{ARGIEF}

Ons dink die week saam oor waardes en een van die kernwaardes,  eintlik ‘n waarde wat onderliggend is aan al die ander waardes is morele moed.  Die moed om te leef volgens jou waardes vorm die grondslag vir al die ander waardes.  CS Lewis het gesê Courage is not simply one of the virtues, but the form of every virtue at the testing point.

Een van die mooi voorbeelde van morele moed uit ons geskiedenis is die optrede van Generaal De La Rey tydens die 2de Boereoorlog.  Toe hy hoor dat general Methuan wat aan die opmars was na Kimberley,  gewond is, het hy hom met sy eie perdekar gaan oplaai om hom na die hospitaal in Kimberley toe te neem, sodat hy goeie mediese versorging sou kry.  Baie van sy manskappe het egter nie saamgestem nie en daar was ‘n hewige vergadering in die veld, voordat Generaal De La Rey hulle oortuig het dat dit die regte en eerbare ding is om te doen. Sy vrou Nonnie, wat op daardie stadium besig was om in die veld voor Methuan se manskappe te vlug, het toe sy hoor dat hy gewond is, vir hom ‘n gaar hoender hospitaal toe geneem.  Genl De La Rey  het die morele moed gehad om teen die mening van die meerderheid in te gaan en het bly staan by sy morele oortuiging.

Het ons nie vandag oral, in ons huise, skole, op die sportveld en in die openbare lewe mense nodig wat die morele moed het om keuses te maak in lyn met kernwaardes in die Skrif en nie ter wille van gewildheid en applous nie?

  • Dit vra moed om teen die stroom van die opinie van die meerderheid in te gaan en op te staan vir wat reg en billik is,
  • Dit vra moed om nie te vloek nie, al is dit die gebruikstaal van die meerderheid
  • moed om eerlik te wees oor ‘n lynbeslissing, al kan dit jou dalk die wedstryd kos
  • moed om nee te kan sê vir korrupsie, al maak dit jou ongewild by kollegas
  • Moed om op te kom vir die “underdog,” al en staan jy alleen
  • Moed om openlik te wees oor jou geloofsoortuiging, al spot ander jou as outyds.

Waar kry mens die morele moed? Deur naby te leef aan die oorsprong van alles wat Goed en Waar is.   Dit is nie maklik om teen die mening van die meerderheid in te gaan en te leef in lyn met die kernwaardes in die Skrif nie, maar gelukkig is ons nie alleen nie en sal ons Hemelse Vader vir ons morele moed sal gee as ons Hom daarom vra.

Ons sluit af met die gebed van Piet Naude in die Groot Gebedeboek waarin  hy vra vir morele moed:

Here dit is vandag nie meer maklik

Om aan die goeie en die ware te glo en daarvolgens te probeer lewe nie.

Help my tog om op U krag alleen te steun.

Maak nie saak wat die wereld sê nie: my rigtingwyser bly U goedheid en waarheid.

As ander dink en is outyds en my idees uitgedien,

Weet ek die riglyne in u Woord staan al duisende jare: getoets deur vele voor my

En gewaarborg deur U self.

Daarom al wankel die waardes

Staan ek sterk soos ‘n welige olyfboom.

Hulle wat U misken, roer my nie.

Ek prys U: die Goeie en die Ware. Amen

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk