{ARGIEF}

Is joernaliste wat Sölle uitvra onnodig skepties en krities jeens godsdiens? Sou ‘n eerlike blik na onsself en na godsdiens deur die eeue en in besonder die Christelike godsdiens nie die ontstellende toon dat godsdienstiges meermale die bestaande orde gekies het, dat hulle in en met God se naam ‘n bepaalde orde waarin hulle voordeel gehad het, gelegitimeer het? Of sagter gestel dat ons ons deur magshebbers laat verlei het of misbruik is om ‘n samelewingsbestel aan die gang te hou en dit te regverdig eerder as om dit te verander? Opium van die volk (Marx) en/of opium vir die volk (Lenin)?

Dink vir ‘n wyle terug …

Aan die rol van die kerk in die tyd voor die Franse (politieke) rewolusie: “Ateïstiese” leiers het die hervominge gelei wat menseregte ontgin en die einde van die ampskerk se magsuitoefening beteken het…

Aan die rol van die staatskerk in Engeland, die konings en hulle vrouens, die opkoms van die Metodisme as ‘n reaksie hierop. Tot vandag vertel die regimentvlae en name van soldate in kerkgeboue van hierdie legitimering van oorloë…

Aan die rol van die Afrikaanse kerke in die regverdiging van Apartheid, die grensoorloë en die rol van die ander kerke in die ondersteuning van die Bevrydingsorganisasies…

Die RGN se verslag na tussengroepverhoudinge in ‘n onlusgeteisterde 1985 het aangetoon dat die Christelike godsdiens (waaraan 75% mense hulle nomineel verbind het) eerder die polarisasie tussen rasse legitimeer as relativeer. (John de Gruchy (1979, The Church Struggle): Settler Church/ Mission Church; Afrikaner Church/English Church; Black Church/ White Church) So ‘n omvangryke ondersoek is ongelukkig nie weer herhaal nie. Ten spyte van ‘n nuwe politieke bedeling het dit klaarblyklik nie veel in die afgelope 25 jaar verander nie…

Godsdiens het die potensiaal om menslike konflik tot ‘n heilige oorlog te verhef. Tans sien ons dit die duidelikste in radikale Islam-groepe. Daarom wonder sommige denkers of daar nie meer menslikheid sonder godsdiens sou wees nie?

Gelukkig is daar ook die geloofwaardige kant. Miskien minder in kwantiteit of minder bekend. Dink aan individue soos John Wesley, Dietrich Bonhoeffer, Beyers Naude, Ben Marais, David Bosch, Moeder Teresa, Desmund Tutu, Stanley Hauerwas en aan die Bekennende Kirche in Nazi-Duitsland, die Metodiste en die Heilsleër na die industriële rewolusie van Brittanje, kerkgroepe in die voormalige Oos-Duitsland voor die val van die Berlynse muur…

2 Die Kennissosiologie bied ‘n model om legitimering te verstaan

Betekenisloosheid (anomie) is grootste bedreiging vir die mens en daarom het ons so ‘n sterk behoefte aan betekenis. Daarom konstrueer mense in groepe ‘n sosiale wêreld/ betekenisvolle orde/nomos wat uitdrukking gee aan hulle ervaringe. Grenssituasies soos die dood, politiek onrus, nuwe ontdekkinge, sosiale omwentelinge toon die onbestendigheid van sulke ordes. Die beste stabiliteit wat terselftertyd beskerming teen nuwe aanvalle verleen is godsdiens. Dit word ‘n “sacred canopy” , ‘n soort kosmos oor die nomos (Berger en Luckmann 1967, The Social Construction of Reality – A treatise in the the Sociology of Knowledge).

3 Die wonder van die vroeë Christendom vertel van die transendering van groepsbelange: ‘n Nuwe “ras” van mense wat die werklikheid itv die Koninkryk van God verstaan.

Hoewel die Christendom van die vroegste eeue eendersyds nie geïdealiseer moet word nie maar ook teenstrydighede vertoon is dit andersyds ook waar dat dit mense se instelling op punte radikaal verander het. Rosemary Radford Ruether (1998, Women and Redemption) en ander se interpretasie van die veranderde rol van vroue in die tyd, kan as illustrasie dien:

* Jesus Christus se kernboodskap was dat die “Koninkryk van God” naby gekom het. Vir die vroegste Christelike gemeenskappies beteken dit die “eindtyd”, waarin mans en vroue weer gelyk sou wees, het aangebreek. Die reinigingswette waardeur vroue en ander groepe tot tweede klas burgers verdoem is, is opgehef. Vroue is as volwaardige mense gerespekteer en kon hulle godgegewe gawes optimaal aanwend.

