{ARGIEF}

‘n Ander variasie van Wolf en Rooikappie (Hierdie bydrae het in BY 16 Mei 2009 verskyn)

Ons het as Suid-Afrikaanse samelewing ons morele kodes verloor. Daar is ‘n gat in die morele osoonlaag en ons is almal besig om seer te brand. Daar word dan ook vanuit verskillende hoeke oor die morele verval besin, soos Naas Ferreira in sy artikel in die By van Saterdag 9 Mei (“Rooikappie en Wolf”) tereg opmerk.  Die teorie van Clare Graves, wat reeds getoets is op meer as vyftigduisend mense in eerste, tweede en derde wêreldlande, bied ‘n baie interessante perspektief op die morele problematiek in Suid-Afrika.  Graves se werk is voortgesit en verfyn deur sowel Wilber as Beck en Cowan wat direk betrokke was by die Kempton Park onderhandelinge voor 1994 asook die “hearts and minds” strategie vir die Springbokspan wat die wêreldbeker in 1995 gewen het.

Volgens Graves vind menslike ontwikkeling plaas deur verskillende sisteme of golwe wat mekaar opvolg, namate ‘n individu se eksistensiële probleme verander.  Die golwe of memes is nie rigiede ontwikkelingsvlakke nie, maar vloeiende golwe wat oor mekaar kan spoel en verweef is in ‘n dinamiese spiraal van ontvouende bewussyn.  Elke volgende meme is meer omvattend en kompleks en omsluit en oorskrei alle vorige memes.  ‘n Meme is terselfdertyd ‘n psigologiese struktuur, ‘n waardesisteem en ‘n spesifieke wêreldbeskouing en daarom voel mense wat in dieselfde meme funksioneer, tuis by mekaar.  Waardesisteme is volgens Graves nie vas nie en verander namate jou omstandighede, kennis, ervaring en spiritualiteit verander.  Jy kan tussen verskillende memes beweeg, stabiliseer in een of aanbeweeg na die volgende as ‘n reaksie op veranderde omstandighede.  Die dominante meme kleur jou manier van dink en doen, jou waardes en etiek, die manier waarop jy glo en jou persepsie van jouself en ander. Beck en Cowan het dan ook ‘n kleur aan elke meme gegee en so die fokus verskuif van swart, bruin en wit mense na rooi, blou, oranje en groen mense.  Dit gee ook ‘n ander, meer genuanseerde perspektief op die dieperliggende diversiteit in ons land. 

  1. In die beige meme (argaïes-instinktief, 0.1% van alle volwassenes) gaan dit slegs om fisiese oorlewing en voortbestaan, om kos, seks en veiligheid en dit word waargeneem by babas, die laaste fase van Alzheimers en verstandelike erggestremde straatmense. 
  2. Die wêreld van die pers meme (animisties-stamgebonde, 10%) word beheer deur goeie en bose magte wat vloeke en seëninge uitdeel, en waar die mens veiligheid soek in etniese stamme. Voorbeelde hiervan is voorvadergeeste, rituele, etniese bygelowe. Daar is groot agterdog teenoor vreemdes en sterk druk om te konformeer met die groep.  
  3. By die rooi meme (krag gode/egosentriese, 20% ) is die wêreld ‘n hond eet hond plek waar net die sterkes oorleef en die wenners al die mag beheer. Dit is impulsief en selfgesentreerd en sigbaar by bendeleiers, Lord of the Flies, despote en oral waar die wenner met aggressiewe ambisie oorheers sonder enige berou of gewete. 
  4. Vir die blou meme (mitologies konformerend, 40% ) word die lewe se sin, rigting en doel bepaal deur ‘n magtige Ander of Orde wat absolute beginsels van reg en verkeerd neerlê. Daar is net een regte manier van doen, wet en orde is ononderhandelbaar en gehoorsaamheid noodsaaklik.  Voorbeelde is puriteins Amerika, Dickens se Engeland, Voortrekkers en Boy Scouts.  Jy leer jou tafels en jou rape word eerste geëet.  Grys areas word nie goed hanteer nie, skuld en vrees funksioneer sterk en reëls en regulasies kan belangriker word as mense. Volgens Beck het Suid-Afrika na 1994 sy blou meme in die vorm van ‘n effektiewe polisiemag te gou afgetakel.  Ook in die onderwys is die blou meme van ken jou tafels, spelwoorde en die periodieke tabel, te vinnig vervang met die kritiese denke van die groen meme, sonder die nodige onderliggende basiese kennis.  
  5. Die oranje meme (wetenskaplik rasionele 30%), sien die wêreld as ‘n rasionele, goed geoliede masjien met natuurlike wette wat geken en gemanipuleer kan word vir eie gewin.  Dit is sterk prestasie-georiënteerd, materialisties en aksentueer persoonlike effektiwiteit, entrepeneurskap, status en selfverwesenliking.  Dit gaan nie om wat waar is nie, maar wat werk.  ‘n Stewige blou meme is ‘n voorwaarde vir enige oranje meme. Naas se opmerking dat die Afrikaner homself nie tuis voel in die rasionele nie, is eenvoudig nie waar nie.  
  6. Die groen meme (relativisties pluralistiese 10%) sien die wêreld as interafhanklik en elke vorm van lewe as kosbaar.  Ekologiese sensitiwiteit, netwerke, waarde-gemeenskappe en omgee vir mekaar vervang rasionaliteit en winsbejag.  Kenmerke is postmodernisme, eko-feminisme, diere-en menseregte, dekonstruksie, politieke korrektheid en subjektivisme. Meeste akademici funksioneer in groen en hulle is ironies genoeg ook die ongeduldigste met ander wat nie soos hulle dink nie.  Niemand spring van rooi na groen, sonder om deur die dissipline van blou en die harde werk van die oranje meme te gaan nie.  Daarom beskadig groen se voortdurende kritiek op blou en oranje homself en die spiraal, want slegs op ‘n sterk blou en oranje fondament kan enige van groen se ideale gebou word. In Suid-Afrika kan ons nie die groen ideale in die grondwet realiseer sonder dat mense vanuit die rooi meme beweeg deur blou en oranje na groen nie.  Naas se kritiek op die kerk en die Afrikaner is primêr kritiek vanuit groen op blou.  
  7. Na die sesde meme maak die mensdom ‘n reuse sprong na die tweede baan van integrerende(geel), holistiese (turkois) en spirituele (pers) denke waar slegs 2% van alle mense funksioneer. Wat hierdie mense soos o.a. Ghandi, Mandela, Moeder Theresa en Jan Smuts onderskei, is die feit dat hulle weet dat elke meme bydra tot die integriteit van die hele spiraal en dat mense ontmoet moet word op die vlak waar hulle is. Dit gaan om restorasie en heling van die totale mensdom en ‘n groter bewussyn van die verbondenheid van die geheel. Dit is vanuit die meme dat die morele problematiek van Suid-Afrika aangespreek behoort te word.
     

