{ARGIEF}

Vrees is een van die hoofvorms van luiheid. Daar is die weggesteekte vrees dat vreemdelinge en opponente ook ‘n saak het. Ons vrees veral dat ek my ingenome standpunte en ou manier van doen, sal moet verander. Ook die vrees dat nuwe inligting ons sal bring om verhoudinge te verruim.

Ons luiheid en vrees vir luister, is deel van die natuurlike weerstand teen geestelike evolusie wat Scott Peck “entropie” noem. Liefde is kragtig genoeg om hierdie weerstand oorwin. Liefde is die bereidwilligheid om onsself – deur luister – te verruim met die doel om ons eie en ander se geestelike groei te bevorder.

In sy gedig Voor ‘n onbekende more pleit Matthews Phosa :“En julle wat julself leiers noem, maak toe julle monde en open julle oë en ore”. Dit sal voorwaar liefdeskrag kos maar dit sal ons almal verryk.

Die luister moet indie breedste sin van die Woord verstaan word. Nie net na Skrif en Christene nie . Kragtens die Bybelgetuienis het Gereformeerdes juis meer as ander tradisies ingesien dat God se genade en openbaring wyer is en dit die ongemaklike beskrywing van “algemene genade” en “algemene openbaring” gegee (vgl bv Kores is kneg in Jesaja). Ons moet daarom sensitief vir alle stemme wees. In die ongewone profeet kan ons dalk juis God se stem hoor. Ek kan onthou dat die Here my verander het deur Elsa Joubert se “Die swerfjare van Poppie Nongena”.

2 Die Woord as lewende stem van God en nie as gefikseerde Skrif nie (Nürnberger)

Byna al ons geskille oor geloofsake kan na ons verskille oor die verstaan van die Bybel teruggevoer word.

Vir sommige gelowiges is die Bybel identies aan “God se Woord”. In tye van onsekerheid bied ‘n konkrete teks vir mense die vaste rots waaraan hulle kan vashou.

Vir ander gelowiges, soos vir die Suid Afrikaanse teoloog, Klaus Nürnberger, is God se Woord eerder soos ‘n lewende stroom wat deur die geskiedenis vloei. Gevolglik beleef mense in verskillende tye en omstandighede God se redding in hulle spesifieke nood. Mondelings vertel hulle aan ander dat die “Woord van God tot hulle gekom het ”. Daarmee bedoel hulle dat hulle God ervaar het deur gebeure (dade), gesprekke (woorde) of gedagtes (insigte).

‘n Bybelskrywer, Johannes, kan daarom bely dat Christus “God se Woord” by uitstek is. Mettertyd is van die mondelinge getuienisse oor belewenisse van “God se Woord” in boeke opgeskryf en uiteindelik is die Bybel uit ‘n versameling van hierdie boeke gevorm.

God se reddende woord ontmoet mense op hulle verstaansvlak en denkpatrone. Die Woord word vir die Jode soos ‘n Jood en vir die Grieke soos ‘n Griek.

Soos water wat in ‘n grot afdrup na ‘n tyd stalagmiete nalaat, versteen die woord aan ‘n spesifieke tyd ook. Ondersoek hierna help ons om in te sien dat die ekslusiwiteit van die Joodse volk, die aansluiting by Babiloniese skeppingsvoorstellinge of die onderdanigheid van die vrou vir ‘n vorige tyd sinvol was.

Ons durf egter nie net met regsgeleerdes se analitiese presiesheid die vaste rots – as een gestalte van die Woord – ondersoek asof ons geloof daarvan afhang nie. Die Gees bring immers steeds lewende strome van die Woord: “God maak ons bekwaam om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.” – 2 Korintiërs 3:6.

Met die sensitiwiteit van kunstenaars kan ons met eietydse bekers uit God se stroom van ewige water skep. Daarmee les God ons dors na ‘n betekenisvolle lewe vandag.

Laat ons dit toepas (1) op gebeure vroeg verlede jaar en (2) op ons ekologiese kwessie:

(1) “Die Bybelboodskap kom neer op liefde” het ‘n joernalis verduidelik. “Nee!”, het ‘n dominee geprotesteer, “dit gaan om veel meer geloofswaarhede…” .

Verskille tussen gelowiges ontstaan nie net uit ons gebrekkige luister na mekaar nie. Dit weerspieël ook die verskeidenheid van getuienisse in die Bybel en die voortgaande stroom van God se Woord. Neem byvoorbeeld die verskille tussen die evangelies.

Wanneer Matteus sy verhaal van Jesus skryf, doen hy dit met sy unieke benadering en ook in ‘n tyd waarin losbandigheid waarskynlik toegeneem het. Daarom vertel Matteus dat Jesus kom toon het dat God nie net genade gee nie, maar ook gehoorsaamheid aan sy liefdeswil vereis.

Waar Matteus, as’t ware geloofswaarhede opstapel, laat Lukas ou waarhede weg.

