Gemeentes demonstreer en verklaar die Evangelie

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

In ‘n bekende uitspraak beskryf Lesslie Newbigin gemeentes as die hermeneutic of the gospel (The Gospel in a pluralist society, pp 222vv). Die wyse waarop geloofsgemeenskappe aanwesig is in die wêreld, verklaar en demonstreer van die waarheid van die evangelie.

Dit is die moeite werd om hierdie boek van Newbigin te lees. Daar is ‘n paar van ons aannames wat hy behoorlik onder die loep neem, en wat ons help om die rol van gemeentes in die publieke lewe te verstaan. Ek lig twee uit:

Wat is waarheid?
Westerse Christene kan waarheid maklik sien as iets wat rasioneel afgelees kan word uit die Bybel en uit God se openbaring in die skepping. Waarheid word dan iets wat sistematies gelys en opgeskryf kan word.
Newbigin wys daarop dat die Christelike geloof sy oorsprong het in die verkondiging van ‘n gesagvolle, geopenbaarde feit. Paulus, byvoorbeeld, is nie die leermeester van ‘n nuwe teologie nie, maar leer ‘n geopenbaarde feit: dat God deur die bediening, sterwe en dood van Jesus Christus gehandel het om Sy doel met die verlossing van die wêreld te verwesenlik. Die kern van ons geloof is die “feit” van Christus – dit wat Jesus publiek gedoen hét.

Die woordjie “publiek” is belangrik. Die gesagvolle evangelie is nie afgestem op ons harte, ons geestelike lewe as die privaat domein van ons lewe nie. Die evangelie is ‘n publieke feit wat vir die hele wêreld, alles, belangrik is. Ons is deel van ‘n historiese, kosmiese drama: God is met hierdie wêreld op pad iewers heen. Ons ontvang die openbaring dat God in Jesus Christus op ‘n beslissende manier met die wêreld handel. Die waarheid in Jesus raak almal, en verskaf aan ons almal die inligting oor die ontknoping van die drama waarvan ons deel is, en in terme waarvan ons ons kompas moet instel.

Dogma is dus nie ‘n stel tydlose waarhede nie, maar ‘n gesagvolle storie, ‘n drama wat om Jesus Christus wentel, en wat nog nie afgehandel is nie.

Wie is die kerk?
Die kerk is gelowige mense wat die boodskap van Jesus aanvaar en daaruit begin lewe. Die kerk is diegene wat kies om vanuit die geopenbaarde feit van Christus te lewe, en die werklikheid verstaan vanuit die selfopenbaring van God in Christus. Die kerk is diegene wat vanuit hierdie feite begin lewe, en so erns daarmee maak om as mense gevorm te word tot navolgers van Jesus Christus.

As dissipelgemeenskap is die kerk gestuurdes. Van die begin af kies, roep en stuur God mense om sy nuus aan ander te kommunikeer. Niemand kan gered word, anders as om die deur oop te maak vir die boodskappers wat God stuur nie. Daarom oorskry die kerk altyd grense, dit is altyd ‘n kerk gerig op die nasies.

Hierdie kerk dien die wêreld deur diens en proklamasie.
Diens en verkondiging kan maklik misverstaan word. Die kerk kan begin fokus op die aspirasies en ideale van mense. Die verwesenliking daarvan kan as diens gesien word. Die kerk kan ‘n bemarkingsorganisasie van ‘n voorafverpakte ervaring word, en so verkondiging van ‘n publieke waarheid verskraal tot ‘n menslike belewenis. Op hierdie manier maak die kerk Jesus “mak” (domesticate).

Jesus word ge-domesticate wanneer sy lewe en werk uit die geopenbaarde samehang van die Skrifte gehaal word en ingetimmer word in die heersende raamwerke van die kultuur. Newbigin vertel van ‘n Hindoetempel waar ‘n afbeelding van Jesus naas die ander gode ten toon gestel word. Hier word Jesus aanbid, maar dis ‘n Jesus binne die raamwerk van die hindoe-verstaan. ‘n Geloofsgemeenskap wat die evangelie met woord en daad verklaar en demonstreer kan dit nooit op so ‘n basis doen nie.

Konkrete maniere waarop die kerk die evangelie kan demonstreer
Die Christelike gemeente is die primêre wyse waarop die nuus van Jesus Christus impak op die samelewing maak. Jesus het nie ‘n boek geskryf nie, maar ‘n gemeenskap van dissipels gevorm. In soverre hierdie gemeenskap van dissipels getrou aan haar roeping is, sal sy die volgende kenmerke vertoon:

1.  ‘n Gemeenskap van lofprysing: Lofprysing en verwondering het verdwyn uit die Westerse samelewing. Mense word geleer om alles vanuit ‘n raamwerk van suspisie en twyfel te verstaan. Die evangelie nooi ons om te leef met dankbaarheid vir God se oorvloedige goedheid en om voortdurend as gemeenskap verras te word deur die wonderlike werke van God in ons lewens en ons wêreld.

2.  ‘n Gemeenskap van die waarheid: dissipels wat ‘n gemeenskaplike lewe vorm vanuit die openbaring van God in Jesus Christus.

3.  ‘n Gemeenskap wat haarself vir die wêreld gee, in die gemeenskap betrokke is, en dus nie net vir haarself leef nie.

4.  ‘n Gemeenskap wat as priesters lewe – ‘n gemeenskap wat haar lede doelbewus laat groei in die wete dat ons voor God staan namens mense, en voor die mense namens God. So ‘n geloofsgemeenskap help mense om die gewone probleme wat hulle in hul alledaagse lewe, waaronder hul dagtaak, in die oë staar, vanuit die evangelie te hanteer. Dit dwing ook nie ‘n uniforme styl van dissipelskap op mense af nie, maar verreken dat ons verskil, en verskillende gawes en ook verskillende indiwiduele lewensroepings het.

5.  ‘n Gemeenskap van wedersydse, onderlinge verantwoordbaarheid. Die kerk moet self die nuwe sosiale orde wees as dit ‘n nuwe sosiale orde wil fasiliteer.

6.  ‘n Gemeenskap van hoop. Egte, publieke hoop het uit die meeste liberale demokrasieë verdwyn. Hoop is dikwels bloot die verwagting dat ons self ‘n utopie kan skep. Die hoop in Christus is dat die koninkryk van God naby gekom het.

Die vernuwing van die moderne samelewing sal begin by Christelike gemeentes waar die werklikheid van die nuwe skepping teenwoordig, bekend en deel van die ervaring is, en waarvandaan mense in Christus se Naam na elke sektor van die samelewing gaan.

Bron: Newbigin, Lesslie 1989. The Gospel in a pluralist society. Grand Rapids: Eerdmans.

Danie Mouton

Trackback from your site.

Leave a comment