Wat het dit met nou met Rooikappie en wolf te doen? Naas het met breë hale die voorafgaande teorie gebruik om die Afrikaner en veral die kerk te kritiseer. Die afleiding kan gemaak word dat hy geïrriteerd is met die kerk, Rooikappie se ma, omdat sy haar dogter so weerloos-naïef deur die woud laat stap, terwyl sy bewus is van die wolf.  Die kerk is egter deel van die samelewing waarbinne hy funksioneer en bestaan uit mense in verskillende memes en hulle het verskillende vorme van spiritualiteit. Die kerk kan nie vanuit ‘n punt êrens buite die samelewing mense motiveer of manipuleer om vinniger deur die verskillende memes te beweeg nie.  Natuurlik het die Afrikaanse kerke growwe foute gemaak in die verlede, maar die kerk het ook intussen voortbeweeg.  ‘n Voorbeeld hiervan is dat daar nou ‘n veel groter erkenning en beoefening van verskillende vorme van spiritualiteit in die kerk is.     
Diegene wat fyn waarneem sal weet dat daar nie nou net ‘n vakuum is soos wat Naas beweer waarin die Afrikaner rondval nie, maar wel ‘n kerk wat nie meer gefokus is op mag nie, maar op diens, wat nie meer opgaan in strukture nie, maar waar gawes sonder ophef gedeel word en mense mekaar se voete op grondvlak was.  Waar die fokus nie meer val op hiërargiese bestuur van bo af en sinodes nie gaan om posisies nie, maar waar mense hul weerloosheid erken en hul interafhanklikheid van mekaar en hul afhanklikheid van hul God bely. Dit is miskien juis ‘n goeie teken dat die kerk stil geword het Naas, want nou praat hulle minder en doen meer. 
Een van die talle bewyse dat die Afrikaner nie vasgevang is in die mitologiese vlak nie, is die Manifesto van ‘n nuwe stadsgemeente wat deur jong Afrikaners self geformuleer is en wat toon dat hulle al die sprong na die tweede baan maak, nie omdat hulle soos Naas voorstel, yoga en tantriese seks beoefen nie, maar a.g.v. eerlike denke binne die spiritualiteit van die kerk en ‘n opregte soeke na “… wat dit beteken om saam met Jesus te leef.”   Die manifes verklaar ook : (Die gemeente)…” is bedoel vir mense wat soek en nie settle nie, vir brawe praters en roekelose doeners en nie net getroue troosters of ‘n bevoorregte binnekring nie, want op die pad is die binnekring ook die buitekring … Ons verstaan van God is dikwels anders as wie God regtig is en daarom ook in ons verstaan van God erken ons dat ons nog op pad is. Ons aanbid nie ons idee van God nie, maar die God wat ons idees gee … Ons strewe om aan die een kant die verrassende vrye paaie van die Gees te beleef, aan die ander kant omarm ons die rustige ritmes van orde en oor-en –oor doen, van duidelike vaste, eeue-oue spore… Ons loop die pad van liefde, vrede en regverdigheid … Die aarde moet weer rus anders sal ons kinders nie hier kan woon nie. Ons is nie net op pad hemel toe nie maar ook terug aarde toe…” 
 
Miskien sal mense nou begin raaksien dat Rooikappie se ma saam met haar deur die bos stap.  Dat hulle langs die pad ouma se kos met die honger wolf deel en hom dalk selfs saamnooi om by ouma te gaan kuier, want as die wolf nie meer honger is nie en as hy kan lees, skryf en werk, hoef niemand meer vir hom bang te wees nie. Maar terwyl dit gebeur moet die houtkapper (die reg) asseblief steeds in die bos wees!!

Bronne:
Beck D E en Cowan C 1992 The human Spiral and the emergent flow of Value Systems development. Denton Texas National Values Centre.
Beck D E & Linscott G 1991 The Crucible: forging South Africa’s future. Denton Texas, New Paradigm Press.
Graves C W 1974 Human nature prepares for a momentous leap. The Futurist April.
Wilber K 2000 Intergral Psychology Shambhala Boston.
Wilber K 2001 A Theory of Everything. Gateway Boston.

Jeanette de Klerk-Luttig

Jeanette is ‘n buitengewone senior dosent by die Fakulteit Opvoedkunde en navorsingsgenoot by Communitas/Buvton, Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch.