WAAROM RAAK GEMEENTES ONGEËRG OOR MORELE VERANDERING?

Written by webmeester on . Posted in Geloofwaardigheid

Parallel met die eerste vyf boeke “van Moses” rangskik Matteus op simmetriese wyse Jesus se boodskappe in vyf groepe.

In die middelste groep vind ons die gelykenisse oor saad (Mat 13). Die een artikel wat vir die antieke mens kragtig en tegelyk kwesbaar was, is saad. So is Jesus se woorde ook. Dit wat van lewensbelang is, kan ons maklik vermors.

Jesus keer ons vrae om. As sy dissipels oor sy identiteit wonder, vra Hy “Wie sê julle is ek?”. As mense ‘n definisie vir “naaste” soek, draai hy dit om na: “Vir wie is jy ‘n naaste?” As ons wil weet hoekom die reaksie op sy woorde swak is, vra Hy: “Hoe ontvang jy die saad?”.

Die kernbelydenis van die eerste vyf Bybelboeke help ons om hierdie hart van Jesus se boodskappe te kan antwoord:

Ontvang ons die saad op die harde pad deur net daarvan kennis te neem of deur God van harte lief te hê? Ontvang ons die saad op die klipbank deur uiterlike vormgodsdiens of deur God met ons hele siel (lewe) lief te hê? Ontvang ons die saad saam met al die onkruid of deur God ook met die kragte van ons verstand en besittings lief te hê?

Die kwesbare saad het ‘n kragtige uitwerking as ons dit met ons hele menswees ontvang. Helaas het ons dit op verskillende wyses gereduseer:

2 Die redusering van moraliteit tot volksmoraal (Civil Religion)

Daar is onsekerheid onder godsdienssosioloë oor wat presies “Burgerlike Godsdiens” sou wees. Schieder (1987, Civil Religion – Der religiöse Dimension der politischen Kultur) som dit op : “Religion ist wieder ‘in’ – auch in der Politik. Immer häufiger greifen Politiker auf religiöse Formeln Zurück. Nationale Symbole und Religiöse Rituale werden nicht mehr verschämt, sondern mit Stolz präsentiert”. Dit mag onduidelik wees wat Burgerlike Godsdiens sou wees maar die saak naamlik dat die politieke ‘n wesenlik invloed het op die godsdiens moet duidelik wees en ons sensitief, krities en agterdogtig maak.

Robert Bellah (verskeie publikasies van ongeveer 1957 – 1985) is seker die bekendste navorser op die gebied. Maar SA is van lankal af een van die mees gunstigste navorsingsvoorbeeld van hoe politieke groeperinge elk hulle eie godsdiens ontwikkel het om hulle “nomos” (Berger & Luckmann) te legitimeer. T Dunbar Moodie (1975, The Rise of Afrikanerdom: Power, Apartheid and the Afrikaner Civil Religion) skryf by Berkeley byvoorbeeld een van die merkwaardige studies hieroor. Is dit net ons wat onbewus is hieroor?

Ons eie Murray Janson het wel al in 1959 (Sodat ons weer waarlik kerk kan wees) teen “volksgodsdiens” gewaarsku maar slegs die vlak geloofskeuse (bv geen hek by doop, katkisasie ens) word daarin gekritiseer en hoewel dit vir tug pleit sluit tug nie ondersoek in na moontlike “nasionale” sondes nie.

Die invloed van “burgerlike godsdiens” op die morele is ooglopend. Persoonlike sondes (rook, dans, vloek, dobbel – sogenaamde mikromoraal) kry alle aandag, sosiale probleme (rassisme, klassisme, genderkwessies, ekologie – makromoraal) word geïgnoreer.

Ten einde “wat goed is vir die volk is goed vir God” reg te kry, moet geloofsoortuiging(e) deur nasionale belange gemanipuleer word. Nürnberger (1988, Power and beliefs in South Africa) meen dit gebeur op 3 wyses:

  • Die oortuiging (ultimate) word geherinterpreteer om die belange te ondersteun (bv kapitalistiese liberalisme is goed want die hele samelewing baat daarby);
  • Die belange word so aangebied dat dit skynbaar aan die oortuiging voldoen (bv ons maak oorlog in SWA/ Latyns –Amerika want dit beveg die godlose kommunisme);
  • Die belange val buite die oortuiging se seggenskap (bv die bergrede het met private moraliteit te make nie met staatsake (Bismarck), besigheid is besigheid, dominees moet hulle uit politiek hou ens).

