{ARGIEF}

`n Uittreksel uit `n brief wat hierdie week na alle leraars in die Wes-Kaap gegaan het:
’n Mens hoor deesdae dikwels die vraag of dit nie dalk net ’n kwessie van tyd is voor die NG Kerk haar deure toemaak nie? Dan word die krimpende getalle veral as rede aangevoer. Natuurlik is daar ook diegene wat graag sou wou sien dat dit gebeur en hierdie persepsies graag op verskillende maniere aanvuur. Vandag dus net ’n paar kort woorde hieroor.
Hier in die moderatuur glo ons dat ons eerlik, realisties en deursigtig moet wees. Een van leierskap se groot funksies is om die werklikheid so akkuraat en noukeurig as moontlik te probeer definieer. Dit help nie om mense ’n rat voor die oë te probeer draai nie. Dit mag op die korttermyn werk, maar op die langtermyn is dit nie volhoubaar nie. So wat dink en sê ons oor sulke praatjies?
In die eerste plek is ons baie realisties dat daar heelparty faktore is waaroor ons min beheer het en wat die getalle van die NG Kerk in die volgende jare nog negatief kan beïnvloed. Hier dink ons aan dinge soos demografie (dalende geboortes en emigrasie), sekularisasie, die negatiewe beeld wat die kerk weens apartheid saamdra en meer. Ons wil dit beklemtoon dat ons tans van ’n marginale daling praat. Verlede jaar was dit 2%! Wat wel waar is en ons weet dit, is dat veral van ons plattelandse gemeentes swaar trek. Dit het veral te doen met ’n massiewe verstedelikingsproses en dinamika wat veral in plattelandse skole afspeel.
Aan die ander kant is daar steeds meer as ’n miljoen lidmate wat die voorreg geniet van ’n uitgebreide infrastruktuur, wonderlike mense-kapasiteit, ’n lang tradisie van evangelisasie, woordverkondiging en naaste diens en veel meer. Ons oordeel dus nugter dat daar ’n verdere daling in getalle mag voorkom, maar dat enige stem wat dit tot die somtotaal van die NG Kerk se toekoms sou verhef met ernstige misleiding en vertekening van die werklikheid besig is.
Om verskeie redes glo ons egter ook vas dat die IMPAK wat die kerk op die Suid-Afrikaanse samelewing kan hê, in die volgende jare kan verhoog. Die vraag is dus nie net hoeveel mense daar ”op die kerk se boeke” is nie, maar belangriker nog, watter verskil die mense wat daar wel is, in die gemeenskap maak? As ons geen verskil maak nie, het ons geen bestaansreg nie.
Ons is dus baie dankbaar oor die passie en ywer waarmee soveel gemeentes steeds hul evangeliese roeping in ons land leef. Ons glo dat die verlossingsboodskap van Jesus Christus ’n daadwerklike verskil in mense se lewens kan maak. Ons glo dat ons die kapasiteit het om ’n enorme konkrete verskil aan die nood in ons land te maak. Ons glo dat ons steeds ’n versoeningsrol kan en moet speel. Ons glo dat ons eilande van hoop in ’n broos konteks kan wees.
Dit gaan van ons ‘n paar goed vra. ’n Toegewyde fokus op en verbintenis aan die Drie-Enige God. ’n Nuwe dissipline, werketiek en morele waardestelsel. ’n Verbintenis tot gesamentlike en persoonlike geloofsonderskeiding om regtig te bepaal wat die belangrike goed is wat ’n verskil kan maak en wat die minder belangrike goed is, wat ons soms baie besig hou, maar wat geen werklike verskil maak nie.