{ARGIEF}

Twee goeie dade die afgelope week het sekerlik die oog getref. Een was die van die Wes-Kaapse premier, me. Hellen Zille wat R50.000 bewillig het vir die opsporing van ‘n meisie wat al sewe jaar vernis is. Die ander goeie daad, was die van ene mnr. Rob Taylor, wat sy  duur sportmotor, asook R20 000, aan agt motorwagte geskenk het. In Taylor se geval is die motorwagte verder geïnspireer om self goed te doen. So het hulle besluit om geld vir liefdadigheid in te samel.

Weldade – hoe groot, klein of geringook al – het, soos in die Taylor-geval bewys, die potensiaal om nie net mense tot die doen van verdere goeie dade aan te spoor nie, maar kan help, soos in die Zille-geval, om mense se persepsies te verander.  Morele praatjies, konferensies oor moraliteit of werksessies met die oog op karaktervorming kry eers betekenis wanneer ons die daad by die woord voeg en  aktief by die morele opbouproses betrokke raak  – hetsy by wyse van inpsirasie of in die uitoefening van weldade.

Morele taal soos om te groet, verskoning te vra, te sê “ek vergewe jou” en om dankie en asseblief te sê, is goed. Morele dade is egter beter, is lewegewend, wil hande vat, is energiek en kan ons denke en persepsies transformeer – sodanig dat dit ons dade en optrede positief beïnvloed. Januarie is gewoonlik die maand vir nuwe voornemens. En dit is opvallend dat dit deel van mense se nuwejaarsvoornemens was om goed te doen.

Met al die negatiewe nuus in die media kan ons positiewe nuus oor weldade, menslike optrede en positiewe voornemens goed gebruik. Suid Afrika het burgers nodig wat oorgehaal is om voortdurend goed te doen. Mense wat die impak van ‘n goeie daad verstaan. Mense wat besef dat weldade of weldadige optrede, menswaardigheid en medemenslikheid inskerp, oordra en bevestig.

Dit is wat Jesus ook leer met sy storie van die barmhartige Samaritaan (Lukas. 10:25 – 37), wat, toe hy op ‘n beseerde en halfdooie man afkom, hom help en versorg. Die Samaritaan tree nie net weldadig teenoor die beseerde vreemdeling op nie, maar doen ook ‘n verdere weldaad deur vir sy onkostes te aanvaar.  Dus daag Jesus die wetgeleerde, asook almal wat Jesus en Sy leringe volg, uit  met die woorde: ” Gaan maak (doen) jy ook so” (Lukas.10:37).

Om goed te doen, weldade van betekenis te verrig, of om so op te tree dat die ander, die ontvanger van ons weldade of optrede, bevoordeel word, eis dat ons naby mense moet leef. Weldade eis dat ons kennis moet neem en kennis moet hê van ander se nood, pyn en ellende, stryd, bekommernisse en vrese, asook hul tekortkominge.

Weldade het nie net te doen met die bewilliging van geld of die gee van geskenke nie. Dit sluit bedagsaamheid in. Dit beteken om van jou vrye tyd op te offer. Dit beteken gemeenskapsbetrokkenheid. Dit beteken om vir die ander dit te wees, wat hulle op daardie oomblik nodig het.  Aan die doen van weldade sal ons altyd ‘n behoefte hê.