3 Die redusering van die versoening tot die “objektiewe versoeningsmodel”

Uit die Bybelse beelde oor Christus se versoenings- en verlossingswerk het drie hoofweë ontwikkel om versoening te verstaan. Dit bring nie net ‘n geestelike armoede mee wanneer ons slegs een die weë bo  die ander verkies nie maar ook ‘n gevaarlike morele redusering:

* Die weg van oorwinning (sg Klassieke versoeningsmodel). Hierdie verstaan van versoening was veral onder die kerkvaders gewild. Hulle het die stryd- en oorlogsbeelde in die Bybel benut. Christus oorwin die bose deur sy weerstand teen versoekinge en sy gehoorsaamheid aan God tot die dood.

* Ons word deel van hierdie oorwinning vanuit ons geloof in Christus as koning oor alles. Met liefde en waarheid beveg ons byvoorbeeld die sonde om medemense volgens ras en klas te stereotipeer.

* Die weg van voldoening (sg Objektiewe versoeningsmodel)(Anselmus: Cur Deus Homo?). Hierdie verstaan van versoening was in die Middeleeue gewild toe ontering van ‘n feodale heerser alleen herstel kon word deur die oortreder of iemand in sy plek te straf. Christus se kruisdood is as voldoening/vereffening/ satisfaksie beskou. Christus se offer het God se oordeel verander soos ‘n feodale heerser wat “satisfaksie” gekry het. (Christus het God se wil kom toon en nie God kom verander nie – inteendeel!). In ons plek het Hy aan God se eise voldoen en die oordeel afgeweer.

Danksy God se genade kry ons deel aan Christus se hoëpriesterlike versoeningswerk. Uit dankbaarheid vir Christus se verdienste kan ons mekaar voortaan vergewe.

Hierdie objektiewe versoeningsmodel van Anselmus het in ons kerkleer en –praktyk die enigste aanvaarde model geword. Tesame met ‘n oorbeklemtoning van die offer- en handelsbeeld om die kruisgebeure te verklaar ten koste van ander beelde (tempelmuur, herderbeeld, militêre beeld ens) is die heil versmal tot kennisname van wat God gedoen het. Dat die verlosssingsgebeure juis moet uitloop op nuwe gedrag (bv Efes 1:10, Jakobus, Matteus 7: 21) word verwaarloos.

* Die weg van verandering (sg Subjektiewe versoeningsmodel wat aan Abelardus verbind word). Hierdie verstaan van versoening is ook oud maar het eers in die moderne tyd gewild geraak. Christus se lewe en sterwe bring ‘n reaksie in ons. Sy liefde vir ons skep wederliefde. Soos die soldaat by die sterwende Jesus aan die kruis verander dit ons harte.

Christus is die profeet wat ons op God se pad bring. Sy Gees open ons oë vir selfmisleiding. Ons kan ons afkeer teenoor ander selfs op godsdienstige wyse regverdig. Hy laat ons insien dat God van ons opofferende liefde vra sodat daar ook ware versoening tussen mense kan kom.

4 Die redusering van die heil tot persoonlike moraliteit

“Julle dominees troos mense in hierdie tyd van wanhoop maklik met goedkoop woorde en mikromoraal ”, vermaan my kritiese vriend. Om sy erns te benadruk, haal hy Jeremia aan: “Julle preek vrede, vrede terwyl daar geen vrede is nie…” Die pynlike taak om die groot veranderinge wat ons moet maak, te verkondig bly agterweë.

Die behoefte aan “Glo net; God beheer”- en “ons lewe moet heilig wees” – preke is begryplik maar gevaarlik. Dit kan diegene agter hoë mure gerus maak om aan te hou met hulle soort lewe. Geloof in God behoort ons eerder moed te gee om krisisse ten goede te benut, oor grense te tree en self te verander.

In haar poging om Christene van gevaarlike passiwiteit te bevry, gebruik Dorothee Sölle die klassieke geloofsbegrip “plaasbekleding”. Tradisioneel beteken dit dat Christus ons plek voor God én God se plek voor ons inneem.

Aan die einde van haar boek Stellvertretung (“Plaasbekleding”) vat Sölle haar nuwe verstaan daarvan saam:

“Toe die tyd vervul is, het God lank genoeg iets vir ons gedoen. Hy het Homself op die spel geplaas. Hy het Homself afhanklik van ons gemaak en Homself geïdentifiseer met diegene wat nie met hulleself geïdentifiseer kon word nie. Nou is dit tyd om iets vir God te doen”

Sölle help ons om in te sien dat ons God verteenwoordig en daarom verantwoordelikheid vir versoening in ons land moet neem. In Christus se plek moet ons ly vir dit wat reg is.

