{ARGIEF}

Cicero het al meer as tweeduisend jaar gelede gesê dat dankbaarheid die moeder van alle deugde is. Tog sukkel ons almal soms daarmee. Daarom bly een van die aangrypendste verhale in die Bybel vir my die een in die Lukas Evangelie, waar vertel word van die tien melaatse manne wat deur Jesus genees is en hoe net een, `n Samaritaan, dan omdraai om vir Jesus dankie te sê. Dankbaarheid is die geheue van die hart, het JB Massieu op `n keer gesê, maar ons vergeet vinnig. Vandag wil ek egter dankie sê.
Die Wêreldbeker het gekom en gegaan. Die doemprofete is verkeerd bewys, die wêreld het opnuut kennis geneem van ons broos landjie se vermoë om elke keer weer op te staan en almal te verras. Suid-Afrika het haar arms vir die wêreld oopgemaak en die wêreld se sinisme het in verwondering verander. Die stories wat ons hoor is oorweldigend en maak jou trots en dankbaar om in Suid-Afrika te woon. `n Kollega vertel dat `n taxibestuurder nou die dag by `n stopstraat oorleun en vir sy vrou sê: “Ai Mevrou, dit is so lekker om so met mekaar te kan praat. Kan dit nie maar na die World Cup so aangaan nie?”
“Jul grootste bate in Kaapstad,” het die buitelanders gesê, “is die berg, Kaappunt en die wonderlike mense!” Daar is oneindig meer sulke ervarings om te deel.
Die vraag is egter: Was dit alles toeval? Was ons sogenaamde planete maar net vir `n slag in `n ry? Is ons regtig ouliker as wat ons meestal dink? Selfvoldaanheid stuur nogal maklik op `n ramp af. Dit wys die geskiedenis. Daarom wil ek vandag net dankie sê.
Ek wil dankie sê aan `n Skepper God en Vader wat voortgaan om ons te verras. Deur sy skepsels gaan hy met sy skeppingswerk voort hier onder ons. Ek wil dankie sê aan Jesus Christus wat sy onverdiende genade uitstort op ons en sy spreekwoordelike reën laat val op die goeies en die slegtes. Ja, Hy seën soms veel meer as net diegene wat ons dink seën verdien. Ja, God het meer kinders vir wie Hy lief is, as wat ons besef. Ek wil dankie sê vir die Heilige Gees wat in en deur ons werk en die wêreld laat besef het dat daar iets in ons is wat anders is.
Dankie liewe Heer, dat ek op hierdie tyd in Suid-Afrika mag woon. Dankie vir die ingenieurs, bestuurders, tegnici, die vrywilligers, polisie, die gewone werkers en al die ander wat met lang ure en baie sweet die stadions, die lughawens en infrastruktuur daar gestel het en wat die wêreld se asem weggeslaan het. Dankie vir die hoop wat dit laat groei het dat dit nie die laaste keer hoef te wees nie, maar dat dit weer en weer kan gebeur. Dankie vir `n oomblik van welwillendheid en vrede in `n wêreld vol konflik en vooroordele. Dankie Heer vir dit wat ons nie eers altyd besef uit U hand kom nie.
Maar nou bid ek vir nederigheid en afhanklikheid onder ons mense. U ken die uitdagings van ons dag. Daar is berigte oor vreemdelingehaat en sommige kritiese doemproefete kan seker nie wag om voort te gaan met hul afbrekende kritiek nie. U ken hulle wat wil verdeel en teer op konflik. Bewaar ons Heer in hierdie dae. Mag dankbare harte ons dring om voort te gaan om met geloof, hoop en liefde, U kinders te wees in die wonderlike land waarin ons mag woon.