{ARGIEF}

Koning Dawid pleeg owerspel met Batseba die vrou van Urija’n soldaat in sy weermag. Dawid probeer sy seks met haar toe smeer. Sy raak swanger en Urija sterf. Die regerende party leier Zuma (vandag SA president) het seks met sy niggie en stort sy skuld af. Dit kom vir my voor dat pres. Zuma soos Dawid van ouds seksbehep en lief vir vroue is. Dan is daar tussen die twee tydperke die brutaliteit van Herodus se soldate wat onskuldige seuntjies doodmaak om sy mag te bekragtig en God se liefde wil ontmagti; dit herinner ook aan die Farao se kinder massamoord.

 

Daar bestaan ooglopende ooreenkomste in die drie verhale, maar ek wil nie die ooreenkomste oorbeklemtoon en geforseerde afleidings maak nie. Ek is nie ‘n kunskenner nie, kriminoloog of seksoloog nie, maar ‘n Bybelleser wat deeglik bewus is van al die magspel en vergrype wat in teks vir die leser geskets word. Verhale van korrupsie, onreg, moord en seksuele vergrype kom gereeld in die Bybel voor. Die mooi van ontblote liggaamlikheid en die lelike van blote sekslus en die deernis vir die geringstes en die boosheid van die verdrukkers word sonder om doekies om te draai in die Bybel duidelik uitgebeeld.

Ek dink ‘n sentrale tema van die drie skilderye is mag. Die preokkupasie van tradisionele mag word deur manlike vooroordele gevorm, as ‘n modus van dominasie en beheer. Die tipe mag het skadelike gevolge in die vorm van verdrukking en geweld. Dit word in religieuse taal as afgode van brutale krag, selfgesentreerdheid, onverskilligheid en perversiteit gereken.

Jesus in die Christelike geloof wys op die prysgee van mag, maar die gawe van bemagtiging wat tot vryheid, geregtigheid en transformasie van almal veral die geringstes, kwesbares, swakkes en weerloses lei.

Ons het ‘n vrye keuse! Ons kan saam met die ANC beswaardes of anti-naaktes teen Murray se Zuma beeld, protesteer en dit toesmeer; of ons kan die spirituele kommentaar van Murray raaksien, daaroor nadink en indien dapper genoeg standpunt teen magsmisbruik inneem.

Ek stem met Julian Müller saam:“ ’n Keuse vir Jesus en sy evangelie is ’n keuse teen elke oorheersende en onderdrukkende magsisteem. Dit vra standpuntinname teen die populêre tendense”.

Murray se kuns spieëlbeeld vir my iets van die realiteit van mag en die potensiaal van die misbruik van tradisionalisme, chauvinisme, gender diskriminasie en Leninisme. Dit is soos ‘n twee-snydende swaard, dit ontbloot seksuele en politieke mag en neem standpunt daarteen.

Die Bybel leer ons in die een kant om die gesag van die owerheid te respekteer (Rom 13); maar aan die ander kant om verdrukkers teen te staan (Openbaring 13), soos in die dae van apartheid. Deesdae behoort ons teen die magmisbruikers, homofobiste en sekslustiges standpunt in te neem en Murray se kuns op ‘n volwasse wyse te waardeer en te evalueer. Andersins hoef jy bloot net nie te kyk nie, hy het in die eerste plek nie vir ‘n kerkgehoor geskilder nie.

Terloops “The Spear” bestaan nie meer nie, Murray se storie is kort geknip.