{ARGIEF}

Pastoor Ray McCauley en Minister Blade Nzimande se uitspattige lewenstyl maak ’n bespotting van armoede. Terwyl die helfte van Suid-Afrikaners  armlastig is, lewe die twee leiers en hul maters in weelde. Mens sou verwag dat die twee vanuit hul “geloof” goeie nuus aan die armes verkondig en  geïntegreerd leef; dat hulle in solidariteit met armes sensitief sou wees en ‘n eenvoudige lewenstyl volg.

McCauley se welvaart teologie het hom in die steek gelaat. Sy  uitgawes oorskry sy maandelikse inkomste. Sy salaris is blykbaar R100,000 per maand. Al is dit 50% minder bly dit ‘n skreiende skande. In die welvaart teologie word gelowiges wat finansieel swaar trek se geloof onder die vergrootglas geplaas. Volgens dié teologie is dit God se wil dat almal welvarend sal wees, anders is daar iets fout met jou geloof. Jy eis jou behoeftes van God met gesag af.

Terwyl Jesus die armstes van die armstes sy broers (susters) noem (Matteus 25) en hulle vir ‘n feesmaal uitnooi(Lukas 14), nooi McCauley net die invloedrykes na sy feeste. Hy het onlangs met sy sestigste verjaarsdag blykbaar nie een van sy kerkpersoneel uitgenooi nie.

Die twee se gejaag na rykdom is ironies. Materialisme en verbruikerisme is vreemde bedmaats van die  Bybelse evangelie. Dieselfde geld vir kommunisme. Ek wonder of Nzimande en sy magnate nie besig is om ‘n moderne voorspoed kommunisme te ontwikkel nie. Hy het dit dalk by McCauley geleer, wat in pro- ANC-regeringskringe hoog gereken word.

Terwyl die welvaart teologie die evangelie van Jesus as ‘n medium gebruik om  geldelike gewin, is die aanhangers van die “voorspoed kommunisme” se verweer die herstel van die onreg van die verlede. Dit ten koste van hul ondersteuners. Die SAKP en COSATU se beleid van vinnige herverspreiding ongeag hoe die ekonomie daarop reageer, het vir  ‘n handjie vol kommuniste bevoordeel.

Nzimande dring daarop aan dat hy steeds ‘n kommunis is en hom vir die werkersklas beywer, ten spyte van sy R1.1 miljoen luukse staatsmotor berig media 24 .

“Ek het nie my waardes laat vaar nie. “Ek dink ook nie ek het my morele leierskap prysgegee nie. Die lot van die werkersklas is nog steeds my prioriteit,” het hy gesê.

Ray McCauley se   pro-ANC houding laat my wonder waaroor sy geloof regtig gaan. Geld en mag? McCauley se Rhema Kerk het die ANC in gebed geword. Hy is die stigtervoorsitter van die National Interfaith Leaders Council en het nie die grootste ekumeniese liggaam van Suid-Afrikaanse Kerke (SARK) na die stigting uitgenooi nie. Die SARK trap dalk te hard op sy Italiaanse invoer skoene Terwyl homoseksualisme as groot sonde met hand en tand beveg word, hoor ek nie sy profetiese stem oor die groot korrupsie binne die ANC geledere en die groter groeiende gaping tussen arm en ryk in ons land nie.

McCauley die super kapitalis en Nzimande die materialistiese kommunis deel dieselfde geloof in die geldgod mammon. McCauley hou dit seker nie teen Nzimande dat hy pro-gay is nie.