Kritiek met of sonder liksens?

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

In sy boek met die stekelrige titel “Het Algemeen Betwijfelde Christelijk Geloof” skryf Kuitert `n hoofstuk oor die kerk wat hy nog stekelriger betitel met “De kerk als samenvatting van alle frustraties” en skryf daarin “we kunnen er niet met en niet zonder”.  Prof Willie Jonker se boek “ Selfs die kerk kan verander” sou aanvanklik `n ander titel gehad het, iets soos “Ek kla my Moeder aan”. Annes Nel skryf “…die kerk is my ma … ek is bekommerd oor my ma.” in die eerste hoofstuk van sy boek “Op soek na God… buite die kerk?” By hierdie skrywers ervaar ons `n solidariteit met die kerk.

Uit ander bekendes se gepubliseerde onbehae met die kerk en uit gesprekke met lidmate wat nie meer die plaaslike kerk as geestelike tuiste ervaar nie, blyk dit dat ten minste vir sommige van hulle die kerk bloot `n samevatting van alle en allerhande frustrasies is, want hoor ek:
as die kerk moet praat , swyg sy; as sy moet swyg, praat sy en dan boonop uit meer as een mond; as sy seker moet wees , is sy onseker; as sy versigtig moet wees, is sy arrogant selfversekerd; sy lei nie met `n ferm hand nie; sy gee nie ruimte vir eie inisiatief nie; sy vereenselwig haar met sekere groepe se belange; sy vereenselwig haar nie met die haglike lewensomstandighede van sommige mense  nie; sy verander nie of dan in elke geval te stadig; sy verander maar dit is eerder deformasie as reformasie; in die kerk gaan alles te demokraties; die kerk behandel mense as onmondiges…

En nou :
Ek weet die beste stuurman staan altyd aan wal, maar ek vergeet dit so dikwels. Ek vergeet dit wanneer ek naywerig ander hulle spesifieke en daarom beperkte gawes misgun en nie aanvul met my spesifieke en beperkte gawes nie. Ek vergeet dit wanneer ek `n sondige behoefte aan selfregverdiging vir sekere versuime of sekere wyses van optrede laat seëvier.

Ek weet hoe algemener die kritiek is, hoe skerper, liefdeloser en nutteloser. Kritiek op die kerk sonder `n duidelike plaaslike adres en sonder konkrete inhoud, sê meer oor myself as oor die kerk. Ek vergeet dit so dikwels.

Ek weet dit is waar wat Noordmans iewers oor die kerk skryf: “Als contemporaine verschijning heeft ze geen gedaante of heerlijkheid. In die historie imponeert ze altijd.” Ek vergeet dit handig op sekere tye. Ek weet dit is soos wat Rykie van Reenen gesê het: “Net iemand wat sy kerk so liefhet soos Willie Jonker, het liksens om so oor haar te skrywe.”

As jy ook so vergeetagtig is, hoop ek jy het ten minste `n leerlingliksens!

Tallie van den Heever

Trackback from your site.

Leave a comment