Ons het mekaar toe nie regtig leer ken nie …

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Ek het dit so `n agtien maande terug vir die eerste keer begin registreer.  Hoewel die verskillende ras- en taalgroepe in ons land sedert die 1990’s baie meer kontak met mekaar het, het ons mekaar nie regtig op `n dieper vlak leer ken nie.

My indruk is dat ons heelwat kontak oor rassegrense heen het, maar dat die ontmoetings feitlik deurgaans oppervlakkig en funksioneel is.  Ons sien mekaar by die werk en by winkels, maar kry selde die geleentheid om mekaar as mense dieper te leer ken.

Ons besef dit nie altyd nie, maar daar is `n reuse verskil tussen kontakontmoetings en dieper verhoudings.

Kenners sê dat ons tussen vier soorte verhoudings kan onderskei.  Jy kry publieke verhoudings en sosiale verhoudings waarin die interaksie redelik oppervlakkig is.  En dan kry jy persoonlike verhoudings en intieme verhoudings waar mense mekaar dieper leer ken.  Onnodig om te sê: daar is `n groot verskil tussen publieke verhoudings en bv persoonlike verhoudings. Daar is goed wat kan gebeur in persoonlike verhoudings, maar wat nooit in publieke of bloot sosiale verhoudings sal gebeur nie.

My indruk is dat ons interrassige kontak, in bg terme, meesal publiek is, soms sosiaal – maar baie selde meer as dit.

Dat ons meer kontak met mekaar het as in die verlede is natuurlik `n wins. Maar dit hou ook gevare in. Dit kan ons mislei om te dink dat ons mekaar ken, terwyl ons – in werklikheid – van mekaar se binnekante, van mekaar se dieper menswees bitter min verstaan.

Dit is baie jammer dat dit so is.  Die opvlamming van rassevooroordeel wat ons nou weer in ons land sien, sou dalk minder dreigend gewees het, as ons mekaar teen die tyd `n bietjie beter geken het.

Ek is veral hartseer dat die kerke nie `n beter rol in die verband kon speel nie.

Ons moes dit kon doen.

`n Groot deel van die evangelie van Jesus Christus gaan juis hieroor.  As ons verhouding met God regkom, begin dink ons ook anders oor ander mense.  Ons raak meer oop, meer genadig, meer versoenend, meer aanvaardend.

As ek dit sê, kom twee verhale by my op. Toe die NG Kerk in 2004 lid geword het van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het ek die eerste keer `n byeenkoms van die Raad bygewoon.  Ek was nie doodseker wat om te verwag nie. Ek het  my gereed gemaak dat daar seker weer heelwat oor apartheid en die verlede gepraat gaan word.

Daar was diè dag baie min daarvan. Van die heftigste gesprek het gegaan oor matriekafskeide!  Daar was `n voorstel waarin gevra is dat kerke iets moet probeer doen aan matriekfunksies waar kinders te veel geld spandeer en te veel drink!  Terwyl ek na swart moeders se besorgde pleidooie vir hulle kinders geluister het, het ek besef: hierdie is mense soos ons.  Dis gewone ouers wat, soos ons, drome droom vir hulle kinders. En wat, soos ons, dikwels bekommerd is oor hulle kinders.  Dis ouers wat, soos ons, saans wakker lê en bid vir jou kinders as hulle uit is en die Here dank as hulle veilig by die huis kom.

Dit is ongelooflik jammer dat ons nie meer kans kry om die kante van mekaar se lewens te sien nie.

Die tweede verhaal gaan oor `n wit gesin waar een van die kinders gediagnoseer is met `n ongeneeslike siekte.  Terwyl dokters gedoen het wat hulle kon, was dit vir die familie `n groot troos dat baie vriende vir hulle gebid het in die tyd.

Die beste verrassing was toe die ma eendag by `n vriendin hoor dat daar `n groep huiswerkers is wat ook – sonder dat sy daarvan geweet het – vir haar kind bid.

Die vriendin het die storie by hààr huishulp gehoor.  Een van die vroue wat saam met haar werk toe ry, het die huishulp gesê, het hulle vertel van die familie waar sy werk se kind wat baie, baie siek is.  Hulle was so geraak deur die familie se nood dat hulle begin bid het vir die kind. Elke oggend as die taxi hulle aflaai, het iemand in die taxi gebid vir die wit kind wat siek is.

Daar is seker harde, ideologiese rassiste in ons land aan wie min salf te smeer is. My ervaring is dat die meeste mense in ons land nie so is nie. Daar is `n basiese welwillendheid en menslikheid by die meeste van ons mense.  As ons mekaar beter kan leer ken, glo ek, kan rasseverhoudings ingrypend verbeter.

As die Here sy kinders in die land se oë kan oopmaak om mekaar raak te sien en regtig te leer liefkry, kan dit `n groot verskil maak…

Coenie Burger

Trackback from your site.

Leave a comment