‘n Mensgerigte ekonomie broodnodig vir Suid-Afrika

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid

In wese beteken ekonomie die wyse waarop mense in verhouding tot mekaar die beskikbare bronne benut. Kyk jy na die etimologie van hierdie woord, dan sien jy dit het te make met “huisbestuur”. Loer  jy verder, dan kom jy by die religieuse betekenis daarvan, naamlik “die geestelike bestuur van die wêreld”. Ekonomie het met verantwoordelike rentmeesterskap te make. Maar die hart, die gees, die menslikheid van die ekonomie is aangetas. Die ekonomie word tans deur meedoënlose kompetisie, ‘n uitermatige verbruikerskultuur en groot winsneming gekenmerk. Natuurlike en menslike bronne word uitgebuit ten spyte van wetgewing wat die ekologie en arbeiders probeer beskerm. Die ekologie het met ekonomie te maak (eko verwys na huis); ekologie en ekonomie is interafhanklik.

Die waardes van die heersende ekonomiese stelsel trek al hoe meer skeef – korrupsie is aan die orde van die dag. Die planeet se vermoë om mense te voed en te onderhou neem af. Dit is veral te wyte aan gierigheid, en aan die fel en genadelose wedywering om meer geld te maak. Reeds 350 jaar v.C. het die Bybelse filosoof Qohelet die volgende oor die sinloosheid van die sug na rykdom gesê: “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit  genoeg in nie.” Hy wys daarop dat rykes aan slapeloosheid ly; hulle slaap onrustig, want hulle is nie seker of hul geld veilig belê is nie (Prediker 5).

Die liberale ekonomie fokus op die skep van welvaart – wat opsigself nie sleg klink nie. Maar dit lei in werklikheid tot ‘n ongesonde ekonomiese balans, want veral die menslike faktor word verwaarloos; dit is juis nie-materiële aspekte soos die psigologiese, spirituele en sosiale behoeftes wat volhoubare sin in die lewe gee. In Suid-Afrika raak armes armer en rykes ryker. Met swart ekonomies bemagtiging (SEB) word op skandalige wyse slegs ‘n klein groep uit die swart elite verryk. Werkloosheid neem toe. Die Gini-koëffisiënt wat materiële ongelykheid meet, kan wissel van 0 (heeltemal gelyk) tot 1 (wat beteken 1% van die bevolking verdien 100% van die inkomste). Suid-Afrika se Gini-telling was onlangs ‘n uiters hoë 0,6.

Die verbruikerskultuur gegrond op wedywering vererger die stand van sake. Ons stuur op ‘n rewolusie af. Die geldhebbers gaar meer rykdom op, terwyl die geldloses frustrasie beleef in hul sug na die luukse waaraan hulle op kunsmatige wyse blootgestel word (deur byvoorbeeld advertensies). Hoe hoër die mure om eiendomme in die voorstede gebou word, hoe laer raak die moed en geduld van die geldloses in die townships. Aggressie groei, en protes raak alledaags. Ons kan nie die gevolge van die soustrein op ons land se ekonomie en werkloosheidsyfer ontken nie. Die miljoene wat sommige amptenare en sportmanne verdien, maak mens klaar siek.

Voorstanders van die sogenaamde na-moderne ekonomie keer terug na die idee dat ekonomie ‘n menswetenskap en in diens van mensontwikkeling is; dit is aards en behoort iets van Afrika se gewaardeerde waarde van medemenslikheid (Ubuntu) te weerspieël. Medelye pleks van mededinging; samewerking in teenstelling met kompetisie het vroeër hier die voorkeur geniet.

Die ryke gevolge van samewerking word wonderlik deur die moderne biologie geïllustreer. Ons liggame is ‘n uiters goeie voorbeeld van samewerking tussen selle en organe. Terwyl verskillende groepe selle in harmonie funksioneer, bly die liggaam gesond. Met kanker woeker party selle ten koste van ander, en word die oorlewing van die liggaam bedreig. ‘n Ander voorbeeld is die eensellige amoeba. Amoebas “vreet” apart wanneer die woud se vloer ryk, groen en sappig is. Met droogte maak hulle nie soos mense tipies sou reageer nie, maar groepe “smelt” as ‘t ware saam en oorleef as ‘n tipe slak.

Die Tsonga- spreekwoord “Jy kyk nie in die mond van die melkman nie” verwys na die verhouding tussen werkgewer en werknemer. ‘n Werkgewer wat met ander meeding, wil natuurlik nie sy profyt deel nie – maar dit is kortsigtig. Die moderne ekonomie laat nie die melkman toe om van die melk wat hyself gemelk het te drink nie. ‘n Mensgerigte ekonomie gegrond in Afrika – gewortel in samewerking en deling – sal op die lang duur die samelewing heel. Die spreekwoord dui op ‘n koöperatiewe verhouding, mede-verantwoordelikheid en  wedersydse respek tussen werker en eienaar.

Die ekonomie van ons land behoort aan almal, ook aan gewone en arm mense. Almal is gelas met die saak. Ons moet hart, gees en menslikheid in die ekonomie terugbring, sodat die Afrika-son op almal skyn, anders kom daar nag!

Trackback from your site.

Leave a comment