ENKELE “ÉN-ÉN” RIGLYNE

Written by webmeester on . Posted in Geloofwaardigheid

Hoe voorkom ‘n mens algemene wantroue te midde van geweldsmisdaad? Hoe kan ‘n mens na ervaringe van regeringslui se swak diens en slegte moraliteit nie agterdogtig teen alle amptenare wees nie? Hoe kan ons ontsnap om nie kwaad met kwaad te vergeld nie?

* Om God se wil as bevelsvorm (imperatief) te ken, help nie ten volle nie. Die Fariseër wat Jesus in ‘n debat wou betrek, het presies geweet waarop God se wil neerkom: Liefde teenoor God en naaste. Maar hy was nie vry om dit te kon doen soos Jesus dit van hom vra nie. Hy wou net oor God se wil debatteer.

* Om eers te verduidelik wat God vir ons doen (indikatief) en op grond daarvan uit te spel wat ons uit dankbaarheid moet doen, is veel beter. ‘n Sterk wete dat God my onvoorwaardelik aanvaar het, kan mens inspireer om ook te waag om ander te verstaan, te vergewe en op te bou. Hierdie indikatief-imperatief skema is een van die sterkste wyses waarop Paulus werk. Ons Gereformeerdes het dit (uit dankbaarheid moet ons…, die wet as reël van dankbaarheid) oorgeneem. Goeie moraliteit kom uit ‘n goeie identiteit. Ons moet egter onthou dat daar ander etiese skemas ook in die Bybel is!

Ongelukkig raak ons bewussyn gewoond aan God se dade. Ons fikseer God se wil in algemene en vae omskrywings. God word God van die verlede. Dit bly nie ‘n lewende kwessie wat God nou van ons vra nie.

* Om te verlang na God en na sy wil maak nuwe moontlikhede oop. Dit is soos Griekse werkwoorde in die wensvorm (optatief) (Hebreeus in die konjunktief). Die ontevredenheid met die huidige skep ‘n lewende verwagting en die erkenning van “ons weet nie” die bereidheid om opnuut te luister.

Dirk Smit (1999, Verlange na meer) lees talle Lukas-gelykenissse vanuit hierdie verlange-modus. Dink maar aan die verlangende seun en Vader, die weduwee wat geregtigheid verlang, die man wat verlang dat sy huis vol feesgangers sal word…

Ook die Bergpredikasie in Matteus het iets van die verlange: “Gelukkig is julle wat honger en dors na die geregtigheid…” By Matteus is “geregtigheid” nie soos by Paulus ‘n juridiese status nie maar morele geregtigheid, veral die doen van God se liefdeswil…Paulus verlang na één saak naamlik om die krag van Chrsitus se opstanding te ken en deel te hê aan sy lyding…

Gebede om verlange na God se wil vir vandag, bring nuwe bewussynsmoontlikhede. Dit maak verbeelding – ook morele verbeelding van hoe dinge moet en kan wees – moontlik. Die verbinding tussen eie belange en godsdiens as regverdiging daarvan, verslap. Daar is ‘n openheid dat God se Gees jou kan vrymaak van die heersende reaksiepatrone in ons land. Deur hierdie ingrype kan ons dalk meer doen as om net dié te begryp wat ons begryp, net dié liefhet wat vir ons liefhet, en net dié groet wat ons groet…- Matteus 5: 46.

3 Én Skoktaktiek? (Profete en Jesus –gelykenisse)

Wat my verbaas is die skoktaktiek wat Jesus in sy gelykenisse volg. Byvoorbeeld in die bekende Barmhartige Samaritaan. Dat die Priester en Leviet verbystap en dat hierdie opofferende persone die teenvoorbeeld is moes baie erg destyds oorgekom het. Dat van alle mense ’n Samaritaan die voorbeeld stel was destyds gewoon skokkend.

Ek het eenmaal ‘n kollega gehad wat skoktaktiek gereeld in Bybelstudies en prediking gebruik het. Dit het nie vir my gewerk nie. Miskien is ek te veel van ‘n “pleaser”. Ek het verneuk of vernederd gevoel. Maar het die profete en Jesus dan nie daarvan gebruik gemaak om mense tot besinning te roep en diepgaande los te maak van vormgodsdiens nie?

Christene se voorbeeld is inderdaad Christus. Wat my uit die dilemma help, is Jesus se verstaan van gesag. Vroeg in sy openbare optrede vat Jesus die godsdienstige gesagdraers se interpretasie van die gebooie skerp aan. Aan die einde van die Bergrede is die skare verbaas was omdat Jesus met gesag geleer het en nie soos die Skrifgeleerdes nie. “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie” -Mat 7: 27-28.

Hoekom straal Jesus gesag uit maar die tradisionele gesagdraers nie? Vir Ferdinand Deist (1990, Verstaan jou ouers) is die enigste oplossing dat daar verskillende soorte gesag is. Ook woordeboeke lys dat “gesag” op “mag” sowel as op “invloed” kan dui.

