Wanneer gemeentes dien, mag hulle bid

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Wanneer Barth die dag na sy verjaardag ‘n oggend oordenking formuleer, kies hy om oor die gemeente van Christus as ‘n dienende gemeenskap te besin. Vir hom is dit onmiskenbaar die wesenlike karaktertrek van die kerk dat God haar in die lewe geroep het om as diakonale gemeenskap te bestaan ter wille van en vir die wêreld waarin sy teenwoordig is. Wanneer die kerk dit begin vergeet is sy besig om haar diepste lewensmoontlikheid prys te gee. Sou die kerk met baie ander dinge besig wees en diens aan die swakke, noodlydende en veronregte in die wêreld nalaat, is sy besig om haar ware identiteit te verloën en in der waarheid ‘n soort verbloemde praktiese ateïsme te bedryf. God is God in sy liefde vir sy skepping en al die mense wat daarin woon. So laat Hy Homself ken in die drievoudigheid van sy openbaring. Daarom het Hy die Seun van sy liefde gestuur (Joh 3:16) en daartoe het Hy die Gees van liefde uitgestort (Rom 5:5). Vir die mense wat Christus se Naam ken en bely om dus by hulle ewe mense se praktiese en konkrete omstandighede van sukkel en swaarkry verby te leef, terwyl hulle probeer om God te aanbid is ‘n teologiese onmoontlikheid. Dit grens aan waansin vanweë religieuse sinsbedrog. Slegs wanneer Christus se gemeentes die swaarkry en seerkry mense van die wêreld dien, mag hulle tot die God van liefde en genade bid. ‘n Gemeente se liturgie rus op haar diakonie en haar diakonie impliseer dat haar liturgie eg is. Hierdie twee dimensies van gemeente-wees is wedersyds impliserende werklikhede.

Vir Barth is dit belangrik dat hierdie onverhandelbare wete tog nie maar net ‘n gedagte is wat teoloë met mekaar oor sal gesprek voer nie, maar dat dit die lewenspraktyk van elkeen van die lede van die gemeente sal wees. Immers ‘n mens dien mos nie ‘n ander mens sonder om met lyf en lippe, hande en voete en vermoë en energie by hulle lewens en lot betrokke te raak en iets aan hulle ervaring van die lewe te probeer verander nie.

Wanneer dienende gemeentes bid is dit dan moontlik om met oorgawe, oortuiging en ook weerklank “‘n nuwe lied” te sing te midde van al die wanklanke wat op soveel plekke opklink. Dis klaarblyklik juis omdat Barth op 10 Mei, die dag van sy verjaardag, oor Openbaring 4 vers 9 se “nuwe lied”  nagedink het, dat hy op die eerste dag van sy nuwe lewensjaar, met passie skryf oor die noodsaak dat gemeentes wat wil bid tog sal weet en onthou dat hulle allereers bedoel is om diensgemeenskappe in die Naam van die Here wie hulle aanbid  te wees.

Jan Woest

Trackback from your site.

Leave a comment