Onderskeidingsvermoë

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

John Stott oor soms “niks doen”

‘n Vriend uit die Anglikaanse kerk vertel my dié vakansie ‘n baie mooi storie oor John Stott, die bekende en geliefde evangeliese leier in Brittanje.
     Stott het iewers op ‘n plek opgetree en na die tyd kans gegee vir vrae. Een van die vrae was oor die bearbeiding van die jeug in ‘n kleiner plattelandse gemeente. “Wat doen ‘n mens”, wou die persoon weet, “as jy versoek na versoek rig vir vrywilligers wat kan help met jeugwerk in die gemeente en daar is niemand wat na vore kom nie?” Stott se antwoord was baie kort en baie onverwags. “Niks nie”, het hy gesê.
     Die verhaal het my die afgelope tyd baie laat dink.
     Ek dink nie Stott wou met die antwoord iets oor die belangrikheid (of onbelangrikheid!) van jeugwerk sê nie. Ons kan sekerlik ook nie daarvan `n algemene reël maak oor hoe om moeilike probleme in die gemeente te hanteer nie.
     Ek dink hy wou iets sê oor prioretisering in die bediening en veral oor sensitiwiteit vir die leiding van die Gees.
     Agter sy opmerking moet ons waarskynlik die Nuwe Testament reël hoor dat as daar werk gedoen moet word in ‘n gemeente, die Gees die mense en die gawes daarvoor sal gee. Wat ook beteken as daar niemand is wat kans sien daarvoor nie, moet ons die saak dalk vir ‘n wyle daar laat.
En konsentreer op ander sake!
     Die teologiese woord hiervoor is onderskeidingsvermoë (Engels: discernment) en dit is wonderlik dat al hoe meer mense bewus raak van die woord en oor die saak begin dink. Pat Keifert het ons gehelp daarmee en Frederick se boek (en kursus) help ons verder oor hoe ons die proses in gemeentes gesamentlik kan hanteer.
     Geestelike onderskeidingsvermoë is altyd belangrik, maar nog meer so in moeiliker tye waar werkkragte nie besonder volop is nie en waar energievlakke nie besonder hoog is nie. Ek dink die onseker situasie in ons land en kerk tans vra dat ons baie mooi sal dink oor wat ons doen in die gemeentes. Op baie plekke in ons land is daar eenvoudig meer probleme en uitdagings as wat een gemeente kan hanteer. Dan moet ‘n mens vra wat is die sake wat nou hanteer moet word en wat sal dalk kan wag tot later.
     Ek het vroeg in my lewe al agtergekom dat van die moeilikste keuses in die lewe nie altyd tussen reg en verkeerd is nie, maar tussen wat wesenlik belangrik en minder belangrik is.
     In Stott se teologie het die Gees en die leiding van die Gees ‘n belangrike rol gespeel. “Niks doen” is nie ‘n oplossing as jy nie in die proses ook leer luister na die Gees nie. Dit is iets waarin ons as gereformeerdes wel op papier glo, maar wat die meeste van ons nooit behoorlik leer doen het nie. Dalk is dit iets wat ons in die Calvyn-jaar kan probeer aanleer! Ons gaan dit die volgende paar jaar nodig hê.

Dit lyk my dat daar ten minste vier elemente is wat ‘n plek moet kry in hierdie proses:

  • ‘n Goeie verstaan van en ‘n oortuigde geloof in die werklikheid van die Heilige Gees en sý teenwoordigheid en leiding in ons lewens;
  • ‘n gereelde, verwagtingvolle omgang met die Woord, wetende dat dit die primêre instrument is waardeur die Gees ons lei;
  • gereelde en diep geloofskontak met broers en susters rondom ons – met dié naby aan ons wat soos ons glo, maar ook met hulle verder weg wat op punte dalk van ons verskil;
  • dat ons vaste tye sal skep waar ons stil genoeg word om die Stem van die Here te hoor.

Vir baie van ons – besige dominees – is die laaste een dalk die moeilikste.

Coenie Burger

Trackback from your site.

Leave a comment