Donderdag 4 Oktober: Weet ons regtig wat ons sing? Die Burger Godsdiens Aktueel Woensdag 3 Oktober

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Bono, die leier van U2, sou by geleentheid gesê het dat musiek die wêreld kan verander omdat dit mense kan verander. Daar is beslis ’n misterieuse krag opgesluit in musiek. Deur die eeue het dit mense gemobiliseer, getroos en gehelp om uiting te gee aan hul diepste emosies. Dit was so in Bybelse tye en is vandag nog so. Die toonaard van liedere mag verskil, maar dit roer op maniere wat woorde alleen nie kan doen nie. Ons sing as ons bly is en as ons treur.

Leonard Cohen sou waarskynlik nooit in La Scala gesing het nie en tog betower hy steeds, selfs jonger geslagte, met sy melancholiese musiek. Dalk ken en onthou jy die emosie belaaide woorde, “Do you hear the people sing…” uit Les Misérables. Ons weet hoe Europeërs voor rugbytoetse en tydens sokkerwedstryde kan sing. Ek raak elke keer jaloers as ek na die spontane, onbegeleide sang by sinodes en in kerke van my swart en bruin vriende luister.

Calvyn het gesê dat (kerk)musiek die tregter is wat die Woord tot in die hart van die mens moet stort. Dit is alombekend dat bloeitydperke in die kerk se geskiedenis altyd gepaard gegaan het met bloeitydperke in die kerkmusiek. Dwight Moody is byvoorbeeld tydens sy evangelisasie veldtogte, dikwels vergesel deur die sanger Ira Sankey. Dink ook maar aan ons eie Pinksterdienste en die rol wat die Hallelujas gespeel het.

Maar ook politici het dit goed verstaan. Vryheidsliedere het deur die geskiedenis al ’n groot rol gespeel. In ons eie land is dit tans kontroversieel. Dit is nie sonder rede dat “Skiet die boer” en “Bring my masjiengeweer” soveel emosie losmaak nie. Een ding is seker. Musiek is nie iets neutraal nie. Dit is nie sonder impak en effek nie. Dit geld op ’n manier vir alle musiek. Daar kan dus ongelukkig ook ’n donker kant aan musiek wees.

Musiek kan ook goedkoop word. Dink maar aan wat Boney M destyds met Ps 137 gedoen het. Een van die rouste treurliedere oor die Bibiloniese ballingskap is in dansmusiek verander. Die punt is heeltemal gemis.

Dus bly die vraag: Wat sing ons? Waaroor sing ons en watter boodskap dra ons uit as ons sing? Sommige wil beweer dat ons jongmense nie meer sing nie. Hulle luister musiek en kyk musiekvideo’s! Dis natuurlik net ’n halwe waarheid. Gaan kyk maar wat by die Sêr-kompetisies onder studente gebeur. Tog bly die vraag in die lug hang: Waarna luister ons regtig en wat sing ons? Dit verklap iets van ons diepste identiteit en sê iets oor waar ons onsself tans bevind.

Daarom, met erkenning aan al ons kontemporêre skrywers, wag ek op die volgende Afrikaanse Bob Dylan. Ek wag op `n nuwe Händel of Enoch Sontonga. Ek wag op gemeentes wat sommer net sing, sonder ’n kitaar of ’n drom of selfs ’n orrel, omdat die melodie en die woorde so sterk is dat mense gewoon losbars in Geesvervulde lofsang aan God.

Trackback from your site.