Medemenslikheidswerk onder Christene

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid




Die vrug van humane Christene

In Afrika verander die Christelike godsdiens mense se harte. Dit bring geestelike transformasie. Die wedergeboorte is werklik.

Ons leef in ‘n wonderlike tyd. Daar is ‘n nuwe entoesiasme vir geestelike diepte in die Christelike geloof. ‘n Eietydse, verantwoordelike manier van glo, vernuwing en gestuurdheid is aan die ontwikkel . Dis nie orals aanwesig nie en ook nie noodwendig tot die kerk beperk nie.

Medemenslik

Dis hoog tyd om dit hardop te sê: “Nie alle Christene is so nie”. Hulle is medemenslik. Hulle is besorg oor die welwese van die fauna en flora op die aarde, erken hul afhanklikheid van die natuur en ondersteun volhoubare en eko vriendelike ontwikkeling. Hulle waardeer die ontwikkeling van die wetenskap. Hulle respekteer mense met ander geloofsoortuigings en sal as gelykes in gesprek met hulle tree. Hulle is gelowiges wat nie dogmas op ander afdwing nie. Hulle deel ‘n gemeenskaplike menslikheid met ander en word nie deur die verskeidenheid en andersheid van ander bedreig nie, maar ervaar dit as verrykend. Hulle streef daarna om humaan op te tree, hulle erken die regte en vryheid van ander mense en ondersteun met ander belange-groepe ‘n vry en demokratiese wêreld.  Hulle is Christen humaniste. (John de Gruchy, 2006.  Being Human – Confessions of a Christian Humanist)

Die politieke kommentator Matthew Parris se artikel “As ateïs glo ek werklik Afrika het God nodig” (By van 21.2.2009) gee uit ‘n verrassende  oord ‘n baie positiewe getuigskrif oor die Christelike geloof se impak op Afrika. Hy het as oortuigde ateïs onder die indruk gekom van die “enorme bydrae wat Christelike evangelisasie in Afrika lewer: dit is radikaal anders as die werk van sekulêre nie-regeringsorganisasies, regerings projekte en internasionale hulp pogings. Sulke pogings alleen werk nie. Opvoeding en opleiding alleen werk nie. In Afrika verander die Christelike godsdiens mense se harte. Dit bring geestelike transformasie. Die wedergeboorte is werklik.” Dis die vrug van die Christelike geloof: humanisme!

Apartheid

Die NG Kerk het in samewerking met ander geloofsgemeenskappe steeds baie te bied. Die spirituele diversiteit onder eie geledere; die nuwe politieke klimaat in die land, en die kulturele andersheid onder die inwoners daag nie net die NG kerk uit nie, maar alle geloofsgemeenskappe om nie ter wille van hulself en hul eie ideale te bestaan nie. Dis wat ek met Christelike humanisme verstaan.

Die NG Kerk is in staat om met ander geloofsgemeenskappe versoenend te leef en geregtigheid te internaliseer en ander daarmee te bedien. Gelowiges is goed om mense met verskillende fisiese en emosionele seer pastoraal te ondersteun. Die herstel van menswaardigheid en geregtigheid geniet heelwat prioriteit.

Die vrou in die amp, Jesus se fisiese opstanding, die belydenis van Belhar is kwessies wat die media interesseer, lidmate omkrap en kritici mee spot. Dit gaan oor beginsels, waardes, oor dit waarin mense glo en nie glo nie en dis vir Christene belangrik. Maar die Christelike geloof gaan  oor meer, oor menswaardigheid, medemenslikheid, verlossing wat gelowiges nie meer godsdienstig maak nie, maar meer volledig mens maak.

Dit is die nuwe mensheid van Christene wat ‘n erkende ateïs soos Parris raak en ‘n verskil in ‘n onmenslike samelewing maak. Dié mensheid van die Christelike geloof bepaal die waarde wat die Goddelike oorsprong definieer. God word deel van die mensheid en deur Christus kry die mense deel aan die Godheid. God word sigbaar deur ‘n mens en deur die mens se lewe word God sigbaar, som myns insiens die Evangelie in ‘n sin op.  Daar is dokters, verpleegsters, sielkundiges, beraders, onderwysers, gemeenskapswerkers, regslui wat onder haglike omstandighede op grond van hul Christelike geloof wêreldwyd mense dien. Nelson Mandela is ‘n  Christen humanis. Hy was tydens sy studente jare aan die Universiteit van Fort Hare lid van die Studente Christelike Vereniging. Hy het Bybellesse aan mense in gehuggies  gegee.

Ons kan gerus erkenning gee aan die verskil wat Christen humaniste bring. Dié manier van glo, maak tog sin!

Trackback from your site.

Leave a comment