{ARGIEF}

In ons saamdink oor waardes die week gaan dit vanaand oor families as die primere plek waar waardes gevestig word.  Een van die belangrikste funksies van ‘n gesin is om karakter te bou en waardes te vestig in kinders en dit word al hoe moeiliker, want vir die eerste keer maak ons kinders groot in huise sonder mure. Gesinne word ingeneem deur die tegnologie, deur rekenaars en TV waar alles letterlik in huise instroom en kinders besoedel word deur gemors wat hulle nie op hul ontwikkelingsvlak kan hanteer nie

Hoe vestig ons waardes in gesinne? Eerstens deur goeie verhoudings te bou met ons kinders, want sonder liefde, omgee, vertroue en respek kan kernwaardes nie gevestig word nie. Kinders moet weet wat die kernwaardes van julle gesin is, maar hulle het veral waardes met ‘n vel om nodig, daarom is jou voorbeeld deurslaggewend en is wat jy elke dag doen baie belangriker as wat jy sê. Deur die gesprekke in julle gesin, dit waaroor gepraat word, die musiek waarna geluister word, die stories wat vertel en gelees word kan waardes gevestig en karakter gebou word. Deur die eeue was stories ‘n kragtige middel om karakter te bou. Wanneer ‘n gesin besig is met projekte, bv. om ‘n weeskind te borg of om indringerplante uit te roei kan die waarde van omgee vir ander en die omgewing gevestig word. Deur met jou kinders te gesels oor etiese dilemmas en ook na hulle opnies te luister of dit nou ‘n onregverdige skeidsregter is of ‘n boelie in die skool, kan jy hulle help om oor waardes te besin.

Die slaggate waarin ouers dikwels val wanneer hulle waardes wil vestig by hule kinders is:

  • om voorskriftelik waardes voor te preek wat hulle self nie leef nie
  • om te fokus op selfbeeld en nie op karakter nie.

Hulle besef nie dat ware selfagting juis kom van etiese gedrag en die resultaat is daarvan dat jy kernwaardes leef en daarom besig is om van die wêreld ‘n beter en leefbaarder plek te maak.

Ouers is dikwels meer ingestel op die prestasie as op die karakter van hul kinders en gee baie aandag aan dit wat hulle kinders moet weet en kan doen maar fokus nie op watter soort mense hul kinders word nie.

Ouers is ook dikwels te veel ingestel op reels en fokus negatief op die straf vir die oortreding van reels i.p.daarvan om te fokus op die die positiewe leef van waardes,

Spreuke 22: 6 staan Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. Efesiers 6:4 Die Boodskap moenie julle kinders so behandel dat hulle nie meer na julle wil luister en rebels raak nie. Maak hulle liewer groot soos die Here van julle verwag. Leer hulle wat om te doen en help hulle op die regte pad, al moet julle soms streng optree.

Laat ons bid.  Ag Heer, dit is nie vandag maklik om ons kinders se karakter te bou en kernwaardes te vestig nie.  Ons sukkel self om die waardes te leef en is nie eers altyd ‘n goeie voorbeeld vir ons kinders nie.  Ons het so dikwels nie die wysheid om aan ons kinders leiding te gee nie en ons maak foute, daarom kom ons na U toe want U beloof dat as ons wysheid kortkom ons dit van U kan bid en dat U die aan ons sal gee. Heer help ons asseblief en gee aan ons die wysheid om so leiding te gee aan ons kinders dat  kernwaardes deel van hul karakter sal word en hulle eendag, as ons nie meer daar is nie, hul lewens daarvolgens sal rig.

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk