Hoe gesond is die dokters self?

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Om hierdie soort tong-in-die-kies vraag in ons dag en omstandighede binne die kerk te vra, is myns insiens glad nie so onvanpas nie. Vir die afgelope klompie jare al hinder hierdie toedrag van sake my en bly ‘n mens besig om te soek na sinvolle antwoorde en benaderings. Met die vraag vra ek eintlik hoe gaan dit regtig met die dominees en leraars wat in gemeentes vir geestelike leiding en versorging verantwoordelik is. Hoe geestelik gesond en gebalanseerd leef hulle wat geroep is om ander op die pad van genesing te help en begelei? Die lees van Dan Hands en Donald Fehr se aangrypende werkie met die titel, Spiritual Wholeness for Clergy, het my gedagtes ‘n hele ent gehelp wat betref die begrip van die toestand en die uitdaging om konstruktief besig te raak met die proses van hulp tot gesondmaking van gemeentelike geestelike leiers. Hulle ervaring met hulp aan letterlik honderde verwonde, sukkelende en seer leraars het hulle gebring op die punt om ‘n proses van drievoudige  intimiteitsherstel [met God, self en ander]  as die poort tot genesing van gemeentelike bedienaars se gees en lewens te onderskei.

Op ‘n amper paradoksale manier het dit gebeur dat dit juis vanuit hulle werk met ongesonde en eintlik disfunksionele geloofsleiers was wat dit moontlik geword het om ‘n ideaal vir gesondheid vir mense in hierdie roepingsterrein af te lei en te ontwikkel. Hulle het geleer oor gesondheid deur met die ongesondes te werk en deur te sien hoe genesing gevind word. Soos hulle gesien het wat hierdie manne en vroue moes doen om gesond en funksioneel te word, het hulle agter gekom wat die hoof dimensies is van ‘n gesonde lewe vir geloofsleiers in ons tyd en kultuur. Terwyl hulle besig was om met mans en vroue in diep krisisse te werk, meeste van wie uiters ongesond is, het dit wat hulle geleer het omtrent die gevare, slaggate en tipiese patologieë van aktiewe geloofsleiers hulle in die posisie gestel om ‘n boek te skryf vir al hierdie soort mense, veral ook vir hulle wat nog relatief gesond is.  Die inhoud en fokus is nie net gerig op geloofsleiers nie, maar ook vir mense wie se lewens en werk ten nouste verweef is met die van leraars. In der waarheid is die rykdom van insigte wat ontgin is uit die werk met geloofsleiers goedskiks toepaslik vir die breë algemene bevolking en dalk veral vir diegene in ander professies wat mense probeer help.
Met ‘n mate van reg kan seker gevra word: In ‘n wêreld van onreg en ellende waarom fokus op die persoonlike nood van leraars? Is ‘n boek soos hierdie maar net weer ‘n voorbeeld van die tipiese Amerikaanse beheptheid met die psigologiese welsyn van die individu? Hoort dit nie ook maar weer tuis by en is dit nie ‘n vrug van die narcissistiese kultuur van “feeling good” nie?

Dit is tog meen ek, baie belangrik om hierdie gefokusde studie te plaas binne die groter konteks van die kerk se gestuurdheid na ‘n lydende wêreld toe. Beide geloofsleiers en lidmate word immers geroep tot ‘n groter besorgdheid as net maar hulle eie persoonlike gesondheid en welsyn. Hulle word geroep om te getuig van die krag en liefde van God deur te werk vir geregtigheid, vrede en die totale welsyn van alle mense. Hierdie gestuurdheid na die ganse menslike familie en dus ook die toekoms van die planeet waarop ons woon, is die enorme uitdaging en verantwoordelikheid vir alle kerke en gemeentes vandag. Om getrou en gehoorsaam aan hierdie goddelike roeping te wees, sal van ons die beste energie en diepste spiritualiteit vra wat ons maar kan ontwikkel.  En dit is onmiskenbaar die geval dat dit juis ons gemeentelike en geloofsleiers is wat ‘n groot verantwoordelikheid dra vir die oplewing, versterking en inspirering van die hele liggaam van Christus deurdat hulle bediening daarop gerig is om “die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk” [Efes. 4:12]

Aan die ander kant is dit geen geheim nie dat baie, indien nie die meeste nie, van ons bedienaars vandag op verskillende maniere diep in die moeilikheid is. Die meer sensasionele stories haal die voorblaaie van die koerante. Maar baie meer manne en vroue spartel en spook in privaatheid terwyl hulle probeer om getrou aan hulle roeping te wees. En selfs ook hulle wat oënskynlik betreklik gesond voorkom, leef met enorme stres en laste om te hanteer. Dit is dus voor die hand liggend dat geloofsleiers en gemeente-bedienaars ernstig hulp, sorg en ondersteuning nodig het. Maar om bedienaars te help om groter emosionele en geestelike gesondheid te beleef, is nie net ‘n saak van hulp aan ‘n klompie spesifieke individue nie. Vanweë die feit dat hulle dikwels sleutel rolle in die lewe van die kerk speel, beteken dit dat om vir hulle gesondheid te werk in der waarheid ‘n lewensnoodsaaklike bediening van die kerk aan haarself is. Die gesondheid van die bedienaars en leiers sal immers noodwendig ‘n genesende en oplewende invloed op al die gemeentes en gemeenskappe wat hulle bedien hê. So veel te meer, in die mate waarin hierdie bedienaars-in-herstel lewens leef wat op ‘n baie diep manier oop is vir die werking van die Heilige Gees, word hulle daadwerklik agente vir die kerk se groeiende bekering tot haar verantwoordelikheid vir die wêreld. Op hierdie manier kan en moet die selfsorg en gesondheid van individuele geloofsleiers daartoe lei dat hulle net baie meer gereed is om hulleself voluit uit te leef in die gestuurdheid van die kerk na die wêreld toe in die Naam van Christus.

Jan Woest

Trackback from your site.

Leave a comment