Die Skrifgeleerdes – en talle godsdienstiges vandag – meen gesag is mag wat mens van bo af op ander uitoefen. Daar is situasies waar die soort gesag nodig bly. Die staat moet sy mag gebruik om misdadigers af te skrik. Maar wanneer Christene deur die mag van boikotte sangers wil keer, gaan hulle dié ouens se saak net adverteer.

Jesus se gesag werk anders. Dit wil mense se harte beïnvloed. Dis ‘n gesag wat dring maar nie dwing nie. Daarom oorreed Jesus mense deur gelykenisse en dreig Hy nie. Hy spel die een lewenstyl se voordele uit teenoor ‘n ander. Hy gun mense ’n keuse. Boonop verstaan en vergewe Hy. Diegene wat Hy waarsku en berispe is “gelowiges” wat God se genade onnodig vind.

Ons word gevra om Christus se liefde, vergifnis en selfs lyde te volg. Al wat ons nie moet volg nie is God se toorn. Aan Hom alleen kom die mag van wraak toe. Net Hy kan vergeld (Romeine 12).

4 Juis nie én-én nie maar net om onder die waterval te staan… (Nürnberger oor Johannes se teologie)

“Wat moet ek doen om my lewe reg te kry? Help my asseblief!” is die vraag van ‘n ernstige soeker. Die versoeking is om met ‘n lysie godsdienstige pligte van én-én te antwoord.

‘n Selfdoenlysie is nie net ontrou aan Christus se Evangelie nie. Dit kan die soekende mens se krisis vererger. Die eise van ons dag is alreeds te veel. Christus bevry jou van die idee dat jou verlossing van jou insette afhang en red mens van ‘n oorvol program.

Soos alle instellings het menslike godsdienstigheid die neiging om al hoe meer ingewikkeld en vol reëls te word. Wat begin het as ‘n liefdesooreenkoms dat God vir ons ‘n God wil wees en dat ons vir Hom “‘n volk” moet wees, is later met 10 gebooie omskryf en uiteindelik in 613 wette verander.

Jesus Christus haal dié swaar juk van ons af. Volgens die eerste Evangelies het Jesus ons net 2 gebooie kom leer: Om God lief te hê en ons naaste soos onsself lief te hê.

Johannes, die Evangelie wat laaste geskrywe is, antwoord die vraag op wat ons moet doen nog eenvoudiger. Dit gaan nie om ‘n “vertikale en horisontale” liefde te doen nie maar dat die “eenrigting stroom” van liefde deur ons sal vloei (Klaus Nürnberger).

Daarom moet ons aan die wingerdstok verbind wees, in sy woorde van liefde “bly”, die ongemak van Christus se voetewassing as’t ware ervaar, en in herinnering aan sy kruisdood brood eet en wyn drink.

Dit is soos om met uitgestrekte arms en oop hande onder ‘n waterval te staan. Jy word self eers nat en kan dan nie anders dat hierdie liefde die mense en skepping rondom jou ook natspat nie. Dan handel jy nie meer volgens ‘n lysie nie maar met dit waarvan jy self vol geword het.

Op die soeker se vraag is die Bybelantwoord : “Jou lewe kom nie reg deur nog dinge by te doen nie. Dit gaan om in God se waterval van liefde te gaan staan. Hiermee help ons mekaar”.

5 “Ds kry ‘n spiritualiteit vir jou ongemak…”

(Pasop vir balans en gemaksones wat dink, leef en ervaar betref; ons identiteit in Christus is anders as Boeddhiste ( bv Küng oor Jesus en Gautama), ons leef in spanningsvelde en paradokse (bv profeet én priester, God se vrymag én ons verantwoordelikheid, alreeds én nog-nie); ons bly daarom vra: Wat verwag die Here nou van ons?….)

Oosterse godsdienste fokus op die innerlike gemoed van die mens. Die Christendom en die ander profetiese godsdienste (Judaïsme en Islam) is doelbewus ook op wêreldgebeure gerig. God se geregtigheid moet volgens hulle in die samelewing verwerklik word.

Profete moet dit gevolglik waag om God se wil binne eietydse politieke en sosio-ekonomiese omstandighede te verkondig. Hierdie risiko bring mee dat sommige terugskouend as “vals” en ander as “ware” profete beoordeel sal word.

Na die dood van die Assiriese koning in ongeveer 734 vC het Sirië en Israel besluit om die magsleemte te benut deur Assirië se heersersjuk af te gooi. Vir die opstand benodig hulle Juda se steun. Agas, die Judese koning, besluit teen sameswering. Die gevolg is dat Sirië en Israel Jerusalem beleër om Agas te onttroon.

In hierdie benoude omstandighede stel sommige profete die volk net gerus. Die stad self sou al teken wees dat God met hulle is. Die aanvallers sal daarom nie slaag nie (Jes 8: 8-10, Psalm 48).

Die profeet Jesaja ontbloot hierdie vroomheid as valse vertroue. Die volk kyk teen vyande vas maar vergeet van die Here van die geskiedenis. Die Here is vrymagtig. Hy kan selfs die nuwe Assiriese koning teen sy volk gebruik.

