{ARGIEF}

Omdat ons die week in meditasie gaan fokus op waardes wil ek u graag die verhaal van ‘n seun vertel.

Kom ons noem hom Jan en kom ons sê Jan is gebore op ‘n groterige dorp in Suid Afrika met ‘n ma ’ n pa en ‘n ouer broer en suster.  Jan was ‘n gelukkige, gesonde kind wat soos enige ander kind baie geleer deur dit wat hy sien en hoor.  Een dag toe hy saam met sy ma gaan inkopies doen, het sy met ‘n tydskrif onder haar arm by winkel uitgeloop, en toe hulle in die kar kom het sy besluit om nie terug te gaan en daarvoor te betaal nie, want almal doen dit mos af en toe.  Sy suster het dikwels aan ontbyttafel gesê dat sy nie haar huiswerk gedoen het nie, maar dit is niks, want sy sal dit sommer pouse gou afskryf by haar maats, want almal doen dit. Sy broer het gespog dat hy en sy pelle hulself ouer voorgedoen om te kan drank koop, want almal doen dit so.   Sy gesonde pa het een aand aan tafel gesê dat hy nog siekverlof oor het by die werk die jaar en dat hy daarom vir die week by die huis gaan bly.  Sy vrou moes net die volgende oggend die werk bel en sê dat hy siek is, want eintlik doen almal dit so.  Wanner hulle met vakansie gegaan het het sy pa dikwels sy gejok oor sy kinders se werklike ouderdomme, sodat hy minder kon betaal.

Jan het na skool in ‘n besigheid gegaan en gesien dat die meeste van sy kollegas in groot huise bly en met groot, blink motors ry.  Omdat almal so groot leef het hy eers op klein maniere en toe al meer sy inkomste op ‘n oneerlike manier begin “aanvul” en gedink dat hy dit later sal terugbetaal, want almal doen dit maar so, het hy gedink.  Ongelukkig vir Jan is hy uitgevang en gevonnis tot 6 jaar in die gevangenis omdat hy geld gesteel het.  Die kernvraag is nou:  Wie is almal skuldig?

Besef ons dat elke keer as ons as ouers nie in lyn met ‘n kernwaardes soos bv. eerlikheid, verantwoordelikheid en respek optree nie, dan breek ons ‘n stukkie van die morele vesel van ons samelewing  en  gee ons ‘n boodskap aan ons kinders, dat die waardes nie regtig belangrik is nie.

Aan die ander kant is een van die belangrikste dinge wat ons kan doen vir ons kinders se karakter en geluk, om positiewe kernwaardes te vestig en dit word veral gedoen deur die manier waarop ons elke dag leef, deur die klein en groot besluite wat ons maak, deur die dinge wat ons doen en nalaat om te doen.

Kinders is baie ingestel op dit wat hulle sien en hulle wil sien hoe die mense wat vir hulle belangrik is, hul ouers en onderwysers, kernwaardes  leef. So gesien beteken ouerskap om die mens te wees wat jy kan en behoort te wees en so na aan jou kind te leef dat dit afgee.

Die Boodskap:Spr 4 :23 Let mooi op hoe jy jou lewe inrig en kyk waarheen jy stap.  Jou manier van leef, bepaal jou geluk!

Gebed: Heer help ons asseblief om so te lewe dat dit aan ons kinders kan afgee.  Amen

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk