vry te wees. Maar met die gawe van vryheid kom die verantwoordelikheid van keuses maak.  Omdat jy vry is moet jy kies. En die gevolge van jou doen en late dra. Iets hiervan lees ons in een van die skeppingsverhale in die Bybel. Vryheid sou mens kon sê is ’n ander woord vir verantwoordelikheid. Hoe vryer ons is, hoe groter dus ons verantwoordelikheid.

’n Huis het mure nodig, soos vryheid grense het…

Slegs die mens kan werklik vry wees, danksy sy  bewussyn van geskape wees, sy geestelike dimensie. Maar ons verwesenlik meesal nie hierdie vryheid nie. Ons ervaar ons as te gebonde aan die wette van die natuur, en laat ons beheer deur oorerflikheid en omgewingsfaktore, en word gerig deur instinkte en hormone, geïnternaliseerde waardes en norme, sosiale of groepsdruk, en ideologiese en godsdienstige magte.

Vryheid gaan dus saam met grense. Huise, strukture wat ons self bou, beperk   ons daarin dat ons nie sommer vryelik kan rondbeweeg nie. Daar is mure, en daar is deure. Maar sonder mure en dak sou ons so besig gewees het om te oorleef teen bitter koue en bloedige warm weer, diere en diewe, dat daar nie tyd en krag sou wees om te leef, te laat leef, te skep en te ontwikkel nie. Jy kan ook net ’n tuiste skep in ’n huis solank die huis staande bly.

As ons aan vryheid dink, moet ons aan vryheid binne die raamwerk van strukture dink; vryheid is nie vry van strukture en prosesse nie. Die verandering van strukture word prosesse genoem.  Daar is breedweg drie soorte strukture:
 Dit is fisiese strukture (en prosesse) soos bome, berge en dale, sterrestelsels, die draai van die aarde en die menslike liggaam.
 Dan is daar sosiale strukture soos kultuurpatrone, politieke bewegings, sportliggame, kerke, moskees en sinagoges.
 Daar is ook geestestrukture soos denkpatrone, filosofieë, ideologieë en religieë.

Geeneen van hierdie strukture is absoluut nie, maar is voortdurend onderhewig aan prosesse van verandering.

Vryheid is ’n geskenk van God, maar moet verwesenlik en beskerm word.
 
Gelowiges kan as God se mense vry binne strukture leef. Maar sommige strukture is meer bevorderlik vir vryheid  as ander. Ons verantwoordelikheid is om gesonde waarnemingsvermoë te gebruik wanneer ons situasies ontleed; en om ons Godgegewe verstand te gebruik om uit te redeneer watter struktuur die paslikste vir die situasie is. Goddelike inspirasie is nodig, sowel as wilskrag. En liefde, veral wanneer dit kom by die saamwerk van al die mense wat by die situasie betrokke is. Mense wat mekaar as medemense erken.

’n Huis se vensters is gewoonlik deursigtig, laat lig deur, en herinner die inwoner dat sy/hy deel van ’n groter geheel is.

Hoe groter ons vryheid is, hoe groter is ons verantwoordelikheid. Laat ons nie mekaar se ruimte bedreig nie. Hierdie verantwoordelikheid vra na ander luister, is Geesgerig, dit veronderstel harde werk. Dit lei tot morele vorming.

Bronne:

Du Toit, D A. 1984. Menseregte. Tafelberg: Kaapstad.
Nürnberger, K. 1980. Teologiese Etiek. Universiteit van Suid-Afrika

 Pieter van Niekerk

 

Trackback from your site.

Leave a comment