Richard Osmer oor praktiese bedieningstake

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Op ‘n verrassende manier is Richard Osmer se nuwe boek, Practical Theology, An Introduction (2008), ook van besondere betekenis vir die gemeentedominee. Osmer is professor by die Princeton Teologiese Seminarium en bekend vir sy publikasies oor lering in gemeentes, soos A Teachable Spirit en The Teaching Ministry of Congregations.

Hy beskryf die vier take van Praktiese Teologie op só ‘n manier dat mens net weet: dit is ook jou taak, die hele leierskap se taak, in die gemeente.  Osmer praat doelbewus van congregational leadership” waarin hy nie net met predikante rekening wil hou nie.

Na aanleiding van konflik in sy eerste gemeente rondom aanpassings op die terrein van die kerkgebou, verduidelik hy dat die teologiese take die volgende is:

1.  Priesterlike luister : “what is going on in this situation?”. Hierdie is die beskrywend-empiriese taak. Hoe verstaan en interpreteer ons in die gemeente hoe dinge in mekaar steek. Dit kan geskied rondom ‘n episode in die gemeentegeskiedenis, of vanweë ‘n situasie wat ontwikkel het, of na aanleiding van die konteks.

2.  Wysheid: “why is this going on?” Hierdie is die interpreterende taak waar deur middel van verskillende interpreterende lense gevra word na die dinamika van die gebeure.

3.  Normatiewe taak : “what ought to be going on?”. Hier is profetiese onderskeiding nodig wanneer oor die geïnterpreteerde praktyke gepraat word.

4.  Praktiese taak – dienende leierskap : “how might we respond?”. Hoe kan ons lei op ‘n manier wat getrou aan die evangelie en effektief is?

Gemeenteleiers as interpreterende gidse

Osmer werk met Charles Gerkin se konsep van die pastor as interpreterende gids. Die pastor het in die moderne wêreld sy outoritêre, hiërargiese gesag en dus sy “reg om gehoor te word” verloor. Dit open egter die moontlikheid dat die pastor meer in kontak met die leefwêreld van mense kan kom, in die vel van die konteks kan inklim, en saam met lidmate op reis kan gaan. Saam gaan hulle na ‘n nuwe landskap, verken dit, interpreteer dit en maak sin daarvan. In hierdie benadering word interpretasie die sentrale taak – soos beliggaam in die vier take wat hy identifiseer.

Osmer skryf oor mense as interpreterende wesens, en praat oor die spiritualiteit van gemeentelike leiers wat op ‘n toepaslike manier begelei deur dialoog tussen die leefwêreld en die normatiewe bronne van die Christelike geloof begelei. Hy doen dit op ‘n werklik verhelderende wyse.

Priesterlike luister

Die eerste taak, priesterlike luister, verg ‘n “spirituality of presence” van leiers. Vir leiers beteken dit om aandag te gee aan ander in hul spesifieke uniekheid en andersheid in die teenwoordigheid van God. Die sleutelwoord is “attending” – wat bou op die Heilige Gees se gemeenskapsvormende teenwoordigheid in mense se lewens.

Die vorming van nuwe gemeenskap veronderstel priesterlike luister. Hierdie soort luister is nie net ‘n leierskapstaak nie, maar die werk van die hele gemeente. Natuurlik is dit ook ‘n leierskapstaak. Wanneer ons bid, bid ons nie net oor of vir mense nie, maar treen namens hulle by God in – wat luister veronderstel. Wanneer gepreek word, word die teks in verband gebring met die konkrete spesifiekheid van die leefwêreld, wat luister veronderstel.

Daar is ‘n kontinuum van luister en aandag gee – van informele tot formele luister of ondersoek. Hy moedig alle vorme aan – van ‘n informele bewussyn tot meer formele ondersoeke, ook navorsing, in gemeentes.

By ‘n volgende geleentheid skryf ek meer oor die ander drie take wat Osmer identifiseer.

Danie Mouton

Trackback from your site.

Leave a comment