Wonderlike goed tussen “praise and worship” deur

Written by webmeester on . Posted in Geloofwaardigheid

Die fokus is op God wat met ons besig is, en nie op my wat met Hom besig is nie. Die doel van die musiek is God en ‘n belewenis van God. In hierdie aanbidding word die aanbidder broos omdat daar in die teenwoordigheid van God inbeweeg word.  Dit is nie ‘n “goedvoel”-emosie nie, maar een van respek en nederige naderkom. Hierdie aanbidding bring verandering in die aanbidder mee. God bly God, maar die aanbidder word al hoe meer verander om goddelik te leef.

John Michalak (http://jonreid.blogs.com/oneanother/2008/03/worship-porn.html) gaan in dié verband nog verder as McKnight. Hy meen dat wanneer hierdie eienskappe, onder meer die totale fokus op God, nie in die lofprysing en aanbidding teenwoordig is nie, dit niks anders as aanbiddingspornografie is nie. Dit is geweldig sterk woorde wat ons al hoe nader aan die beginsels van tempelprostitusie bring. Aanbiddingspornografie is, soos pornografie, ‘n kopie van die oorspronklike, maar met geen verbintenis aan die ander nie, in dié geval die Heilige self. Daar gebeur geen hartsverandering by die aanbidder nie. Die doel met dié aanbidding/pornografie is om ‘n erotiese, intense emosie te beleef, sonder ‘n langtermyn-verbintenis, terwyl die fokus op die eie begeertes is. Die aanbidder verander nooit, kom nooit regtig in beweging om in die wêreld die liefde te gaan leef nie.

Die vroeë kerk het gesê: “Soos jy aanbid, so leef jy.” Dié aanbidders gaan leef maar weer elke dag selfgerig, met min verandering in hul gemeenskappe.  Dit moes egter die een of ander tyd gebeur. Die kerk het al hoe meer die wêreld se simbole probeer kopieer, wat musiek insluit en ook hoe die wêreld oor liefde en seksualiteit dink. Terwyl die kerk ‘n kontra-kultuur moes skep, het hy al hoe meer die wêreld se simbole geïnkorporeer, die verbruikersmentaliteit omarm en ingesuig geraak by die manier waarop daar oor seks gedink word, die absolute reg op bevrediging van die eie seksuele behoeftes.

Daar was in die kerk van Handelinge, in die Nuwe Testamentiese tyd en in die eerste drie eeue van die kerk se geskiedenis beslis ruimte vir aanbidding wat gevul was met woorde van liefde en emosie.  Dink maar aan die manier hoe die vroeë kerk die Bybelse boek Hooglied geïnterpreteer het; die verhouding wat Jesus met Sy kerk gehad het. Die verskil was egter die diep intieme, ewige verbintenis, met die fokus op die Bruidegom. Die mistieke skrywers van die 16de eeu het baie ruimte gemaak om die verhouding met God in liefdesterminologie uit te druk.   Johannes van die Kruis se gedig “Die donker nag van die siel” praat onbeskaamd van die beminde, teerheid en emosie.

Weer eens, die implikasie was ‘n lewensveranderende verbintenis, waar hierdie manne en vroue hul hele lewe in afsondering met God gesluit het. Die doel was om ‘n beter gemeenskap te vestig. Daar is nog ‘n saak wat bykom in die versterking van die erotiek en aanbiddingspornografie: Die beginsel wat vandag al hoe meer aan ons verkoop word dat die kerk ‘n onderneming is. Geestelike leiers maak plek vir bestuurders. Drome wat van God afgebid word, maak plek vir strategiese sessies, beplanning­siklusse en duidelik geformuleerde doelwitte. Die gedagte dat die kerk liggaam van Christus is, vervaag onbewustelik al hoe meer en die kerk as onderneming tree sterker op die voorgrond.

Soos David Ryser (http://onfollowingchrist.wordpress.com/2009/06/12/the-question-that-changed-my-life-by-david-ryser) vra: Wanneer ‘n liggaam ‘n onderneming word, is dit nie prostitusie nie? Hy verduidelik die meeste mense het “tot bekering gekom” omdat hulle glo God sal vir hulle iets doen of gee. Hy sal die gelowige seën – weer eens, in die verbruikerskultuur is dit altyd materieel en finansieel.  Gebede is altyd gefokus op dit wat God aan my moet gee en verskaf. Hoe vroom die gebed ook al mag wees, soos gebede om liefde of vrede in die land, die fokus is steeds my begeertes en my behoeftes waarin God moet voorsien.

Is die kerk ‘n prostituut of die geliefde van die Here? Wat is die verskil?

Iemand wat waarlik lief het, doen dit onvoorwaardelik. Daar is geen teenprestasie wat verwag word nie. Daar is trou en lojaliteit en die fokus bly die Beminde. ‘n Prostituut bly getrou solank die betaling geskied.  Ryser vra verder: Wat sal gebeur wanneer God ons ophou betaal? Wat sal gebeur as daar geen “belonings” meer van God se kant af kom nie?  Die kans is baie goed dat die meeste van ons Hom sal verlaat. Ons aanbidding, “praise and worship” verraai ons gesindheid: Ons doen dit om iets terug te kry, al is dit net die genot van die geestelike erotiek of die selfbevrediging deur aanbiddingspornografie.

