Boksies

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid

Wat ookal jy dit noem, dit geld egter nie net vir predikante nie, noem nou maar enige manier van menswees en iemand gaan ‘n bepaalde stereotiepe daaraan heg. Van motorwerktuigkundige tot prokureur, van doktor tot skoonmaker, van onderwyser tot orrellis. Zulu, Xhosa, Afrikaner. Ryk en arm, geleerd of ongeleerd. Bruin of wit, Afrikaans of Engels. Gelowige of ongelowige. Al hierdie name skep sekere prentjies in mens se gedagtes en maak bepaalde verwagtinge in ‘n mens los.

Wanneer ons egter kyk na die stories wat vertel word oor die groot geeste van toeka tot nou, sien ons keer op keer mans en vroue wat teen die stroom op, die stereotipes van hul konteks afbreek en in die plek daarvan ‘n nuwe manier van menswees vir die res van ons wys. Van Ghandi tot Ingrid Jonker, van Antjie Krog tot Moeder Theresa, van Che Quervo tot Madiba, van Koos Kombuis tot Nataniel, van Aartsbiskop Tutu tot my buurman die kunsinnige Sandton prokureur wat in sy rooi volksie werk toe ry en skaamteloos tussen mercedes en porsch parkeer. 

Een van my gunsteling stories van een van hierdie tydlose geeste is die een waar ‘n Samaritaanse vrou met ‘n baie agterdogtige reputasie vir Jesus op ‘n snikhete Midde-Ooste middag by ‘n waterput ontmoet. Dis net hulle twee. Dis heeltemal ongehoord. As die kerkmense hiervan sou hoor, sou die tonge los wees.

En dan begin Jesus met haar gesels. Sy reageer met skok en verbasing: “Hoe vra wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou water om te drink?” Jesus is besig om die sosio en religiuese gedragskodes van sy Joodse identiteit te ondergrawe. Hy kan in groot moeilikheid beland. Skande op die huis, om die minste te verwag.

Maar so begin Jesus, met ‘n beker water die mure van stereotipes tussen hom en die vrou afbreek. Kort voor lank deel sy haar lewensverhaal met Jesus en voor sy (en die dorpie) en Jesus hulle oë kon uitvee, is almal se lewens vir goed verander!

Nog ‘n mooi storie wat vertel word is van die wit Anglikaanse priester wat tydens die storm en drang jare van ons land se geskiedenis, met ‘n doodgewone gebaar van hoflikheid die mure van rassisme afgebreek het. ‘n Swart vrou en haar seuntjie stap op die sypaadjie in die rigting van die priester, toe hulle groetafstand van hom is, haal hy sy hoed af en groet haar en haar seun vriendelik. Die seun word groot, hy word ‘n man, hy word ‘n profeet, hy word deel van die revolusie, hy is nog steeds die gewete van die volk. Die seun is Aartsbiskop Tutu.

Dis net tot ons eie nadeel wanneer ons kies om die stereotipes oor die sogenaamde ander in stand te hou. Ons verarm onsself en ontneem ons van die krag van die koms van die Koninkryk van Jesus wanneer ons te gou, te vinning iemand wat nie soos ons lyk, praat en dink nie, in ‘n boksie probeer sit. 

Trackback from your site.

Leave a comment