Die balans van blou, rooi en groen regte

Written by webmeester on . Posted in Geregtigheid

Menseregte word tradisioneel in drie breë kategorieë, beter bekend as “generasies of geslagte van regte”, verdeel. Die Suid-Afrikaanse handves van menseregte sluit die drie in. Die eerste generasie regte is die tradisionele burger en politieke regte. Dit is regte soos die reg van lewe, persoonlike vryheid en vryheid van spraak en godsdiens. Dit staan as blou regte bekend. Die antie het vanselfsprekend blou regte.

In die twintigste eeu het die tweede en derde generasie menseregte op die voorgrond van die wêreldse menseregtepolitiek verskyn. Die tweede generasie regte is sosio-ekonomiese regte. Dit het ontstaan na aanleiding van die industriële rewolusie. Dit is onder andere die reg tot werk, gesondheid, onderwys, behuising en veiligheid. Die antie is ook hier veronderstel om die reg aan haar kant te hê. Dit staan beter as die rooi regte bekend.

Die derde generasie regte het in die vroeë tagtigs erkenning begin kry. Dit is die reg tot selfbeskikking en ontwikkeling, internasionale vrede en stabiliteit en veral ‘n skoon en gesonde omgewing. Die antie met haar hond sou op die regte kan staatmaak. Natuurlik staan dit as die groen regte bekend.

Die tweede en derde generasie regte is afhanklik van die finansiële vermoëns van die staat. Veral die groen regte is gewoonlik duur. Dit is meer gesofistikeerd en meer toepaslik vir ‘n samelewing met ‘n ontwikkelde ekonomie. Wetgewing is by die regte soms moeilik afdwingbaar. Soos wanneer die staat deur die hof verplig word om neverapien aan HIV-geïnfekteerde moeders te verskaf en die staat verweer dat hy nie genoeg geld het nie. Beter voorbeelde is wanneer daar nie genoeg geld is om aan almal werk te voorsien, behuising te verskaf, water en elektrisiteit te gee nie.

Die bevordering en beskeming van sekere regte is nie vir die regering prioriteit nie en dit lei tot gebrekkige begrotings op die terreine. Die SA regering het ook prioriteite wat baie mense ontstel soos sy stilte teenoor die menseregte skendings veral in Afrika (bv. Zimbabwe) en die wapenhandel aan onderdrukkende regimes. (Die hof het nie beheer oor die regering se geldkas en begroting wanneer dit by die prioritisering van regte kom nie.)

Ek het ‘n paar jaar gelede vir ant Maria van Heerden weduwee van dieselfde bruin (en vandag grootliks swart) woonbuurt van die antie met die hond, aan gevra “Wat het die afgelope tien jaar in haar omgewing verbeter?”. Sy kon net aan dinge wat vererger het dink. Eerste op haar lys is werkloosheid en armoede. Sy (self ‘n voorheen benadeelde, en deel van ‘n minderheidsgroep) sê “hulle (swartes) sorg net vir hulle mense”. “Ons matrieks kry geen werk nie”. Haar vriendin se dogter met matriek was na sewe jaar gelukkig gewees om werk te kry. Sy reken tienerswangerskappe is ‘n ander groot probleem. En daar is in hul klein woonbuurt baie Vigslyers. “Hulle het elders in Suid-Afrika gebly en kom dan as hulle baie siek word, terug huis toe” vertel sy my. Toe ek haar vra of daar nie iets is waar dit goed gaan nie, het sy gesê dat dit by die kerk goed gaan. “Hulle werk goed met ander kerke saam”. Geweld en misdaad was nie op haar lysie gewees nie. Maar vir miljoene bruin, swart en wit inwoners is die beskerming teen geweld en misdaad eerste (of beslis van die belangrikste) op hul lys van regte wat die afgelope jare van demokrasie in Suid-Afrika misken word.

Alhoewel ons handves van menseregte blou, groen en rooi regte bevat, het dit geen “kleurvoorkeur” nie. Dit word nie hiërargies gelys nie. Die verskillende regte is interafhanklik van mekaar. Groen regte (veral die regte wat met die beskerming en bewaring van ons natuurlike hulpbronne te make het) sal tot sy reg kom wanneer minderbevoorregtes die sin daarvan sien, ook vir hulle voordeel inhou en veral wanneer hulle ander regte erken en bevorder word. Sanparke se beleid om die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die arm gemeenskappe langs die parke te fasiliteer is prysenswaardig. Hoe suksesvol dit is weet ek egter nie. Die werk-vir- waterprojek lewer deesdae meer sukses op. Duisendes kry werk en indringerbome wat ons beperkte waterbronne uitput, word uitgeroei.

Bedreigde diere en voël spesies, soos die swart renoster en swart tobie is ver verwyder van meeste inwoners van SA se onmiddellike nood en behoeftes. Ten spyte hiervan, gee dit aan niemand die reg om onverskillig teenoor die aarde op te tree nie. Bewaring bly almal se verantwoordelikheid. Die mens is deur God as rentmeesters van die planeet aangestel. Die balans in die beskerming en bevordering van blou, rooi en groen regte is noodsaaklik vir ‘n gesonde demokrasie. Hopelik gebeur dit by die stembus en deur volgehoue druk deur belangegroepe soos kerke, welsyn – en diereregte organisasies. Burgers moet hulle regte ken, ander s’n respekteer en die regering moet dit beskerm. Anders maak demokrasie min sin en kan die antie met die hond aan die ketting (as sy nie al dood is nie) dalk sê “F#*! al die regte, wat van my…”. En dan gaan ons en ons omgewing die volgende tien jaar ‘n donker toekoms gemoed…

Inligting oor die die blou, rooi en groen geslagregte verkry uit: C J Davel (red) Introduction to Child Law in South Africa (Juta - 2000)

Trackback from your site.

Leave a comment