Is dit vergesog, te kru? Dalk is dit ‘n veralgemening, wat nooit goed is nie, maar wat het die afgelope jaar op kerklike gebied gebeur om hierdie sentiment te onderstreep?  By “Loftus vir Jesus” en ander soortgelyke byeenkomste word daar gevra: “Wie sukkel met swangerskap, wie kan nie kinders kry nie?” Dan word daar gebid vir dié wat hand opsteek, met die grootste oortuiging dat God kinders sal gee!  Ons is oorbekend met die seksuele taal van ‘n hoogsbetaalde vroulike evangelis. Hierdie erotiese inligting word in kerke gedeel met vroue wie se sekshonger mans nie meer bevrediging in hul huwelike kry nie.

Seksonderrig word ook met kinders in kerke gedeel, teen betaling natuurlik. Seks is heilig, maar hoe heilig? God is mos heilig. Is dít nie waar morele verwarring begin intree nie – met kinders wat graag na tienerdienste toe kom om te “praise and worship”, maar ook seksueel aktief is? Hierdie vervaging en vermenging van die geestelike en die erotiese kom die beste in Christelike tyd- skrifte na vore. Veral die tydskrifte wat op die vrouemark gerig is, maar ook dié vir die mans, beeld die vroue onbeskaamd as misterieus en seksueel uit.

Terwyl dit wat in die kerk of op geestelike gebied gebeur, beslis nie wêreldvreemd hoef te wees nie, is daar nou bitter min verskil tussen die wêreld en die kerk. Versterk die “Christelike” media, en hier bedoel ek spesifiek die vrouetydskrifte, nie die beeld van die “onderdanige” vrou en die man as die hoof of koning van die vrou nie? Waarom word gospelsangers duisende rande vir optredes betaal en het baie van hulle bykans kultusstatus? Omdat dit hul werk is! Waarom is ons bereid om vir al hierdie mense te betaal, as dit nie oor ons eie behoeftes gaan nie?

“Praise and worship”-musiek het oor jare heen ‘n soort transformasie ondergaan waar dit nou so “oop” geskryf word dat dit in die kerk gesing kan word óf by Skouspel. Ons is reeds bekend met die Kersmusiek wat in inkopiesentrums gespeel word. Gaan dit egter nog regtig oor aanbidding, “praise and worship”, as hierdie liedere nou ook populêre musiek word, of is die grens tussen kerk en kultus besig om te vervaag?

Ons “geestelike” behoeftes word deur geestelike erotiek en aanbiddingspornografie bevredig, binne-in die kerk, soms buite die kerk, en ons kan dit toedraai in die dekmantel van godsdiensbeoefening of geestelike vroomheid. Of daar egter ooit enige verandering by ons plaasvind, verandering wat deursyfer tot in die gemeenskap, is te bevraagteken.

Hoe ver is ons van tempelprostitusie?

Dr. Johan van den Heever is 'n NG leraar en nasionale koördineerder van die Wêreldgemeenskap vir Christelike Meditasie.

My kommentaar

Dis ‘n ou truuk. Ek reken meer mense het Johan van den Heever se Monduitspoel (By 16.1.2010) met die opskrif “Seks in die kerk” gelees, omdat die woord “seks” soveel aandag trek.

Johan van den Heever se woordkeuse het my aan Amos die skaapboer se monduitspoel preke (ongeveer 760 v.C) laat dink. Veral sy preek oor die koeie van Basan (Amos  4:1-5). Die ryk vrouens in Samaria  word met vet koeie  wat lekker eet vergelyk. Die vroue se sorgvrye lewe was juis daarvoor verantwoordelik dat die armes verdruk en uitgebuit is. Mense se lewenstyl kan direk of indirek tot ander se verdrukking lei.

Amos waarsku weer op ‘n ander keer dat die godsdienstiges moet ophou kerk hou!  Hulle gebrek aan liefde teenoor die naaste veral die geringstes in die samelewing maak van hul kerkdienste ‘n klug. Hulle sing, bid en offer terwyl hulle oneerlik en onregverdig teenoor ander mense optree, hul menswaardigheid ontken en selfsugtig aan hul besittings klou (Amos 5:21-25).

Die woorde “seks in die kerk” “geestelike erotiek” en “aanbiddingspornografie” om die tendense van ‘n bepaalde aanbiddingskultuur en gemeentebestuur in sommige gemeentes te beskryf, dien waarskynlik ‘n doel. Dit is kontroversieel en laat mens goed oor die kerk nadink, maar dit loop die gevaar om deur veralgemening ‘n streep deur die integriteit van kerk te trek. Daar is wonderlike dinge in gemeentes aan die gebeur self tussen die “praise en worship” deur. Die bekende Twee Toringkerk in Bloemfontein het van ‘n eksklusiewe wit Afrikaanse kerk na ‘n God se kerk vir die wêreld geword – soos die wêreld in die middestad van Bloemfontein lyk. Ek kan my indink dat die gemeente ook na die sekswerkers, soos talle gemeentes inderdaad doen, uitreik.

Stephan Joubert praat van die nuwe taal van eietydse kerk as  “familietaal” en “vriendskapstaal”. “Kerklike taal het dikwels ‘n vroom aanwendsel geword. Hierteenoor is die taal van eietydse kerke intiem, eg en naby” Joubert (Jesus ‘n radikale sprong 2009). Dit gaan tog in aanbidding om ‘n verhouding met God, daar is ‘n “ek”/”ons” wat God loof en prys.

Ek stem met Johan oor teologiese kwelpunte in sommige hedendaagse gemeentes saam. Ek is veral besorg oor die gevolge van die voorspoedteologie. Maar lofprying en aanbidding was in Amos se tyd, psalms en gesange in die Apartheidstyd  in baie gevalle selfgesentreerd.

Ek is dominee van ‘n plattelandse gemeente waar lidmate Sionsgesange en koortjies sing en ons probeer a Praise en worship op die been bring.

Trackback from your site.

Leave a comment