{ARGIEF}

Christene kan mense se harte verander en aan hul waardigheid gee. Die politieke kommentator Matthew Parris se artikel “As ateïs glo ek werklik Afrika het God nodig” (By van 21.2.2009) gee uit ‘n verrassende oord ‘n baie positiewe getuigskrif oor die Christelike geloof se impak op Afrika. Hy het as oortuigde ateïs onder die indruk gekom van die “enorme bydrae wat Christelike evangelisasie in Afrika lewer: dit is radikaal anders as die werk van sekulêre nie-regeringsorganisasies, regerings projekte en internasionale hulp pogings. Sulke pogings alleen werk nie. Opvoeding en opleiding alleen werk nie. In Afrika verander die Christelike godsdiens mense se harte. Dit bring geestelike transformasie. Die wedergeboorte is werklik.” Dis die vrug van die Christelike geloof: dienende medemenslikheid!

Ons leef in ‘n wonderlike tyd. Daar is ‘n nuwe entoesiasme vir geestelike diepte in die Christelike geloof. ‘n Eietydse, verantwoordelike manier van glo, vernuwing en gestuurdheid is aan die ontwikkel . Dis nie orals aanwesig nie en ook nie noodwendig tot die kerk beperk nie.

Medemenslik

Dis hoog tyd om dit hardop te sê: “Baie Christene is medemenslik, het deernis en stry vir reg en geregtigheid”! Hulle is besorg oor die welwese van die fauna en flora op die aarde, erken hul afhanklikheid van die natuur en ondersteun volhoubare en eko vriendelike ontwikkeling. Hulle waardeer die ontwikkeling van die wetenskap. Hulle respekteer mense met ander geloofsoortuigings en sal as gelykes in gesprek met hulle tree. Hulle is gelowiges wat nie dogmas op ander afdwing nie. Hulle deel ‘n gemeenskaplike menslikheid met ander en word nie deur die verskeidenheid en andersheid van ander bedreig nie, maar ervaar dit as verrykend. Hulle streef daarna om humaan op te tree, hulle erken die regte en vryheid van ander mense en ondersteun met ander belange-groepe ‘n vry en demokratiese wêreld. Hulle is Christen humaniste. (John de Gruchy, 2006. Being Human – Confessions of a Christian Humanist)

Apartheid

Die oudste kerk in die land, die NG/VG Kerk het in samewerking met ander geloofsgemeenskappe steeds baie te bied. Die spirituele diversiteit onder eie geledere; die nuwe politieke klimaat in die land, en die kulturele andersheid onder die inwoners daag nie net die oudste kerk uit nie, maar alle geloofsgemeenskappe om nie ter wille van hulself en hul eie ideale te bestaan nie. Dis wat Christelike medemenslikheid beteken.

Christene is in staat om met ander geloofsgemeenskappe versoenend te leef en geregtigheid te internaliseer en ander daarmee te bedien. Gelowiges is goed om mense met verskillende fisiese en emosionele seer pastoraal te ondersteun. Die herstel van menswaardigheid en geregtigheid geniet heelwat prioriteit.
Dit is so dat beginsels, waardes, oor dit waarin mense glo en nie glo nie vir Christene belangrik is. Maar die Christelike geloof gaan oor meer, oor menswaardigheid, medemenslikheid, verlossing wat gelowiges nie meer godsdienstig maak nie, maar meer volledig mens maak.

God word deel van die mensheid

Dit is die nuwe mensheid van Christene wat ‘n erkende ateïs soos Parris raak en ‘n verskil in ‘n onmenslike samelewing maak. Dié mensheid van die Christelike geloof bepaal die waarde wat die Goddelike oorsprong definieer. God word deel van die mensheid en deur Christus kry die mense deel aan die Godheid. God word sigbaar deur ‘n mens en deur die mens se lewe word God sigbaar, som myns insiens die Evangelie in ‘n sin op. Dis veral in hierdie Kerstyd dat ons hiervan bewus is. Daar is dokters, verpleegsters, sielkundiges, beraders, onderwysers, gemeenskapswerkers, regslui wat onder haglike omstandighede op grond van hul Christelike geloof wêreldwyd mense dien. Nelson Mandela is ‘n Christen humanis. Hy was tydens sy studente jare aan die Universiteit van Fort Hare lid van die Studente Christelike Vereniging. Hy het Bybellesse aan mense in gehuggies gegee.

Dis veral Christene en ander gelowiges wat weggooikinders en vergetebejaardes se waardigheid herstel. Ons kan gerus erkenning gee aan die verskil wat Christene aan mense se waardighed bring.

Vee eers voor jou eie deur

Dis jammer dat dat daar ouetehuise en kinderhuise is, dit is gewoonlik te geïnstitualiseerd en onpersoonlik. Wat moet ons doen as daar nie ‘n heenkome vir duisende noodlydendes en verstotelinge elders is nie, en mense boonop meer selfsugtig en geldgierig raak? President Zuma soek die oorsaak by die verkeerde plek, hy moet dalk eers voor sy eie deur vee, sy werf lê waarskynlik vol beendere van sy vorige feeste.