{ARGIEF}

Met die teer en veer van professor Floors van Jaarsveld, jare gelede het ons gehoop dat die laagtepunt ‘n draaipunt sou wees. Nou is professor Anton van Niekerk in sy kampuskantoor aangerand…

Ons landsomstandighede kan die blaam vir sulke gedrag kry: ‘n knellende ekonomie, minderhede se toenemende onsekerheid, swak landsbestuur en tekens dat ons staatsorde weg van die onafhanklikheid van die reg en die media kan beweeg.

‘n Dieper oorsaak van sulke uitbarstings is in die manier waarop ons bewussyn geprogrammeer is. Dit gaan nie net in wat ons sien nie maar eerder in hoe ons dit sien. Die wyse waarop ons waarneem, dink en beoordeel is deurslaggewend vir ons gedrag.

Is die aggressie jeens professore as denkleiers nie juis simptomaties van ons weersin teen die hervorming van ons denke nie?

Denkleiers waarsku ons al jare teen die “ideologiese bril” waarmee ons grootgeword het. ‘n Stel aannames vanuit ras-, volks- en ander oortuigings kleur dit wat ons waarneem en bepaal wat ons as feite beskou en wat nie.

Mense uit jou eie groep se wangedrag word verskoon (“dis ons omstandighede”) maar die foute by ander mense word veralgemeen (“dis hoe hulle is”). Selektiewe waarneming bevestig jou eie vooropgestelde idees terwyl dit wat nie hierby inpas nie as uitsondering bestempel word.

Veranderinge aan so ‘n denkpatroon kan daarom nouliks uit waarneming van werklikhede kom. Dit kom deur ‘n herprogrammering van ons bewussyn. Die Bybelgetuies noem hierdie hartsverandering “bekering” en bely dat dit ‘n ingrype van God is.

Gemeentes wat ruimte vir dié werk van God se Gees maak, help mense om waarlik vry te raak. Gemeentes se navolging van Jesus kom egter teen ‘n prys – selfs meer as verbale en fisiese aanranding. Dit kos ons die kruis.

Uit die Woord: “Onthou wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” – Johannes 15:20.

(Uit Woord Onderweg in Die Beeld)