Dinsdag 14 Desember: Die doop en die dood

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Gistermiddag het ek twee besoeke hier in die gemeente by lidmate afgelê. Die eerste was ’n doopgesprek met lidmate wat die 26ste Desember hul pragtige baba-dogtertjie doop. Jessika het rustig in haar ma se arms gelê terwyl ons oor die wonder van die verbond, God se vrye liefde en genade en veel meer gesels het. Ons het gepraat oor die bonatuurlike wonder van die Skepper van die heelal wat by magtelose, afhanklike kindertjies betrokke raak, hul wil nader trek en seën. Die gesprek was vol vrede, hoop en verwagting. Ek is daar weg met ’n dankbare hart.
Toe is ek na ’n lidmaat wat sterwend is aan breinkanker. ’n Paar maande gelede het ek hom nog by ’n konferensie raakgeloop. Die kanker moes sekerlik toe al in hom gewees het, maar ons het dit nie gewet nie. Sy kinders en kleinkinders was daar. Hy het stil na die plafon lê en staar. Ons kon reguit praat. Sy vrou was by met oë wat dikwels vol trane geskied het… en tog was daar ’n vreemde vrede in die vertrek.
Toe ek huis toe ry kon ek nie anders om te dink oor hoe groot die kontras tussen die twee besoeke was nie en tog het ek geweet dat God in albei was. Ek het gedink oor die werk van ’n predikant. Hoe groot voorreg en verantwoordelikheid dit is om so toegelaat te word in van die mees intieme oomblikke in mense se lewens. Hoe is dit moontlik? Net wanneer Christus deur sy Heilige Gees ons almal saambind in lewe en sterwe, in trane, hoop en vreugde.

Trackback from your site.