{ARGIEF}

Verlede jaar sit ek in een van Amanda Strydom se vertonings by die KKNK en luister na haar liedjie “Kom tot die punt”. Vooraf deel sy haar frustrasie met predikante wat te dikwels al om `n saak praat. Ek is `n groot aanhanger van Amanda, maar dié een het seergemaak, waarskynlik omdat sy `n punt beet het. Die afgelope tyd het ek meermale die kritiek gehoor dat die kerk met vae, geykte retoriek baie praat en tog min sê.
Ons het al voorheen in dié rubriek gepraat oor helderheid te midde van kompleksiteit. Deesdae gaan daar al meer stemme op wat sê dat helderheid (“clarity”) die wagwoord behoort te wees vir enige kerk, organisasie en selfs besigheid wat in vandag se robuuste en deurmekaar tye wil oorleef. Dit sluit in helderheid oor jou bestaansdoel, sowel as helderheid oor die waardes en prioriteite waarmee jy werk. Daaruit behoort dan helder, duidelike en eenvoudige kommunikasie te vloei. As jy daaroor nie duidelikheid het nie, is jy in die moeilikheid.
Wanneer ‘n mens egter met spesifieke kwessies begin werk, is dit nie altyd so maklik om vinnige en eenvoudige antwoorde te gee nie. Die onrus op plase en selfs die konflik in Palestina, is maar twee onlangse voorbeelde. Hoe nou gemaak?
Die eerste logiese stap is om seker te maak dat jy met die regte feite werk. Daar is `n uitdrukking wat sê dat die eerste slagoffer in enige konflik gewoonlik die waarheid is. Die waarheid kom op die langtermyn meestal aan die lig, maar op die korttermyn sneuwel dit dikwels. Dit het ons weer eens in die onlangse konflik gesien. Vir die kerk is dit dus altyd nodig om, so ver as moontlik, werklik ingeligte uitsprake te maak.
Die tweede stap is om te verstaan en vrede te maak daarmee dat die wêreld daarbuite dikwels “duidelikheid” verwar met “my eie siening”. Jy moet asseblief duidelik praat, maar asseblief net nie met my verskil nie. Om maar weer die huidige landboukrisis as voorbeeld te neem. Sê jy duidelik dat jy meen dat `n netto R70 per dag nie `n menswaardige loon is nie, “verstaan jy nie die ekonomiese werklikhede van die landbou nie”. Sê jy duidelik daar is ekonomiese realiteite wat in ag geneem moet word, “is jy vir die boere en teen die armes”.
Maklik sal dit nie wees nie, maar wie op ingeligte wyse vashou aan kernwaardes en opreg soek na God se leiding, mag dalk net vind dat ‘n paar helder woorde in deurmekaar tye nie onmoontlik is nie.
Intussen het ek glashelder duidelikheid daaroor dat ek God bo alles moet liefhê en my naaste (wat meer insluit is as net my eie mense) se belang bo my eie moet stel. Ek het groot duidelikheid dat die radikale, konsekwente uitlewing van die evangelie van Jesus Christus in hierdie komplekse land van ons, `n wesenlike verskil kan maak.