Invictus – onverslane, onoorwonne
As die nag swart oor my strek
en in die donker lug
ek ontelbare ligte hoog sien brand,
dank ek die God wat my vry maak
om te kies watter lig my baken is.
In donker omstandighede en wat ook al die noodlot bring, oorwin bestemming en kans nie
en word ek steeds wyser wakker
oor die lewe en sy dinge
en steeds is my wil vry
om te besluit waar my woorde
en dade hoort, hetsy reg of verkeerd
en in alle dinge antwoord ek net aan Hom wat die Kaptein van my lewe is.
[Verwysings: Invictus deur William Ernest Henley en The Soul’s Captain deur Orson F. Whitney.] (Gert Strydom) www.woes.co.za
In die Evangelie heers kennelik ‘n gees van oorwinning. Aan die kruis was Jesus se gesig vol bloed, maar sy gees was ongebroke. (My head is bloody but unbowed.) Hy is ons voorbeeld van, en inspirasie vir, ‘n gees wat nie oorwin kan word nie. Ons is volgelinge van die Kaptein, wat as onoorwonne ons oorwinning lei.
Mag volgelinge van Jesus steeds deur die Evangelie se versoenende krag geïnspireer word. Ek glo dat God deur sy lewegewende Woord en Gees ons in staat stel om onversoenlikheid en haat, bitterheid en vyandskap, te oorwin; dat Hy sy volk in staat stel om in ‘n nuwe gehoorsaamheid te leef wat in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring (Belydenis van Belhar).
Madiba se gees van versoening is evangelies kragtig. In hom sien ons iets van God se liefde wat ‘n mens vry kan maak. Al gebeur verskriklike dinge met ons, is dit moontlik dat ons oorwinningsbeker bly oorloop en nooit leeg raak nie (Rom 8: 31-39). In donker omstandighede en wat ook al
die noodlot bring, oorwin bestemming en kans nie (Strydom). Madiba se selflose optrede dui op ‘n onoorwonne gees. Dit is iets soortgelyk aan wat Paulus as ‘n reuse-oorwinning deur Hom wat ons liefhet, beskryf.
Pieter van Niekerk
Fliekresensie in Die Kerkbode