* Dit beteken egter nie dat die Christendom eerste was om vroue as volwaardige mense te erken nie. In plekke soos Klein Asië en Egipte het vroue al in dié “eerste” eeu leiding in sakeondernemings, die openbare lewe en godsdiens geneem (Witherington). Vir vroue wat nie in die patriargale sisteem wou inpas nie het die Christendom ‘n aantreklike alternatief gebied (Meeks). Die punt is dat sommige gelowige mans se houding egter in paternalisties geslote omgewings verander het.

* Paulus sluit met van sy raad aan gemeentes by hierdie alternatiewe kultuur aan. Hy aanvaar die leiersrol van vroue, werk met hulle saam en praat gunstig van hulle. Veertig persent van die name wat in Romeine 16 genoem word, is van vroue. Paulus het die doopformule van hierdie vroeë geloofsgemeenskappe gebruik: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jeus is julle almal één” – Galasiërs 3:28. Daar is nie meer skeidings tussen man en vrou maar ook nie tussen Griek en Jood , slaaf en vryman vir die wat “in Christus” is nie. Paulus gee aan vroue-leiers, getroud of nie, erkenning.

* Omstandighede bring egter mee dat Paulus die klem op die “nog nie gerealiseerde” -eindtyd plaas wat die geslagsrolle betref en nie soos die vroegste gemeenskappies op die “alreeds gerealiseerde” van die eindtyd nie.

* In die vroeë kerk bring Paulus se dubbele boodskap ongelukkig mee dat die gelykheid van geslagte in Christus vergeestelik is. In die praktyk van die kerklike en sosiale lewe moes hulle – volgens die kultuurpatroon van destyds – aan mans onderdanig wees.

4 Die verkondiging van die Evangelie behoort mense moreel te verander

Dit gaan juis in die prediking om resultate meen Willie Jonker (1976, Die Woord as Opdrag) : “Wat wil ons dan anders met die prediking as dat mense die Woord van God moet hoor en dat dit in hulle lewens moet indring en hulle moet vernader?” (p 26)

Ons moet egter ook erken dat mense bevestiging van hulle aanvaarde standpunte en idees soek “Geen mens kan klaarkom sonder die voortdurende herbestiging van dinge wat hy reeds glo en weet nie” (p85) Daarom gaan mense na hulle politieke party se vergadering, daarom is die lekkerste gesprekke met iemand wat met jou saamstem en daarom –helaas – gaan die meeste getroue kerkgangers na die erediens. Mense soek bevestiging nie die ongemak van verandering nie…

Bevestiging beteken nie noodwendig dat a-moraliteit bevestig word nie. Karen Armstrong (2009) meen dat juis die langdurige herhaling van rites en gebruike morele verandering bewerk. Mense kan dit nie rasioneel verklaar nie maar die lewensstyl maak sin. Dink aan jou naaste Katolieke gemeente…praat met een van hulle oor om ‘n swart priester te hê…

Die probleem is vir Jonker nie dat ons mense se geloof herbevestig nie: “Die probleem is egter dat dit dikwels nie die allerheiligste geloof is waarin mense in die kerk bevestig word nie, maar in hulle eie aanvaarde standpunte en posisies. Van groei en ontwikkeling is daar nie meer sprake nie, omdat geen groei meer beoog word nie. Dit is juis die geheim van die ware geloof, dat dit ons in ‘n voortdurende proses van verandering betrek, ‘n verandering van ons verstand (nous) (Rom 12:2). Om dié effek op ons te hê, moet die prediking ons op sodanige wyse in die geloof bevestig , dat dit ons intussen ook losmaak van ons wêreldgelykvormigheid.” (p87-88)

Die “mooiste preke” vir gemeentelede is daarom dikwels die waarin niks nuuts gesê word – (of geen uitdaging veral sosiaal van aard gerig word nie – AvN). Verder meld Jonker die probleem van selektiewe luister. Ons moet maniere vind – vir Jonker kan “dialogiese prediking” help. Die alternatiewe metodes van kamp en groepswerk is nog voorbeelde vir Jonker waar konfrontasie met die Evangelie kan plaasvind. Sonder dit is die verkondiging van die kerk minder effektief. Predikers wat wil slaag, moet lidmate wat so vertroud met die Bybel is dat hulle dit nie meer hoor nie, weer die betekenis daarvan laat insien deur hulle die vreemdheid van die Bybel te laat besef en ‘n glashelder heenwysing na die praktyk te gee (p116).