Die evangelie wat geglo, maar ook geleef en gedoen moet word…

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Verlede week was ek – saam met Robert Vosloo – betrokke by die aanbieding van die VBO-kursus “Calvyn 500 – wat kan ons vandag nog van hom leer?”  Dit was `n baie goeie ervaring en ek het veel geleer – uit die leeswerk voor die tyd, maar ook uit die gesprekke in die groep en met Robert.

Die afgelope tien jaar het ek redelik gereeld werke van en nuwer werke oor Calvyn gelees.  Dit het my gehelp om `n ander prentjie van Calvyn te kry as die een waarmee ek grootgeword het en wat `n mens rondom jou optel.  Een van die verrassende ontdekkings wat ek al `n tyd terug gemaak het, is dat Calvyn en sy hele teologie `n baie sterker gerigtheid op die praktyk het as wat die meeste dominees besef. 

Vir hierdie rondte – met die oog op die kursus – het ek probeer om twee of drie nuwe boeke oor Calvyn te lees. Twee van die boeke het oor Calvyn se lewe en optrede gegaan – om hom te plaas teen die agtergrond van sy tyd en om vir die leser `n idée te gee van wat hy wou doen. Die boeke het inderdaad vir my bevestig dat ons Calvyn nie net moet sien as `n dogmatiese teoloog nie, maar beslis ook as `n pastorale en `n praktiese teoloog.  Robert Kingdon (wat heelwat werk oor Calvyn se konsistoriegesprekke gedoen het) formuleer dit absoluut raak as hy iewers skryf dat as `n mens Calvyn regtig wil verstaan, jy nie net moet lees wat Calvyn geskryf het nie, maar ook moet kyk na wat hy gedoen het!

Ek het met my leeswerk besef dat Calvyn se besluit in 1536 om as gemeentepredikant in Genève te gaan werk, `n meer fundamentele rol in sy teologie gespeel het as wat ek tot hier gedink het.  Hoewel Farel se dreigemente sekerlik ook `n rol gespeel het om hom die “beroep” na Genève te laat aanneem, meen ek dat sy teologie en verstaan van die evangelie dalk nog meer fundamenteel vir sy besluit was.

Calvyn het van vroeg af geglo dat die evangelie nie net iets is wat mooi wil klink op papier nie, maar dat dit by uitstek `n praktiese saak is wat vra om geleef en gedoen te word.  As ons ernstig is oor die evangelie, vra dit dat ons nie net boeke daaroor sal skryf nie, maar ook dat ons sal probeer om lewende gestaltes daarvan in die praktyk op te rig – soos gemeentes wat die evangelie probeer leef en doen! Ek glo dat iets van hierdie gedagtes meegespeel het toe Calvyn die besluit oor Genève moes neem!

Dit word bevestig deur `n paar sake:
Niemand wat Calvyn se verhaal goed lees kan wonder daaroor dat sy sentrale identiteit en taak was dat hy die pastor van Genève was nie.  Dit was die spil waarom sy denke, skryfwerk en aktiwiteit gedraai het. In die kursus wat ons nou aangebied was die sentrale tema “Calvyn, die pastor van Genève”.

Calvyn het baie goeie dinkwerk gedoen oor die gemeente, die organisering van die gemeente en veral oor die bediening in die gemeente van Genève. `n Baie groot deel van Calvyn se teologiese werk was uiteindelik gerig op die gemeente – op wat in die gemeente moes gebeur en wat nie! Bucer het waarskynlik baie hiermee te doen gehad. Dit is duidelik dat Calvyn in sy tyd in Straatsburg baie oor gemeentewerk van Bucer geleer het en dat hy by sy terugkeer in Genève gepoog het om dié goed op `n eie manier daar toe te pas.

Twee prosesse wat my op die vlakke baie geïnteresseer het was Calvyn se nadenke oor en herstel van die ampte en oor die vergaderings (of instansies of strukture) wat hy rondom die ampte georganiseer het.

Die herstel van die ampte het oa daaroor gegaan dat jy mense (lywe!) nodig het as jy van gedagtes en idées wil oorgaan na dade in die praktyk. Calvyn het dit verstaan en daarom aandag gegee aan die herstel van die vier ampte. Dit was `n nuwe idée vir die tyd want van die ampte het heeltemal in onbruik geraak. Tipies van Calvyn werkwyse is dat hy teruggryp na die Nuwe Testament. As jy moet reformeer doen jy dit ooreenkomstig die Woord van God! Iemand vertel dat Calvyn dikwels na vergaderings gevra het “wie gaan nou wat doen?” Dit is `n goeie praktiese teoloog wat so praat!

`n Mens sien dit nog duideliker as jy agterkom dat Calvyn rondom elkeen van die vier ampte en hul werk uiteindelike strukture of instansies staan gemaak het wat met die uitvoering van die werk moes help. Rondom die predikante organiseer hy die sogenaamde “Company of Pastors”, `n weeklikse samekoms van die leraars wat waarskynlik die voorloper van ons “ring” was. Rondom die ouderlingsamp organiseer hy die “Konsistoriebyeenkomste” waar lidmate vermaan en getug is deur die leiers van die gemeente. Langs die diakens skep hulle ook aksies en strukture wat moet help met die uitvoering van die werk ten behoewe van die  armes. En ter uitvoering van die lering of doseer-amp skep hy die skool of akademie. Weereens sien `n mens iemand wat besef dat as ons wil hê die evangelie moet lewend gestalte kry onder ons, kan jy nie net praat nie. Jy het mense nodig – en planne en strukture of institute! – om te help met die praktiese uitvoering.

Ek het weer verstaan dat dit ook is wat eintlik agter Kerkordes sit – in elk geval in Calvyn se gedagtes! As ons sê dat ons iets glo, moet ons ook dink en planne maak oor hoe ons dit gedoen gaan kry in die praktyk! Kerkordes was hierdie praktiese planne.

Dit alles word bevestig as `n mens hoor dat Calvyn op sy sterfbed oor Genève gesê het dat toe hy daar gekom het, daar net prediking in die gemeente was maar geen reformasie nie.  Die bedoeling was kennelik dat prediking sonder reformasie in die gemeente nie veel werd is nie en dat hy hom ook sterk bemoei het vir daadwerklike reformasie!

Vir my was hierdie perspektief op Calvyn `n bron van inspirasie! Ons kàn die evangelie glo en vertrou tot op die punt dat ons dit gehoorsaam en gaan doen in die praktyk van lewe! 

Dit is veronderstel om regtig te werk!  Dit moet werk!  Dit is al hoop wat ons het!

As ons weer `n kerk kan word wat so in die evangelie glo!   

Coenie Burger

Trackback from your site.

Leave a comment