By sy intree-boodskap lees Jesus onder andere Jesaja 61 vers 2 se eerste deel oor die genadejaar van God. Die tweede deel van die vers, wat oor God se dag van wraak handel, word weggelaat (Lukas 4: 16-30). Ook in Lukas 7 word uit Jesaja aangehaal maar telkens is daar nie meer ‘n verwysing na God se oordeel nie.

Dit is begryplik dat die vernederde mense graag wou hoor dat God hulle vyande sou terugkry. Daarom maak dit meer sin dat hulle verbasing in vers 22 nie positief (vertaal met “verwondering”) is nie maar negatief (vertaal met “ontsteld”). Op voetspoor van Joachim Jeremias meen David Bosch kan ons die vers as volg vertaal: “Hulle het geprotesteer en was ontsteld dat Hy slegs van genade praat”.

As jy meen dat dit vir Jesus oor liefde gaan, stem jy met Lukas, die Nuwe Testament se omvattendste skrywer, ooreen. Jesus beklemtoon volgens Lukas God se ontferming oor diegene wat destyds die swaarste gekry het: armes, vroue, Samaritane en siekes. Ook ons is genooi om die wraak weg te laat en deel van God se grenslose ontferming te word.

(2) Die vroeë Christene het na die eerste Paasfees Jesus se kruisdood op verskillende wyses probeer verstaan. Een wyse was om dit as ‘n offerande te beskou – nie van mense aan God nie maar van God ter wille van mense.

Die antieke offerkultuur is nie in alle opsigte so vreemd as wat ons dink nie, verduidelik Klaus Nürnberger, ‘n merkwaardige Suid Afrikaanse teoloog. Offers is ‘n voorwaarde vir biologiese lewe, dit is ‘n kosmiese beginsel. Behalwe vir lewe op die laagste vlakke offer alle lewende organismes hulle lewe sodat ander kan lewe. Oorlewing is altyd ten koste van ander se lewe.

Die mens wat aan die bopunt van die voedselketting is, leef nie net op grond van die diere se lewe nie maar ook ander mense se opoffering van tyd en energie. Niks word sonder opoffering bereik nie.

Dit is nie offers wat onaanvaarbaar is nie maar parasitisme. Parasiete leef op offers maar offer nooit self op nie. So is die moderne mens. Ander mense word benut vir die voordeel en wins wat uit hulle gemaak kan word. Die natuur word gemyn vir eie genot en bevrediging.

Die gevolge hiervan is katastrofies. Mense is ingestel is om vir hulleself te neem en nie op te offer sodat ander ook kan kry nie. Dit lei dat frustrasie en woede tot ‘n punt styg waar dit enige oomblik in misdaad, geweld en selfs oorlog kan oorgaan.

In sy gebruik van die natuur oorskrei die mensdom nou die drempel waarbinne die natuur haarself weer kon herstel. Die natuurbronne word gevolglik ten dode toe benut.

Om in God te glo, beteken ons aanvaar dat God sy skepping en sy “seun” as offer gee. Ons herken ons eie parasitisme en laat dit vaar maar volg God in sy opoffering. Vir Nürnberger beteken dit deelname aan God se kreatiewe gesag, sy omvattende visie en sy reddende omgee vir alles wat bestaan. “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is” – Hebreërs 13: 16.

Ons lewe van offers. Ons laat lewe deur self ook offers te wees.

3 Kerkwees as ‘n beweging en nie as ‘n instituut nie (D Bosch)

4 Karaktervorming op ons kerklike agenda

Dit is ironies dat ons te midde van ‘n moraliteitskrisis selde oor “karaktervorming” praat.

Vir sommige ouers is dit blykbaar nie meer belangrik nie. In ons tyd wil mense eerder hoor hoe leerders op alle gebiede wen en presteer. Dit suggereer aan voornemende ouers dat hulle kind eendag finansieël suksesvol sal wees. Geestelike kwaliteite het ‘n bysaak geword.

‘n Mens hoor die woord “karakter” nog net by ons rugbykapteins: “Ja, my span het vandag goeie karakter gewys”. Waarskynlik verwys dit na die karaktertrek van moed wat mense onder groot druk en te midde van pyn die byna onmoontlike kan laat doen.

By die deug van moed hoort ook geregtigheid, gematigheid en wysheid wat Plato en Aristoteles die 4 kardinale deugde van karakter noem. Bybelskrywers het meermale hierby aangesluit byvoorbeeld “Julle moet alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding…” – 2 Petrus 1: 4-6. Vanuit die geloofsperspektief is geloof, hoop en liefde by die ander klassieke deugde gevoeg.

Sterk karakter word gevorm deur dissipline wat so oorgedra is dat dit selfdissipline word; deur oefening om uit te hou en behoeftes nie dadelik te bevredig nie; deur ontwikkeling van ‘n gesonde selfbeeld wat daarom respek vir ander het; deur wysheid van rolmodelle te kry om tussen goed en beter te kan onderskei; en deur die inlewing van die Bybel- en ander verhale waarin daar met die teenstellings in die lewe geworstel word.