In sy reaksie op Sölle erken die Nederlandse predikant, J Overduin, dat Christus “voorganger en voorbeeld” is maar wys dat Christus tegelyk ook “versoener en verlosser” bly. Ons kan sy radikale liefde net verteenwoordig vanuit die geloofservaring dat Hy in ons plek gely het. Ons verteenwoordig Hom nie in sy afwesigheid nie.

5 Die redusering van die morele tot Gesinnungsethik: Max Weber open ons oë vir Verantwordungsethik

‘n Mens is geskok dat die derde slaaf in die bekendste van Jesus se gelykenisse so swaar gestraf word.

Drie slawe kry elkeen goue munstukke. Die derde hanteer syne vanuit ‘n tradisionele gesindheid. Die eerbied wat hy vir sy eienaar het, is eintlik vrees. Daarom bly hy by dit wat vir hom die veiligste is. Hy bewaar sy eienaar se muntstuk deur dit volgens Rabbynse voorskrif, te begrawe (Matteus 25:14-30).

Tydens die Eerste Wêreldoorloorlog (1918) sien Max Weber in dat ons beste voornemens, edele motiewe en selfs tradisionele waardes nie betroubare etiese riglyne is nie maar ontaard in “slagspreukdenke”. Ook in Suid Afrika herken ons in vorige en huidige leiers – maar ook in onsself – iets van die derde slaaf. ‘n Goeie gesindheid, ‘n lewe in lyn met die tradisie is nie genoeg nie.

In die plek van ‘n etiek van gesindheid word ‘n etiek van verantwoordelikheid voorgestel. Verantwoordelikheid is om aanspreeklikheid vir die aarde en alles wat lewe te aanvaar. Dit is daadwerklike optrede ter wille van die toekoms.

Verantwoordelikheid beteken daarom dat ons deeglik die gevolge van keuses sal bereken. Wat is die gevolge as ons geweld met geweld beveg; as ons mense volgens hulle ras stereotipeer; as rykes nog ryker en die armes net armer word?

Wat gaan gebeur as jy ‘n kind verkleineer; as jy dissiplineloosheid toelaat en as jy die aarde nie as ‘n heilige erfenis versorg en herstel nie ?

Die eerste twee slawe het aanspreeklikheid aanvaar. Hulle weet daar kom ‘n dag waarop hulle verslag moet doen. Hulle plaas hulleself op die spel. Hulle ontvlug nie die verbintenis tot die opdrag deur die omstandighede of die eienaar die skuld te gee nie. Hulle woeker met die geleenthede wat hulle kry.

Die muntstukke is simbolies vir geleenthede om die wil van God – volgens Matteus liefdesdade – te kan doen. Dis liefde – selfs vir die vyand – wat die Eienaar blymaak en die twee slawe by die groot feesmaal laat aansit.

 6. Die gebruik van die Skrif in sy letterlike vorm om die hele werklikheid te verklaar, bring ongeloofwaardigheid mee: Karen Armstrong se verduideliking van die verskillende rolle van “logos” en “mitos”

Armstrong (2009, The Case for God) was vroeër ‘n toegewyde non, later ‘n felle godsdienskritikus en is tans ‘n bekroonde skryfster. Sy help mens om tussen godsdiens se koring en kaf te onderskei. “Onthou”, vra sy, “dat daar voor ons moderne tyd twee aanvullende wyses was waarop kennis verkry is”:

* Deur die logos (rede) het mense geslaag om goed te organiseer asook om werktuie te maak waarmee hulle die omgewing kon tem.

* Deur mites en rituele het ambisieuse mense geslaag om in ‘n verwarrende wêreld met hoop te leef.

Godsdienstiges wil graag dat hulle lewens moet oorloop van betekenis. Daarom soek hulle te midde van pyn en teleurstellinge na vrede en na moed om hulle vrees vir mislukking en die dood te oorwin.

Kennis deur mites werk soos kuns. Dit gee nie ‘n eksakte of akkurate weergawe van die verlede nie maar bied ‘n verklaring vir wat gebeur het en steeds aan die gebeur is. Die geloofwaardigheid hiervan stel jy nie met logiese argumente vas nie maar alleen deur die rites hiervan te beoefen.

