Nuwe kinderwet help mens nuut dink oor kinders

Written by Admin on . Posted in Geregtigheid

Nuwe kinderwet help mens nuut dink oor kinders 

Kinders het ‘n besondere plek in Jesus se nuwe wêreld. Hy tree nie op volgens die kultuur en gewoontes van sy tyd nie. Hy waardeer hulle en wys dat hulle sonder enige voorwaardes in God se oë spesiaal is. Die nuwe Kinderwet getuig iets hiervan. Dit het 1 April vanjaar in volle werking getree. Dit is die omvattendste stuk wetgewing wat al geskryf is om kinders te beskerm en hul regte en verantwoordelikhede te bevorder.

Dié kinderwet klop met liberale demokratiese wetgewing en is meeste moderne kinderreg wette vooruit. Ongelukkig is ons Suid-Afrikaanse konteks, met diverse sosio-maatskaplike omstandighede, oorlaaide en soms lomp staatsinstellings nog behoorlik gerat vir die toepassing hiervan nie. Dit is soos baie van ons land se paaie nie geskik is vir ons vinnige en tegnologies-moderne voertuie nie. Die nodige infrastrukture om ons kinders te beskerm is nie voldoende in plek nie en daar word telkemale berig van ontoereikende ondersoeke, onvanpaste hofprosedure, en onbetrokke en onkundige gemeenskappe.

Dis ‘n feit. Ons mooi land se grootste rykdom lê in sy mense, veral in sy kinders.  “Die karakter van ʼn nasie word gemeet aan die manier hoe hy sy kinders behandel” (Nelson Mandela). Die welsyn en gesondheid van ons kinders lê nie net by die staat nie, maar is ook die verantwoordelikheid van die gemeenskap. Huishoudings is een van die heel belangrikste verhoudingstrukture wat gemeenskappe vorm. 

Al is die toepassing van die wet op die oomblik ‘n visie in wording, bied die etos van die kinderwet ‘n waardestelsel vir ‘n gemeenskap om van kennis te neem. Dit gee aan ouers en versorgers ‘n perspektief op kinderregte in Suid-Afrika.

Luister na kinders
Kinders het belangrik geword. Kinders word nie net meer gesien nie, maar na geluister. Selfs klein kindertjies en diegene met een of ander vorm van gestremdheid word sovêr moontlik geakkommodeer om te kan deelneem. Met o.m. egskeiding en aanneming speel die kind se wens ook ‘n rol tydens besluitneming. 

Kinderontwikkeling
Omstandighede waarin kinders opgroei, behoort hul volledige ontwikkeling te bevorder. Elke kind se ouderdom en ontwikkelingsfase, asook (unieke) gepaardgaande behoeftes, word tydens besluitneming in ag geneem. Byvoorbeeld, hoe ouer ‘n kind is, hoe meer verstandelik bevoeg word hy/sy beskou om outonome insette te lewer t.o.v. sake wat hom/haar raak. Of, met die skryf van ‘n ouerskapplan wanneer ouers skei, word aanvaar dat reëlings aangepas sal word soos wat die kind ouer word.

Kinders se verhoudings
Wat ‘n kind self as ‘n betekenisvolle verhouding met iemand anders beskou,  behoort as belangrik gehanteer te word. Veral dood en egskeiding kan ontwrigte verhoudings veroorsaak. Dikwels kry versorgers dit dan om verskillende redes nie reg om hulle eie volwasse kwessies opsy te skuif ter wille van die verhoudingsbehoeftes van die kind nie. Byvoorbeeld, dit is die ma en pa wat skei; nie ‘n pa en sy kind nie.

Die omvattende kinderwet verskuif ook die fokus na die kind se emosioneel betekenisvolle verhoudings met ander versorgers as die moeder, byvoorbeeld die vader en uitgebreide familie. Dit bevorder die regte van beide ouers, asook grootouers ten opsigte van die sorg van kinders. Die ouer se geslag of seksuele oriëntasie bevoordeel hom/haar nie meer in die verkryging van “sorg en kontak” van kinders nie.

Veiligheid van kinders
Kinders behoort onder geen omstandighede aan risiko situasies bloot gestel te word nie. So behoort ‘n gemeenskap die legio risiko’s in gedagte te hou wat met drank- en dwelmmisbruik geassosieer word. In 90% van gevalle van kindermishandeling binne die gesin speel dit ʼn rol (Helpende hand nuusbrief nr. 37, Januarie 2010).

Kinders leer van rolmodelle in hulle gemeenskap. Hulle leer van geslagsongelykheid as hulle met gesinsgeweld groot word. Geweld leer ons kinders die maklikste, maar gevaarlikste wyse van probleemoplossing: aggressie. Tagtig persent van die kinders onder twee jaar wat by Kinderlyn aangemeld word, is as gevolg van skedelbreuke (Helpende hand nuusbrief nr. 37, Januarie 2010).

Volgens die kinderwet is alle professionele persone wat met kinders in aanraking is, asook personeel van en vrywilligers geassosieer met kinderinstansies, verplig om die redelike vermoede van mishandeling en/of verwaarlosing by die staat aan te meld sodat dit behoorlik ondersoek kan word.  Indien sodanige persoon in gebreke bly om dit aan te meld, is dit strafbaar.
Met die nuwe kinderwet is ook ‘n nasionale kinderbeskerming register ingestel. Dit het eerstens ten doel om kinders wat deur mishandeling geaffekteer is, te beskerm deur monitering en/of hulpverlening. Tweedens plaas dit mishandelaars op rekord sodat hierdie persone verhoed word om op enige manier by instansies te werk wat met kinders betrokke is.

Stabiliteit van kinders
‘n Belangrike beginsel wat met emosionele sekuriteit geassosieer word, is díé van stabiliteit. Kinders se leefwêreld behoort sovêr moontlik nie onnodig ontwrig te word nie. Byvoorbeeld, met die nuwe wet kan ‘n persoon (soos ‘n beweerde oortreder) uit die kind se huislike omgewing verwyder word wat ‘n bedreiging vir sy/haar welsyn inhou, eerder as die kind.

Die nuwe kinderwet kan nie liefdevolle ouers en soet kinders kweek nie – dit bied egter ‘n standaard van waardes waarvolgens ons samelewing die welsyn van ons kinders kan dien. Die verwesenliking van dié waardes is die verantwoordelikheid van die burgerlike samelewing, die taak van ouers, versorgers en opvoeders en die diens van geloofsgemeenskappe.
 
Ons word deur die liefde van Christus gedring om die kinderregte te beliggaam en met ander vennote saam te span om by die heling van ons land daadwerklik betrokke te wees.

Pieter van Niekerk

Tags: , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment