{ARGIEF}

’n Mens hoor soms dat mense baie maak van die sogenaamde “metaforiese” opstanding van Christus. Daarmee word gesê dat die Bybel eintlik net “metafories” oor die opstanding praat. Die probleem is dat daar binne die teologie erken word dat daar velerlei interpretasies aan die woord (“metafoor”) geheg word.
Kom ons hou dit egter eenvoudig. Veral twee interpretasies tree na vore. Die eerste is dat die opstanding steeds as WERKLIK aanvaar word, maar dat ons vanweë die ondeurgrondelike en in menslike terme, “onverklaarlike” daarvan, WOORDE wat dit beskryf , “metafore” noem. Die opstanding bly egter ’n werklike gebeure. Oor die presiese “hoe” weet ons nie, maar oor die “dat” (dat Hy opgestaan het) twyfel ons nie.
Die tweede interpretasie is dat “metafories” verstaan word as FIGUURLIK. Dan is die Evangelies se verwysing na hierdie gebeure bloot mites wat ons moet inspireer soos ook ander verhale en mites uit ander geloofstradisies dit wil doen.
Die eenvoudige vraag aan elke gelowige is waar jy hiermee staan?
In die verlede het ek dit al duidelik prober stel, dat wanneer die Bybel van ’n “opstandingsliggaam” (1Kor.15) praat ons hier van ’n meer dimensionele werklikheid praat waarvan ons koppies inderdaad te klein is om als te verstaan. As ons dit erken waarom dan ook nie aanvaar dat die beskrywing “opstandingsliggaam” ook maar menslike pogings is om iets van ’n toekomstige werklikheid te beskryf nie. Die feit dat ons “metaforiese taal” gebruik neem egter nie weg dat ons aan die werklikheid daarvan in ons geloofstradisie vashou nie.
Ek wil alles behalwe puntenerig oor letterlike beskrywings wees. Daarvoor hou ek vir te lank al vas aan die ongelooflike heerlike misterie van die Goddelikheid van Christus. Dit vul my elke dag meer en meer met verwondering. Daaroor wil ek nie stry nie. Oor die werklikheid van Christus se opstanding twyfel ek egter nie. Daarsonder maak min daarvan wat ons glo enige sin.