Gemeentes vol genade

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Na afloop van die herdenking van Hervormingsondag aan die einde van Oktober 2008, het ek in voorbereiding vir ‘n preek net weer Karl Barth se meditasies oor die vrye genade van God gelees. Benewens die feit dat dit altyd ‘n verrykende en vervullende ervaring is om Barth te lees, het sy verduideliking van die eksistensiële dubbelkantigheid van God se genade my baie direk aangespreek en ek het net begin wonder of ons as die kinders van die Reformasie, die mense wat per definisie veronderstel is om vanuit die krag en werklikheid van die genade te leef, regtig nog begryp wat die genade behels. So begryp dat ons aangegryp raak daardeur dat ons meegevoer word in die “Triomf” daarvan, soos wat Berkouwer Barth se teologie daaroor getipeer het.
      Wanneer Barth oor die magtigheid van die vrye genade praat, is dit vir hom ‘n heerlikheid om aan te toon hoedat niks en niemand hierdie genade kan keer, stuit of weerstaan nie. In die Bybel is volop getuienis dat die genade onstuitbaar in gryp en deurwerk in mense se lewens. Daarom kon nie Dawid die egbreker-moordenaar, Petrus die verloënaar; Saulus die gemeentevervolger of wie ookal die gang en die werking van die genade stuit nie. Ook nie die kerk deur die eeue met al sy gebreke, ongehoorsaamhede en eiesinnigheid het, kan en sal dit regkry nie. Inderdaad en in der waarheid is die genade van God in Christus die onweerstaanbare werklikheid van die evangelie.
      Vir Barth is dit egter baie belangrik om te verkondig en te beduie dat juis die kerk, die gemeentes gevorm deur God se genade in Christus, sal besef en weet, ook nie die wêreld in al sy verdorwenheid en ellende kan die genade van God stuit of weerstaan nie. Al is die wêreld hoe teësinnig, weerstandig en ongehoorsaam aan die oproep van God, die genade dring aan teen die skanse daarvan en sal uiteindelik indring in die diepste donkerstes daarbinne om God se lig daar te laat skyn. Met ‘n verwysende beroep om 1 Joh. 2:2 is dit vir Barth onmiskenbaar waar dat Christus die hele wêreld met sy genade wil aanraak en sy kerk gevorm en geroep het om hierdie genade aan die wêreld te bedien. Dit kan immers nie anders nie, die genade van God het die gemeente gevorm en daarmee die gemeente in diens geneem om draers en dienaars van hierdie genade te wees.
      Genade roep die gemeente in die beslissing van gehoorsaamheid; genade veroorloof die kerk geen gelatenheid oor die lot van die wêreld nie; genade laat geen neutraliteit by gelowiges toe nie; genade kan nie passief toekyk en die wêreld aan sy lot oorlaat nie; genade maak self-verontskuldiging as gevolg van eie onvermoë, onwaardigheid en sondigheid vir die kerk onmoontlik; genade bied geen ruimte aan verbittering en afsydigheid vanweë welke soort lewenservaring ookal nie. Geen domheid, boosheid, ateïsme, rassisme of egoisme in en deur die wêreld en sy mense kan en mag die gemeente van Christus stuit in haar toewyding aan en entoesiasme vanuit, deur en oor die genade van God nie.
      Slegs die gemeentes van Christus kan as begenadigdes getuig oor en leef vanuit die werklikheid van die onbegrensde en vrye genade wat God in Christus aan sy wêreld geskenk het. Niemand en niks anders is daartoe begenadig, geroep en beopdrag nie.  Daarom het ek met die lees van Barth se dringende appél tot diensbaarheid in en aan die genade, onthou dat prof Jonker, die NG Kerk se eie reformator, diep in ons harte die waarheid laat insink het, “Wie die aard van die genade verkeerd verstaan, sal nie alleen die hele teologie verkeerd verstaan nie, maar hy sal tot in die praktyk (van die bediening) toe die kerk verkeerd verstaan.”

Jan Woest

Trackback from your site.

Leave a comment