Mensliewende kritiek is kritiek sonder verdagmakery

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

In `n boekie “Verontrusting en Verantwoordelijkheid” skryf GC Berkouwer in die laat 1960`s `n hoofstuk oor verdagmaking. Hy gee hieraan aandag n.a.v. die waarheidseis t.o.v. gesprekke binne die kerk. Hy verstaan verdagmakery o.a. as karikaturisering en mistekening van ander se standpunt. Hy skryf “… dat in een collectieve sfeer van verontrusting, van actie en reactie allerlei verschijnselen kunnen optreden, die maar moeilijk van de verdachtmaking -als mistekening- vallen te onderscheiden.” Dit kan wees omdat ons ander se standpunt nie goed verstaan nie. Ons bedoel dalk goed genoeg, maar ons luister en lees nie goed genoeg nie. Of ons eis vir onsself goeie motiewe op, maar ander se bona fides word ontken.

Elke konflik roep die demone van die verwydering op wat konstruktiewe gesprek verydel. Hulle is legio, maar die volgende tel hieronder: Onbillike tipering en etikettering o.a. deur ongenuanseerde gebruik van suggestiewe woorde soos “dwaalleer”, “relativisties”, “fundamentalisties”, “vrysinnig” en “modernisties”; voortydige onderbreking van gesprek (voordat besinning voldoende gekristalliseer het); onvermoë om te onderskei tussen feit en eie interpretasie; vae , suspisieskeppende en kontekslose verwysings , bv. “Ek het `n kweekskooldosent hoor sê dat…!” en negering en verswyging van kontra-informasie, dit is om die oë te sluit vir inligting wat nie jou standpunt ondersteun nie. In die wetenskap is dit professionele selfmoord, in `n gesprek dikwels karaktermoord.

Berkouwer verwys na die integralisme ,`n anti-modernistiese beweging aan die begin van die neëntiende eeu in die Rooms-Katolieke kerk. Sy bron beskryf dit as georganiseerde waaksaamheid, vol ongegronde verdagmakery, stelselmatige begripsvertroebeling, liefdelose sameswerings en `n stelselmatige lasterveldtog. Wat begin as waak oor die suiwere leer en dalk selfs liefde vir die waarheid, ontaard a.g.v. die demone van verwydering, in `n liefdelose lasterveldtog. Berkouwer waarsku teen die trek van `n goedkoop parallel, maar sê hy wil slegs wys op die gevare “die juist de strijd om de zuiverheid kunnen bedreigen in niet zorgvuldige analyse…, in vermoedens en achterdocht, de niet kloppende en daarom niet apellerende aanklachten in onproportionele gestalten en informatie.” Dit begin dan in die kerk lyk soos `n woestyn sonder lafenis.

Juis wanneer ingrypende vrae en verskille aan die orde kom, is uitvoerige gesprek nodig en moet die verskille getoets word sonder “enige mistekening, generalisering en suggestie.” Pastoraal sluit Berkouwer sy hoofstuk af deur te wys dat die pad van die geloof gevaarlik is. “Maar we moeten het elkaar niet moeilijker maken en we mogen elkaar niet in de reactie drijven door achterdocht en verdachtmaking.” Daarvoor is die opdrag tot dra en beskerm van die waarheid te diep, te wyd en te ernstig.

Kritiek met liksens is beide waarheids- en mensliewend. Dit is nou maar die aard van die waarheid wat in die kerk ter sprake is.

Tallie van den Heever

Trackback from your site.

Leave a comment