Claassen tas mis wanneer hy oor geloof praat

Written by Admin on . Posted in Geloofwaardigheid

Ek is dit eens met Hendrik Kraemer in ‘Religion and the Christian Faith’ (1961):  ‘Die Christelike godsdiens in sy vele historiese manifestasies dui op dieselfde kommerwekkende kombinasie van verhewe, veragtelike en ordentlike elemente as nie-Christelike godsdienste”. Wrede goed is in die naam van Christus (lees dogma) gedoen. Dink maar aan die Inkwisisie en godsdienstige vervolgings van die 16/17 de eeu. Apartheid is deur dominante kerke Bybels regverdig, ondersteun en in stand gehou. Meeste apartheidswette is deur ‘n kerk geskep, geïdeologiseer en verpolitiseer. Maar daar is duisende mense gedring deur die liefde van Christus betrokke by die fisieke nood van ander. Sendinghospitale en skole het destyds wonderlike baanbreker werk gedoen. Ons oudpresident Nelson Mandela was ‘n leerder van ‘n sendingskool. Gebed sou deel wees van dié hospitale en skole se daaglikse handelinge. Sending-dokters, -verpleërs, -gemeenskapwerkers en evangeliebedienaars is wêreldwyd besig om mense te bedien en te bemagtig. Hulle maak van die wetenskap gebruik

Alhoewel die openbaring van God in die skepping of sy verlossing nie direk bestudeer kan word nie; is dit moontlik om die ontvangs, die respons en die reaksie van die gelowige ten opsigte van hierdie Goddelike manifestasie na te vors en aan Claassen se evaluering en kritiek onderwerp te word. Die impak wat God se selfonthulling in geloof het, manifesteer in gelowiges se lewens. Maar daar is nie altyd ‘n genoegsame handvatsel om aspekte van die geloof verstandelik te beredeneer of feitelik te bewys nie. Waar ons met die misterie van die Goddelikheid te doen het, moet ons alte seker sorgvuldige oorweging toepas, maar ons kan nie empiries-wetenskaplik te werk gaan nie. Want ons handel nie met feitelike bewysbaarhede nie. Daar is ook nie ‘n ideale, super-metafoor waarmee ons God sal kan verbeeld/beskryf nie. Elke mens het vanweë sy persoonlikheid, ingesteldheid, herkoms, wêreldbeskouing en ander agtergrondfaktore spesifieke mites, metafore en rites wat hom/haar aantrek en vir hulle betekenis het (http://www.markplek.co.za/nuusbrief10_4.htm0 ).

Claassen toon egter nie die respek met sy artikel oor “Gebedsbedrog mislei siekes” wat hy voorheen teenoor Christene soos sy eie pa toon nie (Kerkbode 19.02.2010) nie. Godsdiens soos die Christelike geloof is nie bo kritiek nie, maar Claassen maak self kwakoskopiese opmerkings en flaters.
Claassen maak nie melding dat meeste Christene soos eietydse mense siekte as ’n natuurlike verskynsel wat deur virusse en ander fisieke en psigiese faktore veroorsaak word, beskou nie. Sommige gelowiges sien die hand van God in die mediese wetenskap, kennis, navorsing en vaardigheid om genesing te bewerkstellig raak. Deernis, liefde en sorg aan siekes toon die humane beeld van die Christelike geloof. 
Wonderwerke vind steeds plaas, om asem te haal is een daarvan. Daar is baie medici wat van metafisiese genesings getuig, nie almal is bewus van die gebede vir en genesing van siekes nie. Daar is dominees, pastore en priesters, gelowiges en dokters wat vir die genesing van pasiënte bid, sonder dat enige haan daaroor kraai. Maar daar is inderdaad oneerlike geloofskwakke soos daar oneerlike wetenskaplike kwaksalwers is.
Jacques Kriel ’n internis toon in Matter, Mind, and Medicine (2000) die tekortkomings van ’n suiwer wetenskap-positiwistiese benadering in die mediese beroep aan.  Verskeie fasette van die menslike bewussyn soos geloof speel ’n  rol in genesing.  Dit gaan in genesing oor meer as net die fisieke toestand van die pasiënt, die geestelike aspek moet ook in ag geneem  word skryf Isak du Plessis in ‘God en wetenskap (2003).
Claassen kriminaliseer gebedgenesing en is uiters selektief met sy voorbeelde. Hy plaas die mediese wetenskap teen geloof en skiet veral gebed af. Ek kies beide, daar is propvol getuies van gebede wat verhoor is en mense wat wonderbaarlik genees is. Dokters verrig elke dag wonderwerke en red lewens, dominees, pastore, priesters en geestelike werkers bid daagliks vir pasiënte wat hooploos  lê. Baie kry nuwe krag (hoop) en sin in die lewe en dra nie alleen aan hul pyn nie.
Die sigbaarheid van die Christelike geloof is nie verhewe  kritiek nie, maar die onsigbare verdien respek.

Pieter van Niekerk

Trackback from your site.

Leave a comment