Jesaja distansieër sy groep van die ander. Hy word egter nie so ‘n vreemde buitestaander soos Jeremia later nie. Soos sy ouer tydgenoot, Amos, pleit Jesaja vir minder godsdienstige vertoon en vir opoffering om die lot van swaarkry-mense te verbeter (Jes 1:12-20, 8:20).

Om profeet te wees is nie maklik nie. Ernst Wollf skryf aangrypend oor ware en valse profete. Laasgenoemde s is seker van hulleslef, fatsoenlik, gewild. Eersgenoemdes twyfel, het soms snaakse optredes, wil graag deur God onthef word of worstel of hulle kan aangaan met die onmoontlike opdrag.

As profeet maak jy jouself ongewild. Profeet en priester nog moeiliker. Jy word ’n versoeningsbrug soos Christus – die mense van weerskante trap op jou. Ek onthou Oom Murray in Lynnwood. Hoe hulle hom baklei het maar uiteindelik gekry het om hulle mense te begrawe…Calvyn sê dat ons in die voetspore van Christus profeet, priester en koning moet wees. Onmoontlik?

Die spiritualiteit wat ons aan God verbind moet daarom ruimte laat vir die paradoksale. Dit sal deur profete-angs geteister word. Dit sal altyd onvoltooid bly. Dit sal groei deur ongemak en doodgaan sodra die ongemak ophou. Dit leef nie uit duidelike imperatiewe nie maar van verlange. Dit roem nie oor sekerhede nie maar is tevrede met verwondering. Dit is nooit klaar en voltooid en afgerond nie omdat die Gees met ons voortgaan… dit skree op elke moontlike manier teen ons natuur.

Tog sluit dit ook by ons menswees aan. Daar’s net altyd die paradokse. God is meer as sy gawes maar nooit sonder sy gawes nie. ‘n Bietjie musiek, ‘n glasie goeie wyn, ‘n stukkie romanse, ‘n bietjie opwinding deur sport, stap in die natuur is alles middele waardeur God ons sterk maak.

Al kan ons in die algemeen praat is ons elkeen uniek. Soos elkeen ‘n eie peroonlikheid het , het ons elkeen ‘n spiritualiteit. Corinne Ware is reg dat ons ons eie moet ontdek en verryk word deur ander. Daar is egter veel meer soorte as haar 4 .

‘n Spiritualiteit moet gedra word deur die kruisboodskap, deur Romeine 8:28, deur God se Voorsiening…

6 Voortdurende aanpassing en verwerking: Die Josef-verhaal se Voorsienigheidsbelewenis/-verstaan

Die verhale oor Israel se aartsvaders is besonders.

Die geloofsverhale van Abraham, Isak, Jakob en Josef in Genesis 12-50 is volgens Francois Swanepoel die teenpool van die vier sondeverhale in Genesis 3-11. Anders as wat mens sou verwag word die geloofsmodelle se foute en sondes genoem. Dit gaan nie om volmaakte mense nie maar op God wat voorsien.

Dwarsdeur Israel se geskiedenis word daarom terugverwys na die God van Abraham, Isak en Jakob. Josef word egter nie genoem nie. Sy verhaal trek nietemin mens se aandag, selfs meer as die ander.

Dit is ‘n gesinsverhaal waarmee mense kan identifiseer. Hier is geen droombeeld van die gesinslewe nie. Voortrekkery, jaloesie en hoogmoed lei tot ‘n gesinstragedie.

Josef se verhaal wil nogtans ‘n leervoorbeeld vir jongmense wees wat in wysheid geskool wil word (Sundermeier). Hoe om uit die verleiding van ‘n slegte vrou te ontsnap (bv Spreuke 5), hoe om jou woord selfs voor konings te doen (bv Spreuke 16), en hoe om die eerbied vir God as die hoogste beginsel van wysheid uit te lewe (Genesis 42:18 en Spreuke 1:7).

Was Josef se tronkervaring die eerste in ‘n lang ry van lewensmodelle in die gevangenis soos Jeremia, Johannes die Doper, Paulus, Dietrich Bonhoeffer, Victor Frankl en Nelson Mandela? Duidelike karakterontwikkeling vind hier plaas: Josef, die hoogmoedige met sy mooi kleed word ‘n mens in tronkklere wat omgee.

Maar wat is Josef se geheim? Hoe kon hy telkens aanpas en al die verwerpingsgebeure verwerk? Hoekom raak hy nie skepties en sinies nie?

Josef het geweet dat God betrokke bly. “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het” – Genesis 50:20.Dat God selfs die slegte ten goede kan keer. God deurkruis die broers se onheilsdaad met ‘n heilsdaad. “God se daad deurkruis hul daad in die sin dat Hy die minus (-) van hul daad deurkruis tot ‘n plus (+)” (Flip Theron).

Kyk ook:

Bonhoeffer: Letters from Prison(1953) aan Eberhard Beetge op 19 Maart 1944: “Did that reading of Genesis 41:52 recently do you as much good as it did me?”

Viktor Frankl: Logoterapie.

Rolprent: La Vita è Bella (Begnini).

Vir eers genoeg!

Trackback from your site.

Leave a comment