{ARGIEF}

Die doodstraf bly steeds aktueel om selfs drie jaar of wat gelede se gesprek voort te sit. Iemand vertel my net Sondag dat as iemand iemand anders vermoor, moet hy/sy in die straat van die slagoffer tereg gestel word.

Terwyl ek na The Passion of the Christ gekyk het en die aangrypende visuele aanslag van die kruisiging aanskou het, het ek aan die doodstraf-debat gedink. Duisendes, waarskynlik die meerderheid Christene, wil die doodstraf heringestel hê. Twee nie-amptelike meningspeilings onder RSG Monitor luisteraars het 99% pro-doodstraf getoon. Adv. Francis Bosman, voorheen absoluut gekant teen doodstraf, voeg haar ook by die pro-doodstraf stemme. ”Tot hiertoe en nie verder nie. Die doodstraf is ál wat oorbly”, skryf sy. Mense is absoluut keelvol vir geweld.  Die ontstellende moordtoneel van die Sizzlers-masseersalon wys hoe min mense se lewe werd is. Dinge vererger met die uittog van bekwame polisiebeamptes. Slegs 10% van geweldmisdadigers word uiteindelik gevang.

Te midde van my begrip vir die magteloosheid van slagoffers van  verregaande boosheid, voel ek ontuis met die gedagte van doodstraf.  Dit is egter nie so eenvoudig om te sê dat die bloeddorstige misdadiger sy reg op die lewe verloor het en die enigste gepaste straf die dood is nie. Lê die toets van beskaafdheid nie júís in jou optrede teenoor onbeskaafde gedrag nie? Leer Jesus ons nie júís om nie ons gedrag te laat bepaal deur wat mense aan ons doen nie, maar deur God se Wil (Luk. 6:32)? Natuurlik is dit ‘n ingewikkelde etiese kwessie. So pleit prof. Etienne de Villiers met droefheid dat die doodstraf tydelik heringestel word, omdat omstandighede dit onvermydelik maak. Maar om aan jou nek te hang, toon niks van die “reddende genade van God Wie se genade altyd sterker as Sy oordeel is nie” (Anton van Niekerk). Die staat hét die reg tot die swaard – veral die plig tot beskerming van al sy burgers. Jan-Jan Joubert meen:  “Om iemand se lewe te neem is om sy menseregte op te skort in diens van ‘n groter doel. Dit is om iemand anders – die regter, die minister, die laksman – te kry om die lewe te neem. Elke voorstander van die doodstraf moet hom afvra of hy deur die verplasing van verantwoordelikheid nie maar moord met ‘n handskoen pleeg nie.”

Die doodstraf-debat is inderdaad kompleks. Dit is ‘n etiese kwessie wat nie deur die kerk verpolitiseer mag word nie. Die kerk is by die slagoffer en misdadiger onderskeidelik betrokke en behou haar geloofwaardigheid in die proses.

Ek moes jare gelede, terwyl ek die Curriebeker-eindstryd wou kyk, vir die naby familie van bekende anti-apartheidstryders gaan bid twee dae voordat hulle gehang sou word. “Wat bid ek? Ek ken hulle glad nie”, het ek gewonder.  Toe sien ek ‘n beeldjie met Jesus aan die kruis in die gebedskamer. Dit herinner my aan Sy vergifnis en Paulus se advies: Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Rom. 12:21). Uiteindelik is hulle begenadig.

Maar eers moet ek nog herstel van die onstellende kruisgebeure in The Passion.

Pieter van Niekerk (VGK Friemersheim)