{ARGIEF}

Nuusgebeure van die afgelope tyd laat `n mens onwillekeurig die vraag vra oor hoekom die slegte goed om ons oor en oor gebeur en daar nie tog `n plan gemaak kan word nie.
• Hoekom hou die bloedvergieting in die Midde-Ooste nie op nie? Is dit so ingewikkeld om `n ooreenkoms met mekaar aan te gaan, wat aan elkeen sy plekkie in die son sal gee?
• Hoekom slaan `n 16-jarige `n ou tannie van 70 met `n hokkiestok dood ter wille van `n selfoon en beursie?
• Hoekom is dit nodig dat `n pragtige land soos Zimbabwe ten gronde gaan, terwyl die hele wêreld se logika vir jou sê dat dinge veel anders kan wees?
• Hoekom soveel honger, armoede, geweld en korrupsie?
• Hoekom is die wêreld so stukkend?
Die antwoord hierop lê natuurlik op verskillende vlakke. Sommige is eenvoudig en ander kompleks. Die verskriklike werklikheid is dat wanneer `n 16-jarige `n ou dame doodslaan, dit veel meer is as “misdaad”. In die Midde-Ooste kom die konflik oor jare. In Zimbabwe is die probleem groter as Robert Mugabe. Christene het `n verantwoordelikheid om nugter, logies, wetenskaplik en met `n dringendheid na hierdie en ander sake te kyk.
Terselfdertyd is die antwoord eenvoudig. Die wêreld het `n Verlosser nodig! Die wêreld het die krag van die Heilige Gees nodig, wat ons anders laat dink (Rom. 12) en daarom anders laat doen. Wanneer ons nader aan God beweeg, word ingewikkelde dinge eenvoudiger. Slim antwoorde bring ons net so ver. Ons het meer nodig. Dit behoort enige iemand wat ernstig na die geskiedenis kyk, nou te besef.