Soos musiek ontsluit mitiese kennis in jou dieper vlakke van potensiaal. Die bewuste logiese wyse van kennisverkryging moet juis gesystap word.

In die moderne tyd het kennis deur die logos egter sulke opspraakwekkende resultate verkry dat mites met leuens vereenselwig is. Godsdiensleiers het by die verskraling – kennis alleen deur die rede – ingeval en ‘n logiese godsdiens met mitiese stene probeer bou. (Die toergids sê: “Hier het die Barmhartige Samaritaan die verwonde genees”!!) Dit maak die Christelike godsdiens ongeloofwaardig by talle denkende persone. Boonop word dit vererger met die arrogante wyse waarop ons dikwels oor alles en almal kommentaar gee. Blykbaar besef ons nie goed wat alles in God se naam deur die eeue gedoen is nie en onthou ons nie eers dat ons enkele dekades gelede nog met groot sekerheid verkondig het dat apartheid Bybels is, dat vroue hoede na die erediens moet dra, dat dans sonde is nie…

Wanneer ons ophou om met godsdiens antwoorde te wil gee op vrae wat vir die verstand bedoel is (soos bv ouderdom en ontstaansproses van die aarde)…Wanneer ons vanuit respek vir die eie aard van die Bybel ophou veg vir die letterlike waarheid van elke vers…Wanneer ons erken ons weet nie … kan ons dalk weer God ervaar!

Waarheid van Bybel is nie liniaalwaarheid (fundamentalisties – modern), ook nie horlosiewaarheid (relativisties – laat modern) nie maar relasioneel, soos ‘n reisgids oor London…

7 Armoede aan spirituele dissiplines en liturgiese rites

 

Vergelyk Richard Foster, Willem Nicol, Buvton-navorsing

 

8 Die atmosfeer van ‘n gemeente en die rol van die leraar

Ons het leiers met integriteit dringend nodig. Hoewel ons dié gebrek op die politieke terrein die seerste aanvoel, geld die nood ook in ons maatskappye, skole, gemeentes en gesinne.

Morele geregtigheid behels meer as juridiese geregtigheid. Mugabe voer immers sy terreur binne die wet uit. Vanuit ‘n magsposisie manipuleer mens maklik die reëls. Leiers ontwikkel morele integriteit deur onder andere:

* Die atmosfeer wat hulle skep. Ons almal het al ervaar hoe die atmosfeer van ‘n land, skool of gemeente verander wanneer die leierskap wissel. In ‘n atmosfeer waar na mense geluister word en almal aanvaarding kry, vind jy hartlike samewerking en groei.

* Die wyse waarop hulle kommunikeer. Daar is leiers wat op oordonderende wyse opvattinge oor byvoorbeeld hulle teenstanders in stand hou. Ons is eties gesond wanneer ons nie ander se menings op subtiele wyse verdraai nie en erken dat ons interpretasie van stellings en syfers met ons eie voorveronderstellings gekleur is.

* Die soort ondersteuning wat hulle vra. Goeie leiers kloon nie blinde navolgers nie maar tree deursigtig op. Hulle verduidelik die dilemmas en die langtermyn gevolge van elke moontlike keuse waarvoor hulle as gemeenskap te staan kom. Ter wille van gewildheid teer hulle nie op mense se gemak met die tradisionele nie. Op moedige wyse bemagtig hulle eerder volgelinge deur inligting oor die noodsaak van verandering.

* Die wyse hantering van foute. Tom Peters vertel in sy boek, In search of excellence, van die werknemer wie se fout sy maatskappy miljoene dollar gekos het. Die bestuur dank hom egter nie af nie. Hulle dra die skade. Uit die fout leer almal. Waar mense te bang vir foute raak, waag niemand meer met oplossings nie.

Jesus dra ons sonde. Navolgers van Jesus trap nie langer op foutmakers nie maar dra hulle foute. Waar dit in gemeentes, gesinne en werkplekke gebeur, ontstaan ‘n nuwe atmosfeer.

*   Die ernstig neem van mense se pyn. Moet dit nie te gou in perspektief plaas om jou eie ongemak en stilswye te verlig nie. Dit mag ‘n tiener wees met ‘n liefdesteleurstelling. Dit mag vir jou na iets kleins lyk. Die pastorale grondhouding is om ander se perspektief en belewenis ernstig te neem.

Trackback from your site.

Leave a comment