Die Lewende, Regerende, Doenende Christus

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Dit gaan in die kerk en in die bediening nie oor ons en ons planne nie, maar oor Christus – die lewende, regerende, doenende Christus. Jesus is nie dood of weg nie – Hy is hier en deur die Heilige Gees sit Hy die werk wat Hy begin het voort en sal Hy dit ook klaarmaak.

Dit is die boodskap van Dr Andrew Purves, professor in Pastorale Teologie van die Pittsburgh Theological Seminary, wat tans in Suid-Afrika op besoek is.

Dr Purves se teologie en verstaan van die bediening wentel om twee oortuigings.  Die eerste is dat Jesus Christus ook in ons dag en tyd `n lewende werklikheid is – nie net as `n raamwerk of beginsel of `n goeie voorbeeld nie, maar as `n lewende Persoon.  Hy glo dat Christus in elke situasie waarin ons kom, reeds teenwoordig is en besig is om sy werk te doen.

Dit is interessant dat Hy bewustelik kies om meeste van die tyd van Jesus te praat. Hy is bang, sê Hy, vir Name wat te veel rus op ons konstrukte en interpretasies – asof ons nie regtig die historiese verhale oor Jesus kan vertrou nie.  Hy meen dat ons in ons denke oor Jesus ons moet laat lei deur die verhale en oortuigings van die NT.

Die tweede oortuiging agter sy pastorale teologie hang saam met die werk van die Heilige Gees wat kom om ons as gelowiges aan Christus te bind.  Dit was vir my `n goeie verrassing om te sien hoeveel Dr Purves skryf oor die gelowige se vereniging met Christus.  In sy voordragte werk het hy baie met Joh 15 se beeld van die wynstok en die lote en Paulus se uitdrukking “in Christus” – wat in varierende vorms blykbaar rondom 160 keer in Paulus se briewe gebruik word.

Daarmee wil hy beklemtoon dat ons as gelowiges en bedienaars van die evangelie nie in die eerste plek geroep word om Christus te imiteer (na te boots) of sy voorbeeld na te volg nie, maar eerder om in `n diep verhouding met Christus te leef waarin ons “deel word en deel kry” aan Hom en aan al die gawes wat Hy vir ons verkry het.

Hy het diè gedagtes pragtig uitgewerk in sy boek Restructuring Pastoral Theology. Ek het die boek drie jaar terug met groot verwagting gekoop omdat `n groot deel van my werk op die oomblik is om saam met predikante na te dink oor hulle bediening.

Die boek was in alle opsigte `n goeie verrassing.  Die eerste verrassing was dat Purves eers in die tweede helfte van die boek oor ons as predikante se bediening begin skryf!  Die eerste deel van die boek gaan oor die Bediening van die Lewende Christus. Hiermee gryp Purves terug na die oortuigings van die Vroeë Kerk (oa Athanasius en die Kappadosiers), die Reformasie (veral Calvyn), maar, glo hy, ten diepste na die boodskap van die Nuwe Testament.  Die goeie nuus van die evangelie is dat Christus na sy Hemelvaart nie regtig weg is nie, maar steeds deur die Heilige Gees onder ons woon en werk.  Hy is en bly die Eerste Bedienaar van die Evangelie!

In die tweede deel van die boek kom hy dan by ons bediening – wat net behoorlik en betekenisvol gedoen kan word as ons dit in vereniging met Christus doen.  Die sentrale daad in elke deel van ons bediening is dat ons getuig van Christus en na Hom heenwys.  Ons kan nie regtig mense help nie. Dit is nie vir ons wat mense nodig het nie.  Hulle het vir Christus nodig en ons taak is om hulle te help om Hom en sy werk in hul lewens en in die wêreld buite ons raak te sien.

Purves skryf dan pragtig oor vier bedienings van die predikant:

  • Die bediening van God se Woord
  • Die bediening van God se genade
  •  Die bediening van God se Teenwoordigheid by ons
  •  En die bediening van God se heerskappy

Andrew Purves se boeke het my die laaste twee jaar baie gehelp in my eie denke oor die evangelie, oor die kerk en oor die bediening.  Hy het my gehelp

  1. om te verstaan dat dit in die kerk steeds oor Christus gaan en dan ons moet oppas dat ons die Christologiese kern van die evangelie nie verloën of verloor nie.
  2. om weer te verstaan dat Christus nie `n idee of `n voorbeeld of beginsel is nie, maar `n lewende, teenwoordige Persoon wat soek daarna om in `n verhouding met ons te leef.
  3. om weer te gaan kyk na die tweede deel van Jesus se lewe nl dit wat by die Hemelvaart en na die Hemelvaart gebeur.  Ons is geneig om hierdie tweede deel van Jesus se lewe gruwelik te verwaarloos – en dit is waar baie van ons probleme begin…
  4. om die wese van die bediening nuut te verstaan in die lig van die wesenlike insigte van die reformasie.  Ons kan nie in `n totaal nuwe situasie presies soos hulle dink en praat oor die bediening nie, maar ons kan oor die kernpunte van die evangelie, sy werking en die bediening steeds baie, baie by hulle leer
  5. om te verstaan dat `n groot deel van ons bediening daarin bestaan om mense te herinner aan die werklike Teenwoordigheid van Christus – wat by ons is, selfs in die deurmekaarste van situasies (sien die tweede deel van sy boek).

Purves se werk het my ook nuuskierig gemaak oor die Skotse gereformeerde tradisie en my genoop om weer te gaan kyk na mense soos Knox, en veral die Torrances.  Die Skotse gereformeerdes is natuurlik na aan ons, maar op sekere punte is daar tog interessante ander klemme.  My indruk is bv dat die Skotste tradisie sterker as Hollandse gereformeerdes klem lê op die priesterlike faset van Christus se werk en ook van ons bediening.  Hierdie klem het my die laaste tyd persoonlik baie gehelp.  Maar ek skryf op `n ander dag meer daaroor.

Ons is gelukkig om Dr Purves tans op besoek te hê in SA.  Elders op die webblad is daar `n lys van sy optredes.

Trackback from your site.

Leave a comment