Vir alles wat God werd is

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Dis so min of meer ‘n direkte vertaling van die titel van Tom Wright se boekie oor ware aanbidding en die roeping van die kerk. Wanneer Wright  vanuit ‘n soliede Nuwe Testamentiese opstandingsmotief nadink oor die mees sentrale en wesenlike dimensie van kerkwees in die wêreld vandag, naamlik egte aanbidding, dan is dit sy oortuiging dat ‘n fokus op die Trinitariese persoonlikheid van “the God Who is worthy of praise” die hartklop daarvan uitmaak. Om God in gees en in waarheid te aanbid, beteken vir Wright om die grootheid en liefde van God te vier. Wie God self is in sy drievoudige bekendmaking van Homself, is die enigste en beslissende rede en grondslag vir die mens se hart en gedagtes om meegevoer te word in handelinge van opregte aanbidding. Met ‘n baie beskrywende woordspeling toon Wright aan dat: “Worship is derived from ‘worth-ship’: it means giving God all he’s worth.”
     Daarom gee Wright ‘n treffende omskrywing van die klassieke 1 Korintiërs 13 in praktiese  toepassing op aanbidding wanneer hy dit min of meer soos volg verwoord: “Al praat ons die tale van mense en engele, maar ons aanbid nie die lewende God in egtheid en opregtheid nie, is ons ‘n stuk klinkende metaal en ‘n galmende simbaal. Al het ons die gawes en vermoëns om die liturgie pragtig te organiseer, as dit ons nie regtig help om die lewende God waarlik te aanbid nie, is ons slegs aanskoulike ballet dansers. En al het ons die vloer van die kerk oor geplavei en al die mure gedekoreer, die begroting laat klop en die mense op vermaaklike maniere besig gehou, as ons nie die lewende God aanbid nie, dan is ons niks. Aanbidding is nederig en bly; aanbidding vergeet van dit self terwyl dit God onthou; aanbidding vier die waarheid as God se waarheid, nie sy eie nie. Ware aanbidding sit nie ‘n vertoning op of maak ‘n groot sensasie nie; ware aanbidding is nie geforseerd nie; dit is ook nie half-hartig nie; dit hou nie aan om na die horlosie te kyk nie en dit is nie bekommerd oor wat die persoon in die volgende bank besig is om te doen of te dink nie. Ware aanbidding is oop vir God, is verwonderd oor God, wag op God en vertrou God van harte selfs in die donker tye.
     Aanbidding sal nooit ophou nie; As daar geboue is, hulle sal vergaan, kommissies sal aan die slaap raak en begrotings sal uiteindelik tot niks kom nie, want ons bou vir die hede, ons bespreek vir die hede en ons betaal vir die hede, maar wanneer die toekomstige tyd van God se teenwoordigheid kom, sal die dinge van die hede verbygaan. Want in die hede sien ons nog die skoonheid van God deur ‘n donker gebreekte glas, maar in die toekomstige tyd sal ons Hom van aangesig tot aangesig sien; nou waardeer en vier ons maar nog gedeeltelik, maar dan sal ons God volkome ken en waardeer en geniet en liefhê. Dus nou is ons verantwoordelikhede om te aanbid, om gestuurdes te wees en om God se huishouding te bestuur, maar die grootste van hierdie drie is om te aanbid.”
     Die lees en oordink saam met Wright oor die diep grypende fasette van  hierdie lewensfaktor van die christelike gemeente laat mens nogal wonder wanneer jy Sondag na Sondag by die erediens kom en na 45 minute weer daar weggaan.
Jan Woest

Trackback from your site.

Leave a comment