{ARGIEF}

Stakings, afdankings en opstande is ons land se winterwerklikhede. Dit word nie deur ‘n hoopvolle visie van leiers versag nie. Dit word eerder vererger deur botsende menings oor die oorsake van en die oplossings vir ons plofbare probleme.

Is die wit-swart verdeling in die oor en weer verwyte nie vanjaar skerper en gevaarliker as voorheen nie? Tim du Plessis verwys tydig na die toenemende openlike veragting en isolasie van wittes en na Max du Preez wat ‘n revolusie ruik (Beeld, 8 Julie 2011).

  • Watter soort mense het ‘n land in sulke omstandighede nodig? Mense met koel koppe en warm harte wat die spanning kan ontlont en ware hoop vir al die swaarkry-mense kan gee.
  • Watter soort geloofsgemeenskappe het ons nou nodig? Gemeenskappe wat nie die werklikhede van ons land op vroom wyses ontvlug nie maar onderskei waarop dit nou aankom: eenheid, geregtigheid en versoening.
  • Watter soort geloofsinstelling het gelowiges nou nodig? Nie ‘n verdere gebruik van godsdiens as regverdiging van ons eie belange en behoeftes nie. Maar ‘n verlange dat God ons oë sal open vir dit wat nou van ons gevra word met die verwagting dat ons moed daarvoor sal kry.

Wintertyd is juis geskik vir hertoewyding: Om verby jou eie probleme en ervaringe die groter prentjie van ons land weer raak te sien. Om jou te probeer indink hoe armes en werkloses die verlede en die hede ervaar. Om agterdogtig oor jou eie verstaan van ons land te raak.

Kritiese ondersoek na jou eie verstaansraamwerk is ‘n afgeskeepte deel van ons geloofstradisie. Die verbod teen afgode, die profete se kritiek, die vermaning teen vermeende wysheid en Jesus se omgee vir die wat swaarkry dring ons tot herbesinning.

Met sy bekende – maar min beoefende – Bolandse gebed, Vroegherfs, help Van Wyk Louw ons bid: “O Heer, laat hierdie dae heilig word:/ laat alles val wat pronk en sieraad was/…”

Uit die Woord: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie , maar soos verstandiges”- Efesiërs 5: 15.

(Uit Woord Onderweg in Die Beeld)