Christus se verhaal werk by uitstek soos ‘n tragedie in die antieke tyd. Dit is ‘n belangrike middel tot karaktervorming. Anders as in ‘n ramp of bose toeval gaan dit in ‘n tragedie om mense wat morele keuses vanuit hulle karakter maak. Dié keuses is lotsbepalend.

Neem Sophokles se Antigone as voorbeeld. Kreon het ‘n passie vir die wet asof dit alleen belangrik is. Daarom weier hy ‘n begrafnis vir Antigone se broer. Antigone begrawe haar broer nietemin al sou dit haar eie lewe kos.

Kreon verteenwoordig eensydige geregtigheid en Antigone verteenwoordig eensydige liefde (JA van der Ven: Formation of the Moral Self).

Hulle het moed nodig gehad om hulle rigiditeit te bowe te kom en gematigheid om hulle passies af te koel. Met die deug van geregtigheid sou hulle meer van “Ek sal goed doen aan ander” kon maak as om vinger te wys met “Julle sal ons nie kwaad doen nie”. Kreon het nie die wysheid gehad om die stadspolitiek se tekortkominge in te sien nie en Antiogene is verblind deur haar fanatiese bloedverbondenheid..

Jesus se verstaan van geregtigheid is dat God alle mense liefhet en dit ook van ons vra. Hy het die moed om dit te bly verkondig en uit te leef al sou Hy daarvoor – letterlik! – gekruisig word.

Jesus se gematigheid spoor mense aan om nie kwaad met kwaad te beveg nie. Ook nie vloerlappe nie maar ‘n derde weg. (Walter Wink). Sy wysheid laat Hom navolgers oplei wat ongeag omstandighede met dié geloof, hoop en liefde bly lewe. Ons moenie met ‘n lysie van reg en verkeerd lewe nie eerder met “wat is liefdevolste?” (Pieter Klopper). Laat mens ebegin om te dink – stel die verskillend estandpunte, moenie altyd oplossings wil gee oor maagdelike geboorte en homoseksualisme nie. Hoekom doen ons dit? Mag?

5 God se beskikking én ons verantwoordelikheid: Die teologie van Deuteronomium

Wil jy gesonder eet en meer oefening kry, of het jy ‘n voorneme om swaarkry-mense te help en getrouer in jou gemeente te wees? Hoe kry ‘n mens dit reg?

Ons sukkel met gedragsverandering. Deel van die probleem is dat ons aanvaar dat die regte houding na goeie gedrag sal lei. Dit is ‘n halwe waarheid. Wag ons vir die regte gevoel om oefenplek of erediens toe te gaan, wag ons tevergeefs.

Hierteenoor lui die slagspreuk van die Nike–handelsnaam: “Just do it!”. In hierdie woorde is veel meer opgesluit as ‘n aanmoediging vir sportlui. Gedragskenners toon dat dade mense se houdinge meermale verander as wat houdinge tot die regte dade lei.

Die ou Griekse filosoof, Aristoteles, pleit dat ons goeie dade net moet doen. Wanneer ‘n mens dit herhaal, word dit ‘n gewoonte. Goeie gewoontes vorm sterk karakters.

Is hierdie waarheid nie al deur Deuteronomium se skrywers ingesien nie? Hoe anders verklaar mens dat in ‘n tyd van armoede en politieke spanning hulle boodskap aan gelowiges was: “Hou vrolike feeste!”

Die gelowiges moes nie indien hulle oes groot genoeg was of indien hulle dankbaargevoelens voldoende inspirasie was na die samekomsplek gaan nie. Hulle moes die feeskalender gehoorsaam en by die fees opdaag. Daar onthou hulle van God en ervaar dat hulle aan mekaar behoort. Deur saamkuier, belydenis, bid en offers word hulle vrolik.

Geniet jou offer deur met jou offergeld bier, wyn en kos te koop, vra Deut 14:26. Om offers te bring, is nie ‘n soort belasting nie maar ‘n feesgeleentheid! Nog meer merkwaardig is dat die opdrag nie behels “Hou oor vir die armes” nie maar “Vier jou offerande saam met die armes”.

Vir Deuteronomium beskik God en ons het ‘n verantwoordelikheid. Deut 29-30 word in Ballingskap tyd voorgehou as toespraak van Moses voor die intrek in die beloofde land.

  • Moses verwys na die verlede: Het julle dan vergeet hoe God ons gedra het tsv ons ongehoorsaamheid? (Let op na ander gedeeltes waarin zkr (gedenk/onthou/herinner) as ‘n heilige taak beskou word)
  • Moses wys na die toekoms. Wat sal die mense eendag sê van ons? Was ons gehoorsaam of nie.
  • Moses wys na die hede. “Vandag” kom14x voor in die preek oor die toekoms. Ons aandeel aan die toekoms is of ons vandag gehoorsaam is aan sy liefdesgebod: Deut 29:29.